Pyn by pomp duur voort

(Foto: iStock)

Vir verbruikers wie se motors al begin luier het in die hoop dat hulle met die afskop van die lente hul petrolrekening kan verminder, is daar helaas vir die soveelste maand min tot geen verligting nie.

Hoewel boere en bestuurders van dieselvoertuie tussen 14c en 15c per liter minder gaan opdok (op die groothandelprys), is dit beswaarlik genoeg om ’n bossie blomme mee te koop. Petrolkoppe is nie so gelukkig nie en gaan ’n nuwe rekordbedrag betaal. Die kleinhandelwinsgrens op petrol styg met 5,7c per liter.

Soveel gaan jy van môre af hoes:

  • Petrol (alle grade): 4c per liter meer
  • Diesel (0,05%-swaelinhoud): 15,22c per liter minder
  • Diesel (0,005%-swaelinhoud): 14,22c per liter minder
  • Paraffien: 20c per liter minder
  • Gas: 94c per kilogram meer.

Mense aan die kus sal onderskeidelik R17,62 per liter vir 95-oktaan‑petrol en R14,88 vir diesel met ’n 0,05%-swaelinhoud betaal. Binnelanders sal op hul beurt R18,34 en R15,49 vir petrol en diesel betaal.

Vuisvoos verbruikers het begin Augustus ook ’n enorme styging vir hul ryding beleef. Toe het die prys van petrol met 91c per liter opgeskiet en dié van diesel met tot 56c per liter. Die jongste stygingskok in die petrolprys is die sewende net vanjaar. Die dieselprys is ook reeds sewe keer vanjaar opwaarts aangepas.

Die grootste styging vanjaar was in April toe petrol in Gauteng R1 per liter duurder geword het en diesel met 65c per liter gestyg het. 95-oktaan‑petrol het in Januarie vanjaar R14,86 per liter gekos, wat beteken die prys het vanjaar reeds met meer as 23% geklim.

Brent-ruolie het teen publikasie tussen $72 en $73 per vaatjie verhandel teenoor $51 begin Januarie vanjaar. Dié prys het ná die 11 September-aanvalle in die VSA in ’n stadium by $125 gaan draai. Hierteenoor het die rand-dollar-wisselkoers ’n jaar gelede op R16,80 gestaan teenoor R14,50 teen middagete op 31 Augustus vanjaar.

Wat betaal motoriste in ander lande?

Libanese betaal die duurste vir petrol, aldus Global Petrol Prices. In dié land sal ’n liter petrol jou sowat $4,24 kos. Hongkong en Nederland beklee onderskeidelik die tweede en derde (duurste) plek met $2,51 en $2,15 per liter.

Die goedkoopste drie lande volgens dié ranglys is Venezuela, Iran en Sirië. Daar kos petrol onderskeidelik ongeveer $0,02, $0,06 en $0,23. Angola is die goedkoopste op die Afrika-vasteland, naamlik $0,25 per liter.

Volgens Statistics Times is die gemiddelde prys van petrol reg oor die wêreld $1,17.

Vyf wenke om verbruik te verminder

  • Laat versien jou voertuig. ’n Motor gebruik tot 30% meer brandstof as dit nie gereeld “gediens” word nie. Volg gerus maar die fabrikaat se diensintervalvereistes. Verslete ringe en vonkproppe, asook vuil olie en vuil filters is van die dinge wat verbruik kan verhoog en meer pyn by die pomp sal veroorsaak.
  • Wys met wiele. Laat jou motor se wielsporing nagaan. As die belyning uit gelid loop, veroorsaak dit wrywing, wat jou verbruik opjaag. Banddruk is boonop baas. Bande wat te pap is, verhoog ook weerstand en gaan jou vinniger na die naaste pomp moet laat haas.
  • Lugversorger dié lente. Die lugversorger is soos longe wat die motor se enjin harder laat werk. Beperk eerder die gebruik van die lugversorger en asem bietjie vars lentelug deur ’n skrefiesruit in.
  • Meer dinge, minder draaie. Beplan jou doenlysie en roete vooraf om jou ritte te beperk. Koekeloer na die GPS om ongelukke en verkeersknope te vermy. Benewens Google Maps is daar nuttige apps soos Waze.
  • Stadig oor die klippe. Pasop vir loodpoot op die petrolpedaal. Handhaaf ’n bestendige spoed sodat jy verkeersligte verkieslik groen vang. Aanhoudende rem en beweeg slurp daardie sap op.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jr ·

Generating geld om sassa en hulle werkers te betaal. But we vote for them again October

SjN ·

Die brandstofprys word gemanupileer deur die regering, hopeloos te hoog agv heffings.

Elinette ·

Nuttige wenke rondom brandstofbesparing. Maar hier’s nog ene – maak soos bestuurders hier in Worcester maak: stopstrate is vir die ánder bestuurders om by te stop. As jy self ‘n stopstraat nader, lig net die voet van die brandstof pedaal af … en skiet dan oor.

Samuel ·

Wat kan ‘n mens van die ANC geleide regering verwag. Hulle geld is op en al hulle verskonings vir prysstygings is nie geldig nie.

koos10 ·

Die ding met die lande met die hoë pryse is dat hulle bitte goeie openbare vervoer het. Ons het net taxi’s en met hulle bestuurders se bestuursvernuf is jou lewe nie lekker veilig nie, en in die Kaap word daar oorlog tussen die taxi’s gehou. So in SA as jy moet werk, moet jy of jou lewe waag of die wet van Transvaal toepas!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.