Qedani Mahlangu: ‘Ek is ʼn baie warm persoon’

Qedani Mahlangu, die voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng. Foto: Brenda Masilela/ANA

Qedani Mahlangu, die voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng, en die vrou wat wyd geblameer word vir die Life Esidimeni-tragedie, het Woensdag tydens die arbitrasieverhoor die blaam op een van haar voormalige senior beamptes in die provinsiale regering gepak.

Mahlangu het Woensdag haar getuienis voor afgetrede adjunkhoofregter Dikgang Moseneke voortgesit.

Sy het gesê die tragedie, waartydens minstens 143 psigiatriese pasiënte dood is nadat hulle na NRO’s oorgeplaas is, kon verhoed geword het indien dr. Barney Selebano, die voormalige hoof van geestesgesondheid in die provinsie, nie vir haar valse inligting oor die pasiënte se oorplasing gegee het nie.

Mahlangu het sedert haar getuienis Maandag begin het volgehou sy het nie geweet die NRO’s is nie geskik om die pasiënte te ontvang nie en Selebano het haar mislei om te dink dat die marathon-projek veilig is.

“Ons sou waarskynlik nie hier gesit het as ek destyds akkurate inligting en feite gegee is nie,” het Mahlangu gesê.

Sy het ook dr. Makgabo Manamela, dr. Richard Lebethe en Levy Mosenogi se name genoem as beamptes wat haar glo mislei het.

Moseneke het vir Mahlangu gevra hoekom sy dan bedank het as sy van niks geweet het nie.

“Ek het politieke verantwoordelikheid geneem. Wanneer iets verkeerd gaan, bedank politici. In Suid-Afrika gebeur dit nie gereeld nie,” het sy gesê.

Mahlangu het gesê sy wou nie die regering verhoed om sy werk te doen nie.

Adv. Adila Hassim wat vir die menseregte-organisasie Section 27 optree, het vir Mahlangu gevra of sy bewus was van die bekommernisse van gesondheidskenners oor die beëindiging van die Life Esidimeni-kontrak.

Mahlangu het gesê sy het hierdie bekommernisse na Selebano verwys omdat sy geglo het hy is die bevoegde persoon wat gekwalifiseerd is om die kwessies te hanteer wat deur ander kollegas in die mediese sektor geopper is.

Moseneke het dit aan Mahlangu gestel dat Selebano gesê het die besware is na haar verwys en dat sy die besluit geneem het om Life Esidimeni toe te maak ondanks verskeie waarskuwings. “Selebano het gesê hy wou nie gehad het hierdie projek moet aangaan nie. Hy het gesê hy was so bang, hy kon homself nie kry om nee te sê nie. Hy plaas die blaam vierkantig voor jou deur,” het Moseneke gesê.

“Dit is absoluut onwaar,” het Mahlangu geantwoord.

“Hoekom sal jy sulke besware wat na jou toe gebring is na iemand onder jou verwys?” het Moseneke gevra.

“Dit is hoe dinge in die regering werk,” het Mahlangu gesê.

Mahlangu het gesê sy was in geen stadium bewus daarvan dat Selebano en ander beamptes vir haar bang was nie. Sy het gesê daar is wetgewing in plek om administrateurs teen onbehoorlike invloed deur politici te beskerm. “Ek sien myself as ʼn baie warm persoon.”

Families van die oorlede pasiënte wat die verhoor bywoon, het op Mahlangu geskree en haar daarvan beskuldig dat sy ʼn leuenaar en ʼn boelie is.

Moseneke het tussenbeide getree en die gehoor gevra om stil te wees en die getuie toe te laat om haar getuienis te lewer, al is hulle nie gelukkig met haar antwoorde nie.

Hassim het Mahlangu verwys na ʼn verslag deur ʼn professor waarin daar gestel word dat deïnstitusionalisering nie gebruik moet word as ʼn rede om kostes te bespaar nie, aangesien dit ʼn negatiewe impak op die pasiënte sal hê.

Mahlangu het gesê niemand in die departement het gedink mense sou sterf as die kontrak met Life Esidimeni beëindig is nie.

“Dit is jammer dat mense geliefdes verloor het, maar dit was ʼn onvoorsiene gevolg.”

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

LOSKOP ·

Die mense wat n geliefde verloor het moet almal wat betrokke is met al die sterftes siviel laat aankla

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.