Putco-staking nog nie verby

Argieffoto (Foto: Putco Greater Soweto/Facebook)

Die Putco-busdiens se dienste is teen Dinsdagoggend gedeeltelik hervat ondanks die feit dat van sy werkers steeds by ʼn onwettige staking betrokke is.

Lindokuhle Xulu, woordvoerder van Putco, het aan Maroela Media bevestig dat sy dienste in Gauteng hervat is, hoewel van sy depots in die provinsie steeds deur stakende werkers ontwrig word.

“Busdienste word in gebiede soos Soshanguve, Roseville en KwaNdebele voortgesit, hoewel dit nie op die normale skedules voortgaan waaraan pendelaars gewoond is nie,” sê Xulu.

“Slegs dele van Soweto en Eldorado-park se dienste is nog nie hervat nie, maar ons is seker daarvan dat hierdie gebiede se dienste ook teen vanmiddag voortgesit sal word.”

Sommige werkers staak steeds by Putco se depots nadat die maatskappy Sondag die vakbond Numsa genader het met ʼn nuwe en finale loonaanbod.

Numsa het by die aanvang van die staking twee weke gelede sy gewig agter die werkers gegooi en van hierdie werkers Maandag oor die voorgestelde aanbod toegespreek.

“Putco het Sondag ingestem om ʼn loonverhoging van 6% aan die werkers toe te staan, maar uitgestippel dat dit nie terugwerkend sal wees nie,” sê Phakamile Hlubi-Majola, woordvoerder van Numsa.

“Die busdiens is ook gewillig om werkers se bonusse oor ʼn tydperk van 12 tot 18 maande te betaal.”

Die bestuur het egter aangevoer dat hy nie die 105 werkers wat die trekpas gegee is weens die onwettige staking, sommer weer sal aanstel nie.

“Die werkers wat afgedank is sal ʼn aparte dissiplinêre proses moet deurgaan.”

Die werkers is steeds besig om oor die nuwe aanbod te beraadslaag en sal na verwagting later vandag hieroor besluit. Die werkers wou uit die staanspoor ʼn loonverhoging van 6%, wat terugwerkend is, gehad het, asook betaling van bonusse wat glo vanaf 2020 aan hulle verskuldig is.

Volgens Xulu het die vakbond sy tevredenheid oor die voorgestelde aanbod uitgespreek. Hlubi-Majola kon egter nie enige aanduiding gee wat die stakende werkers se gevoel hieroor is nie.

“Ons hoop dat die aanbod die staking sal beëindig en ons dienste na die gewone operasionele skedules sal terugkeer,” sê Xulu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Di ·

Die wat die trekpas gekry het moet maar geld by die vakbond gaan vra. Daar moet vir eens en altyd ‘n voorbeeld gemaak word van persone wat onwettig staak en chaos veroorsaak. Dis deur hulle EIE toedoen dat hulle nou sonder werk sit. Hulle besef nie dat daar duisende mense daar buite is wat werkloos is en dringend werk soek nie.

marius ·

Glo maar , hulle sal nie teen hul meesters wat die gemors veroorsaak opstaan nie . Afrika bewys dit elke dag al vir eeue lank .

Robert ·

Vakbonde is na my mening ń groot probleem in SA. Veroorsaak net chaos met onrealistiese eise wat gemaak word!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.