R1 miljoen nodig om baba se lewe te red

Ashley en Liané (Foto verskaf deur BackaBuddy)

Ongeveer R1 miljoen is nodig om die agt maande oue Liané Roux van Secunda in Mpumalanga se lewe te red.

Sedert die begin van haar lewe het Liané al met verskeie gesondheidskwale gesukkel omdat sy met drie aangebore hartsdefekte gebore is.

Haar ouers, Quintin Roux (36) en Ashley (26), was bekommerd toe Liané op vier maande oud tekens van ʼn koors getoon het. Sy het gesukkel om asem te haal en sy was deurgaans moeg. Hulle het haar na ʼn plaaslike hospitaal geneem waar sy aanvanklik met ʼn graad 5 sistoliese hartgeruis gediagnoseer is.

Liané (Foto verskaf deur BackaBuddy)

ʼn Week later, ná sy deur ʼn hartspesialis by die Steve Biko-hospitaal ondersoek is, het die gesin gehoor dat Liané se toestand veel erger is. Sy het drie aangebore hartskwale: Ventrikulêre septale defek (VSD), dubbel-uitgang regter ventrikel (DORV) en kruising van die groot slagare (TGA).

  • VSD is ʼn gaatjie in die hart, ʼn algemene hartdefek by geboorte. Die gaatjie kom in die skeidingswand voor wat die hart se onderste kamers en laat bloed van links na regs deur die hart vloei. Die suurstofryke bloed word dan in die longe teruggepomp eerder as uit na die liggaam, en die hart moet dus harder werk.
  • DORV vind plaas wanneer twee groot slagare nie normaal met die hart verbind nie. Wanneer babas met dié toestand gebore word, verbind die hoofslagaar (aorta) wat bloed van die hart na die liggaam pomp, en die slagaar wat direk bloed na die longe pomp (pulmonêre slagaar) gedeeltelik of heeltemal aan die regter onderste hartkamer.
  • TGA is ʼn ernstige, seldsame hartprobleem waar die twee hoofslagare wat die hart verlaat, omgeruil is.

As gevolg van haar toestand, staan Liané ʼn groot kans om respiratoriese infeksies op te doen en uiteindelik hartversaking.

Ná ʼn vergadering met die Maboneng- hart-en-long-instituut in Johannesburg, die enigste hospitaal wat bereid is om die operasie uit te voer, het die gesin besef dat hulle tussen R800 000 en R1 miljoen gaan moet opdok om hul dogtertjie se lewe te red.

Hulle doen nou ʼn beroep op die publiek om hulle in dié tyd te ondersteun en het ʼn skarefinansieringsveldtog op BackaBuddy van stapel gestuur om vir die operasie te kan betaal. Hulle het nie ʼn mediese fonds nie.

Liané (Foto verskaf deur BackaBuddy)

Die egpaar is dankbaar vir die ondersteuners wat reeds goedhartig ʼn bedrag van R94 000 ingesamel het. Die Roux-gesin “tel die dae” totdat Lianá uiteindelik haar eerste moeilike hoofstuk agter haar kan plaas.

“Woorde kan nie beskryf hoe bang of hartseer mens is wanneer jy die woorde ‘hartversaking’ hoor nie. Ons het ʼn finansiële berg om te klim en dit is ʼn resies teen tyd om die lewe van ons klein engel te red. Ons kan nie meer dankie sê vir die gemeenskap wat reeds uitgereik het om ons te help om Liané se hart gesond te maak nie,” sê Quintin.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

VaalDonkie ·

Ons het ook ‘n rekening van meer as R1m gehad toe ons kind op 24 weke al wou kom. Ek moes elke liewe week baklei met die mediese fonds om die kostes te dek. Altyd ‘n storietjie.

Pieter ·

Is daar nerens n hartspesialis wat barmhartig genoeg is om die klein dogtertjie te help nie?
Dis so sleg as alles net om geld draai. As die ouers die geld gehad het het hulle dit in n oogwink betaal, maar hoekom moet hulle nou deur al hierdie stres ook gaan om hulle kind se lewe te red?

Ekself het ook nie n medies nie,wnt ek kan dit dood eenvoudig nie bekostig nie. 35% van my selaris is elke maand weg vir belasting wat ek betaal vir wie weet wat, want niks werk in die land nie. Jy kry nie ordentlike mediese sorg vir daai geld soos in ander lande nie.

Ek daag elke hartspesialis uit om hierdie klein dogterjie te help, vir die liefde daarvan en nie vir die geld nie.

VaalDonkie ·

As jy 35% belasting betaal, behoort jy genoeg te verdien om mediese versekering te kan bekostig. En ek bedoel nie ‘n mediese fonds nie, ek praat van korttermyn versekering soos op jou huis of kar. Byvoorbeeld EssentialMed (daar is baie ander ook). Dis aansienlik goedkoper. Nie so breedvoerig soos mediese fondse nie, maar jy gaan nog steeds bly wees jy het dit as jy moet hospitaal toe.

Ons praat hier van R1000 per maand vir versekering teenoor R2500 per maand vir ‘n hospitaalplan van ‘n mediese fonds wat min of meer dieselfde dek. Daar is wel fynskrif en goed.

Charl ·

Hoeveel geld moet aan ‘n lewetjie gekoppel word voordat daar besluit word okay daar’s nou genoeg, kom ons red die kind se lewe want dan kan ek my nuwe Ferrari koop of daai ”mansion” laat bou wat ek oor droom ?? Daardie arme ouers het ook drome,,,,vir hul kindjie. Regverdig asb. net vir my daardie enorme mediese kostes ???

Leeuwyfie ·

Ek sal graag die statistieke wil sien van babas wat geaffekteer word van ma’s wat ingeënt is. Ek persoonlik ken 2. Deur borsmelk, as hul eers na geboorte ingeënt is, of tydens swangerskap, waarvan een se storie hier op mm was(inenting was nie eers genoem nie). Ek ken 4 dames wat 1 stil-geboorte gehad het en 2 vroeë en 1 laat termyn miskrame. Hoekom word dit afgemaak as nie-inenting-verwant? Miskrame is gewoonlik algemeen, maar om soveel persoonlik te ken in so ‘n kort tydperk is statisties onmoontlik. Dokters, dis tyd om jul informasie te bekyk en te ontbloot.

Waarnemer ·

So hartseer om so n klein ou dingetjoe te sien ly.Ek vertrou daar is n paar skatryk sakemanne wie hierdie berig lees en n agtste van hul skatte vir hierdie dogtertjie sal gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.