R1 miljoen-beloning ná transitorooftog

SBV Services (Foto: SBV Services)

SBV Services bied ʼn beloning van tot R1 miljoen aan vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van die verdagtes wat ʼn SBV-span Maandagaand in Gugulethu in die Wes-Kaap aangeval het.

Mark Barrett, uitvoerende groepshoof van SBV Services, sê een van sy spanlede het gesterf en drie werknemers is beseer. “In reaksie op dié gewelddadige en sinnelose aanval, doen ons ʼn beroep op gemeenskappe om met ons saam te werk om die verantwoordelike persone aan te keer. As jy iets weet, sê iets.”

Barrett waarsku dat SBV se ondersoekspan sal seker maak dat die oortreders aangekeer en gevonnis word. “Ons werk baie nou saam met die SAPD en ons sluit nie ʼn saak af totdat daar ʼn skuldigbevinding is nie. Ons weet dat gemeenskappe noodsaaklik is in die stryd teen misdaad en ons moedig enigiemand met inligting aan om ons vertroulik te kontak by 083 408 7029. Dié aanval word ten sterkste veroordeel.”

Volgens Barrett het die polisie reeds beslag gelê op ʼn vuurwapen en ʼn verdagte is in hegtenis geneem. “Ons sê baie dankie aan die polisie vir hul vinnige reaksie en ondersteuning. Ons werk steeds nou saam met alle belanghebbendes in die voortgesette ondersoek.”

Hy het ook sy dank betuig aan die paramedici en mediese personeel in die hospitaal.

“Ons betuig ons innige meegevoel aan die familie van ons gevalle held en ons wens ons beseerde spanlede spoedige beterskap toe. Ons dink aan en bid vir ons kollegas se families in dié traumatiese tyd.” Die maatskappy bied ook berading en ondersteuning aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SomeOne ·

sterkte aan almal by sbv, hoop die skuldiges word gou gevang en dat hulle langer as 15 jaar sal SIT, geen BORG

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.