R1 miljoen-beloning vir inligting oor DA-moord

Raadslid Nhlalayenza Ndlovu. (Foto: Facebook)

Die Demokratiese Alliansie in KwaZulu-Natal het Vrydag aangekondig dat hy nou ʼn beloning van R1 miljoen aanbied vir inligting wat kan lei tot die skuldigbevinding van die persone wat een van hul lede vermoor het.

Nhlalayenza Ndlovu, hoofsweep van die DA in die uMngeni-munisipaliteit, is op 5 Desember 2023 vermoor.

Dean Macpherson, provinsiale voorsitter van die DA, sê die party sal nie enige koste ontsien of enige steen onaangeraak laat om die verantwoordelike persone aanspreeklik te hou nie. “Ons soek geregtigheid vir die Ndlovu-familie en wil ʼn einde bring aan politiek gemotiveerde moorde in KwaZulu-Natal.”

Enigiemand met inligting, maak nie saak hoe gering dit blyk te wees nie, word versoek om die privaat ondersoekbeampte van die uMngeni-munisipaliteit te kontak by 082 545 5499.

Die DA het intussen ʼn private aanklaer-geleide ondersoekspan aangestel om die moordenaars op te spoor, het Francois Rodgers, DA-leier in KwaZulu-Natal, Donderdag tydens ʼn besoek aan Ndlovu se bedroefde familie gesê.

Maroela Media het vroeër berig Ndlovu, die DA se hoofsweep in die uMngeni-munisipaliteit, is Dinsdagaand koelbloedig in sy huis doodgeskiet terwyl sy vrou, kinders en hul oppasser teenwoordig was.

Nie minder nie as tien skote is na bewering afgevuur voordat Ndlovu se moordenaars op die vlug geslaan het.

Rodgers meen Ndlovu se koelbloedige moord is die gevolg van die ANC en Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se mislukking om in te gryp by politieke moorde in KwaZulu-Natal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.