R10 000-beloning ná hond tydens kaping weghardloop

ʼn R10 000-beloning word uitgeloof om Sasha, ʼn vyfjarige Labrador-kruising-teef, op te spoor wat Donderdag in Kaapstad weggehardloop het toe haar eienaar in die oprit na haar huis gekaap en beseer is.

Michelle Barnard, direkteur van die hondewelsynorganisasie Rescue Is The New Black, het Saterdag aan Maroela Media gesê Sasha se eienaar, in haar laat 50’s, is Donderdag omstreeks 14:00 by haar huis in Rondebosch gekaap. Daar is deur familie versoek dat die slagoffer se naam nie bekend gemaak word nie.

“Die vrou het vir Sasha en haar ander hond in haar voertuig gelaai en was in die oprit van haar huis toe ʼn man haar gekaap het,” het Barnard gesê.

“Die vrou het verbete probeer om haar honde te red en is vir ʼn geruime tyd langs haar voertuig gesleep terwyl die kaper weggejaag het.”

Die vrou het in ʼn stadium losgekom en in die pad geval. Die kaper het in die rigting van die Kaapstad-lughawe gevlug. Iemand het die vrou te hulp gesnel en die polisie ontbied.

“Die polisie het sowat tien minute later die voertuig en verdagte by die kruisings van Robert Subukwe-weg en Valhallarylaan in Valhallapark aangekeer en hom in hegtenis geneem. Dit is toe dat Sasha uit die voertuig gespring en weggehardloop het. Die ander hond het in die motor bly sit en is veilig.”

Sasha se eienaar is met ernstige beserings na ʼn nabygeleë hospitaal geneem waar sy in die waakeenheid opgeneem is vir mediese behandeling. Haar toestand is stabiel, maar haar hart is gebroke omdat Sasha weg is.

Barnard het gesê ʼn familielid van die slagoffer het aanvanklik R1 000 se beloning uitgeloof vir enigiemand wat Sasha opspoor. Lede van die publiek en ander skenkers het egter vinnig hul harte en beursies oopgemaak sedert hulle van die voorval gehoor het en daar is nou genoeg geld vir ʼn R10 000-beloning.

“Sasha is nog nie opgespoor nie. Iemand het haar wel Vrydagaand omstreeks 21:00 naby die lughawe gesien. Die omgewing is egter baie groot en daar is tans verskeie vrywilligers wat daar na haar soek.”

Enigiemand wat Sasha opmerk, word versoek om Barnard by 076 186 5079 te skakel.

Sasha. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kaap onafhanklike land ·

Hoe vorder die idee van die weskaap om onafhanklik te word? Hulle sal kapings en misdaad baie beter kan beheer wanneer hulle beheer oor hul polisiemag en wethandhawing het.

Reine waarheid ·

As die opspoor van shasa tog net tweeledige doel kan beteken; dat die honne die kaper sal kan identifiseer en sy eienaar vrede herstel kan bied, sàl geld geen pryswaarde hê, maar doel waarde. Sterkte vir almal betrokke by saak.
Tog so hartverskeurende land …Onse Vader, asb verlos ons van die bose?

Ekke ·

Vra liewer , wat is die rede dat ons SA se howe nie kan die selfde veiligheid vir S A se mense kan gee .wat die vorige howe gedoen het nie??

Hondeliefhebber ·

Fantastiese nuus dat die hond se lewe in gevaar was en dit kon ontsnap..glo die hond is slim genoeg om sy pad te vind..ek glo en vertrou Sasha sal gou weer met sy eienaar herenig..

Nikita ·

Dis reg honde ruik gewoonlik hulle paadjies terug huis toe. Hoop dat sy ook nie voor n kar beland nie, dit sal hartseer wees as n kar haar sou omry. Sterkte aan die eienaar en hoop u hestel vinnig van die gebeurtenis.

Oujongvrou ·

Nou slaap ek weer nie ?asb laat ons lesers weet as die honde kind gevind is. Ek sal van my trollie af raak as myne moet wegraak. Dis my grootste vrees. Dat een van hulle iets sal oorkom of wegraak. My gedagtes is by die mense.

Hartseer ·

MM laat weet asb as Sasha veilig gevind word. My hart gaan uit na die mense. Ons beleef tans erg reen wind en storms in Kaap. Hoop Sasha veilig

Liefde v diere ·

Ek het op Facebook gesien dat Sasha gevind is. Dankie Here daarvoor.

Rooikop ·

Hoop die honde kind word veilig gevind …………………

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.