Puma Energy: Hier kom die tier in jou tenk!

Puma Energy

Puma Energy

Puma Energy-brandstof gaan van die middel van die jaar in Suid-Afrika beskikbaar wees na ʼn belegging wat tot dusver R200 miljoen gekos het, het African News Agency Vrydag onthul.

Dit sal na verwagting die dominansie van die groot vyf brandstofhandelaars, naamlik Shell, BP, Caltex, Engen en Total en kleiner handelaars soos Sasol uitdaag.

Jason Abrams, handelsontwikkelingsbestuurder by Trafigura, die olie- en metaalhandelaar waaraan Puma behoort, het bevestig dat die maatskappy reeds 40 vulstasies in Mpumalanga en die noorde van KwaZulu-Natal aangeskaf het. Altesaam 19 van hierdie vulstasies sal met die handelsmerk “Puma Energy” spog.

Puma Energy het ʼn groothandellisensie en in Suid-Afrika sal die maatskappy dus nie ook ʼn handelslisensie kan bekom nie. Die maatskappy het gevolglik onafhanklike brandstofhandelaars aangeskaf wat op die groot oliemaatskappye steun vir hul verskaffing.

Die rede waarom Puma in die noordooste van die land begin, is omdat die maatskappy tans bergingsfasiliteite in Matola, Mosambiek, het wat van die staatsbeheerde oliemaatskappy gehuur word.

Puma Energy sal ook teen die einde van die jaar sy eie bergingsfasiliteit by Matola bekend stel wat ʼn groter verskeidenheid en buigsame afleweringstye sal bied.

Abrams het gesê die maatskappy sal eers bykomende bergingsfasiliteite bekom voordat die maatskappy na die res van die land sal uitbrei en bykomende vulstasies sal oopmaak.

Puma Energy is oorspronklik van Argentinië, maar het in 2002 deur die Demokratiese Republiek van die Kongo na Afrika gekom. Puma Energy is nou in 16 lande, Suid-Afrika uitgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Peet Schabort ·

Puma? Maklik om te onthou: dink net aan “Zuma” maar net met meer tier in die tenk . . .

Asjas ·

Ons soek goedkoper brandstof nie iemand om die groot 5 se dominansie te kom join nie.

Pierre Celliers ·

En waar gaan hierdie brandstof vervaardig word? Ek is nie bewus van enige groot aanleg wat hierdie petrol gaan produseer nie. M.a.w dis maar net Sasol wat in jou tenk gaan beland!

Andre ·

Jy het nie die deel raak gelees nie, ne?

“Die rede waarom Puma in die noordooste van die land begin, is omdat die maatskappy tans bergingsfasiliteite in Matola, Mosambiek, het wat van die staatsbeheerde oliemaatskappy gehuur word.”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.