Putfontein-moorde: Ma’s vertel van stryd in hof

Johanco Fleischmann en Jess Kuhn. (Foto: Facebook)

Die twee verdagtes in die moord op Johanco Fleischman en Jessica Kuhn is Vrydag borgtog geweier en hulle sal vir die duur van hul verhoor in aanhouding bly. ’n Verhoordatum is egter nog nie vasgestel nie aangesien daar steeds na ’n derde voortvlugtende verdagte gesoek word.

Tot dán moet Marika Fleischman, Johanco se ma, en Johanna Kuhn, Jessica se ma, hul daarop voorberei om bykans elke tweede week hul kinders se vermeende moordenaars in die hof te konfronteer.

“Ek slaap elke keer nie die aand voor die tyd nie. Die verdagtes kyk na my en is intimiderend,” vertel Marika aan Maroela Media.

“Dit is baie moeilik om te weet jy mag niks vir hulle sê nie. Jy moet net daar sit en na hulle kyk terwyl jy weet dat dit hulle is wat [na bewering] jou kind doodgemaak het,” sê Johanna op haar beurt.

Tog is albei verlig dat Malosi Gift Shima en Ishmael Hlabati eindelik agter tralies is en hul aansoek om borgtog van die hand gewys is. “Ek het myself daarop voorberei dat niemand ooit in hegtenis geneem sou word nie,” sê Marika.

Maroela Media het vroeër berig Johanco (19) en Jessica het in Mei verlede jaar op Putfonteinweg in Benoni sonder brandstof gaan staan toe hulle koelbloedig doodgeskiet is. Shima en Hlabati is in Junie vanjaar, ʼn jaar ná die moorde, in Benoni aangekeer.

Albei staan nou tereg op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede.

“Hulle mense kan nog vir hulle in die tronk gaan kuier, maar ons moet vir ons kinders in ’n boks gaan kuier,” sê Johanna.

Marika erken dat sy haarself egter gedurig daaraan moet herinner om oopkop te bly aangesien geen vuurwapens tydens hul inhegtenisnemings by Shima en Hlabati gevind is nie. “Iemand is onskuldig tot hy skuldig bevind word.”

Die verdagtes sal na verwagting weer op 29 September in die landdroshof in Benoni verskyn.

Johanna vra nou dat die publiek saam met hulle bid dat die nodige bewyse gevind sal word om die saak verder te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Ma’s….kyk hulle in die oe al die tyd en moenie weg kyk nie. As hulle uiteindelik weg kyk dan is die
oorwinning julle sin. Julle het niks verkeerd gedoen nie,

Niklaas

Dis wonderlik dat hierdie verdagtes aangekeer is . Dit sal die 2 moeders en hul ander familielede kan help om afsluiting te verkry. ‘n Pluimpie /komplimente aan die SAP wat dit vermag het.

Magda

Sterkte maar mag ek vra dat die Ma’s van die 2 kinders die “moordernaars” vol in hulle oe sal kyk tot hulle weg kyk ASB. en ek GLO dat die bewyse wel gevind sal word – GOD IS GROOT

Plaaskind

Ek kan net dink hoe dit moet voel om hul in die oë te kyk met al die hartseer, kwaad en vrae in daardie moederharte. Maar ek stem saam – kyk hul in die oë en moenie dat hul woordelose oë jul onder kry. Dis deel van die baie moeilike en lang pad na berusting en geestelike genesing. Sterkte Mammas. So jammer dat julle dit moet ervaar.

Melanie

Mag Jesus engele weerskant van jul as ouers staan en jul stut en sterk hou en jul geloof nie laat wankel nie, geregtigheid sal seevier en jul sal hul vierkantig in die oe kyk en hulle so intimideer dat hul slaaploose nagte sal he oor wat hul gedoen het nes jul die afgelope jaar al gehad het. God is groot en sy oorwinning is nog groter!!