Pukstudent vas na hy HK-lid glo met skêr aanval

Over De Voor-manskoshuis. Foto: nwu.ac.za

Over De Voor-manskoshuis. Foto: nwu.ac.za

ʼn Derdejaarstudent aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus is vroeg Vrydagoggend in hegtenis geneem nadat hy ʼn huiskomiteelid glo met ʼn skêr aangeval het.

Johan van Zyl, woordvoerder van die NWU, het aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 07:00 in die manskoshuis Over De Voor op die kampus plaasgevind. Volgens Van Zyl het die derdejaarstudent glo vroegoggend harde musiek in sy kamer gespeel. Talle studente het glo gekla waarna een van die HK-lede, ʼn vierdejaarstudent, die student gaan vra het om sy musiek sagter te sit aangesien daar studente is wat nog geslaap het of besig was om te studeer.

Volgens die HK-lid, Hendri van Dyk, het hy die kamer binnegestap en die student gevra om sy musiek sagter te draai. Die student het glo sonder waarskuwing opgespring en Van Dyk drie keer met ʼn skêr gesteek. Volgens Van Zyl is Van Dyk in sy bo-arm, blad en heup gesteek. Van Dyk is nie gehospitaliseer nie en sal later ʼn dokter besoek.

Van Zyl het gesê die beskermingsdienste op kampus is na die koshuis ontbied waarna die polisie ook ingeroep is. Die derdejaarstudent is in hegtenis geneem en van die kampus verwyder. Van Zyl het gesê die universiteit sal wag vir die reg om sy gang te gaan voordat die universiteit sal besluit oor stappe teen die student.

Die polisie in Noordwes het nie onmiddellik verdere besonderhede oor die voorval gehad nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Bruno Stef ·

Na die lees van die artikel hoop ek my vrese is nie dit wat ek vermoed nie.As dit my vermoedens bevestig het sal dit helse ontkennings en verdere harekloof aan die orde van die dag wees om diegene verantwoordelik van die daad as martelaar te laat voorkom.

Adri ·

In die jare toe ek ‘n Puk was (1969 – 1972), het sulke goed nie gebeur nie. Wat, wil ek graag weet, het dan intussen verander? Of mis ek dalk weer iets hier?

Nic ·

Ons moes mekaar geken het daardie jare Adri. Ek deel jou skok. En dan nog in Over de Voor, een van voorste koshuise. Treurige agteruitgang wat die “geskiedenis” gebring het.

NWU-Student ·

Dinge het verander. Dis meer as 40 jaar, niks kan dieselfde wees vir 40 jaar nie.
En Over-de-Voor is nie meer die vooraanstaande koshuis wat hulle eens was nie.

Trotse student. ·

Dit help nie om te veralgemeen nie. Net omdat daar een vrot appel is, beteken dit nie dat die hele koshuis die blaam moet dra nie. Maar net my opinie.

Dave ·

Soos jy self sê, ‘maar net jou opinie’. So sal dit bly… net jou opinie.

Fanie ·

Overs is egter die enigste Manskoshuis op Potch; stuur jul seuns daarheen.

oud student ·

Dis mos hoekom ons moes plek maak vir studente wat verniet swot wat nie weet hoe om n studie geleentheid te benut vir die regte doel nie. By die PUKKE VIR CHO het sulke dinge nie gebeur nie, maar noudat dit NWU is… hoekom moet die reg eers sy gang gaan VOORDAT die universiteit iets doen? Gaan hy dan nou net na n ander kamer of koshuis toe geskuif word as hy terug is of wat?

Frik ·

Adri, jy mis nie iets nie. Vandat die studente mense regte gekry het en nie meer ontgroen word nie, is daar geen dissipline en respek vir jou mede mens nie.

NWU-Student ·

Die sou met of sonder ontgroening gebeur het, dit is die ou self wie aangeval het. En hy is n derdejaar dus was hy nog deel van die “ou” ontgroening

ladybug ·

Kla hom aan van poging tot moord en skop hom uit die universiteit! Gemors soos hy hoort nie op kampus nie.

ek kan hy ‘n moeilikheid maker is van formaat.

Sunette Barnard ·

Dis wat gebeur as studente nie tydens O&B leer waar hul plek is in die koshuis nie. Hulle dink hulle kan doen wat hulle wil, aan wie hulle wil. Hoe minder tradisies daar is, hoe minder respek en trots word gekweek.

Johann Marx ·

As dit ‘n wit student was wat ‘n swart HK lid aangerand het, sou dit so in die artikel gestaan het. Hoekom word dit nou nie gedoen nie? Laat staan die dubbele standaarde en wees konsekwent: publiseer die naam, ras en geloof van almal betrokke…..

Pieter.V ·

Ek weet nie of die aanvaller wit , swart of waste kleur was nie, maar dis onaanvaarbaar wat daar gebeur het, hy moet geskors word en by geen ander universiteit toe gelaat word nie. Want wie wil eendag deur so `n persoon bedien word hetsy hy `n dokter prokureur of predikant is. En dan moet ons ophou om politiek korrek te probeer wees,laat ons se watter ras hy of sy is, want dis verwarrend as daar `n nood oproep uitgaan ,ons moet op die uitkyk wees vir persone wat iemand beroof het of enige ander misdaad gepleeg het.
In Amerikaanse pers word genoem hy of sy is witof swart.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.