Qedani Mahlangu sal volgende jaar oor Esidimeni getuig

Qedani Mahlangu, voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng. Foto: ANA

Qedani Mahlangu, voormalige LUR vir gesondheid, sal na verwagting eers in Januarie 2018 getuig tydens die Life Esidimeni-arbitrasieverhoor, weens haar voortgesette studies in Engeland.

Haar prokureur, Angelo Christophorou van Biccari Bollo Mariano (BBM)-prokureursfirma, het Vrydag gesê Mahlangu sal van 22 – 26 Januarie getuig. “Ons onderneem, namens ons kliënt, dat sy bereidwillig is om die verhoor by te woon. Ons het ook ingestem dat die dagvaarding vir die betrokke datums op haar adres in Bedfordview bedien kan word.”

Staatsprokureur Tebogo Hutamo het aanvanklik aangekondig dat “alles gedoen sal word” om seker te maak dat Mahlangu vandeesmaand nog sal getuig sodra ʼn dagvaarding bedien is, sodat sy self antwoorde kan gee by die verhoor wat ondersoek instel nadat meer as 140 psigiatriese pasiënte gesterf het toe hulle van Life Esidimeni na ongelisensieerde NRO’s oorgeplaas is.

Hutamo het aangedui hulle sukkel om Mahlangu te vind, sodat die dagvaarding bedien kan word. Sy het geregistreer om haar studies voort te sit by ʼn universiteit in Engeland, het Hutamo aan die verhoor verduidelik.

Die voormalige LUR het gekies om BBM-prokureurs aan te stel om haar te verteenwoordig. Christophorou het gesê sy kliënt kan nie hierdie jaar getuig nie, omdat sy besig is met haar studies by Global Banking School, deel van die Universiteit van Bedfordshire. “Ons kliënt is gereigstreer vir ʼn meestersgraad in sakeadministrasie aan die Universiteit van Bedfordshire in Londen. Sy het reeds ʼn privaat ekwiteitsmodule afgehandel en is besig met ʼn strategie- en wêreldwye mededingingsomgewingsmodule wat sy vandeesmaand (November) sal afhandel.”

Sy sal daarna met nóg ʼn module begin wat sy op 15 Januarie sal afhandel, het hy gesê.

Wat betref Mahlangu se beweerde skorsing by die universiteit in die lig van die Life Esidimeni-tragedie, het Christophorou gesê ʼn appèlproses duur voort. “Ons is van mening dat die skorsing verkeerd en onwettig was en ons doen stappe om dit terug te trek. Sy sal dus, ondanks die skorsing, haar module op 15 Januarie afhandel en dan op die betrokke datums voor die arbitrasieverhoor verskyn.”

Die universiteit het gesê hy het Mahlangu geskors weens die “ernstige bewerings” wat sy in Suid-Afrika in die gesig staar.

Mahlangu word daarvan beskuldig dat sy verantwoordelik is vir die oorplasing van die pasiënte waarna 143 gesterf het weens verhongering en verwaarlosing. Sy het haar bedanking ingedien toe die tragedie aan die lig gekom het.

Mahlangu het intussen self op mediaberigte reageer. “Dit is heeltemal vals dat ek geweier of weggehardloop het van die Esidimeni-arbitrasieverhoor. Ek het van die begin af aan die owerhede dit duidelik gemaak dat ek beskikbaar is om voor die verhoor te verskyn. Ek het nie ʼn dagvaarding nodig nie.”

In ʼn verklaring, wat namens haar uitgereik is deur Decode Public Relations gebaseer in Sandton, het die voormalige LUR gesê: “Enigiemand wat weet hoe universiteite werk, weet dat die beplanning en aansoek vir studies plaasvind nog lank voor mens na die betrokke instansie kan reis. Die bewering dat ek my studies gebruik het om aanspreeklikheid te ontduik, is vals.”

Sy het gesê dit is duidelik dat hierdie valse bewerings ten doel het om voor te stel dat sy nie verbind is tot die beginsels van aanspreeklikheid of deursigtigheid nie. “Die berigte is só geskryf dat dit gelyk het of ek ʼn voortvlugtige van een of ander aard is.”

Die dodetal in die Esidimeni-tragedie is Vrydag van 141 tot 143 aangepas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Cherokee ·

die apèl klink soos ‘n manier om tyd te wen, om wat ook al te doen, miskien ter wille van voorbereiding vir die kakkerasionele gevolge wat haar anc-geit haar besorg het.

zoom zoom ·

Nou het sy genoeg tyd om ‘n storie op te maak om haar uit die gemors te kry. Die storie gaan ook platval soos die marikana slagting.

Manie ·

Baie arrogant die vrou. Staan op die voorpunt om mense te laat sterf en dan vertel sy jou wanneer sy sal kom getuig. Ek hoop net die mense wat stem is ook so arrogant

Dirk ·

Geskors maar studeer. Kry nie kloutjie by die oor. Ons soek die pos, geld, BMW en aansien van die pos maar net asb nie die verantwoordelikheid nie

Johanna Botha ·

Dalk moes sy studeer het VOOR sy die pos ggkry het …kyk nou watse gemors het onkunde tot gevolg …honderde weerlose mense dood. Dis nou anc se maniee van doen ….onkunde, onvermoee …en dan wonder zuma hoekom mense krities is teenoor SA …net nog meer onkunde wat skreeu !

Joe Hall ·

Vooraf studie maak geen jota verskil, wanneer self verryking en gevoelloosheid bedmaats is nie.

John ·

So, sy besluit wanneer sy lus is om te getuig, wat ook ‘n aanduiding is van hoe sy sake destyds hanteer het. Net besorg oor haar eie selfie. Waar gaan sy volgende ontplooi word? Waar is die woede oor due gebeure by die ANC? Vreeslik besorg oor hul mense net wanneer dit hulle pas.

Hendrik ·

Toe kies die slang ook vir haar n Hell- Snottingher! Daai PR company moet mooi trap! Haar hande lyk of sy verduidelik dat sy en Zupta in die aand klei speel!

Eish ·

Dit maak nie saak hoe universiteite werk nie, die openbare belang geniet voorkeur. Dit wys jou net die tipe mentaliteit wat in gesag setel deesdae.

007 ·

Dit het nooit in die apartheid jare gebeur nie.Dit is volksmoord.

Johann ·

Gewetenlose massa moordenaar; nie n gedagte aan verandwoordbaar wees vir haar onbesonne denke en dade nie. ANC HANDPOP LEGACY! Me myself and I and I dont frel n sod vir enigiemamd se lewe of well being nie. SHAME ON YOU!!

Sarel Strydom ·

Sy sit rustig in Londen en lag vir hulle. Wie gaan haar terugbring?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.