R1 miljoen-beloning vir inligting oor transitoroof

(Foto: SBV)

Die SBV-veiligheidsdiens het ʼn beloning van R1 miljoen uitgeloof vir inligting oor ’n mislukte transitorooftog vroeër die week by die Colorado Park-winkelsentrum in Mitchells Plain.

“Een van ons werknemers is tydens hierdie aanval geskiet en ernstig beseer. Sy toestand is stabiel, maar hy is steeds in die hospitaal,” het Mark Barrett, uitvoerende hoof van SBV, gesê.

Gemeenskapslede het een van die verdagtes vasgetrek tydens die aanval en nóg twee is intussen in hegtenis geneem. Drie ander verdagtes het egter inhegtenisneming vrygespring.

“Hierdie verdagtes sal vasgetrek en gevonnis word. Ons werk saam met die polisie, die Valke, die Nasionale Vervolgingsgesag, misdaadvoorkomingsnetwerke en ander transitomaatskappye om misdade soos dié te bekamp.”

Geen kontant is tydens die voorval gesteel nie. “Ons werknemers se lewens is egter steeds in gevaar geplaas en ons neem dit nie ligtelik op nie.”

“Ons bied hierdie beloning aan sodat die individue wat verantwoordelik is vir hierdie sinnelose aanval vasgetrek sal word.”

Die beloning sal gegee word vir inligting wat lei tot die inhegtenisneming en vervolging van die verdagtes.

SBV het ʼn beroep op diegene met inligting oor die voorval gedoen om die SBV-noodnommer by 083 408 7029 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.