R10 000 beloning vir vermiste hondekind

Maryke Muller by haar geliefde Ava. (Foto: Verskaf)

’n Vrou van Douglas in die Noord-Kaap het ’n beloning van R10 000 uitgereik vir enigiemand wat haar geliefde Engelse bulhond Ava (4) veilig aan haar kan terugbesorg.

Dít terwyl ’n ligte vliegtuig in die omgewing van Sutherland ingespan is om na die vermiste rottweiler Panga op ’n plaas te soek.

Maryke Muller vertel dat haar Engelse bulhond Ava Sondag uit haar erf in Douglas verdwyn het.

“Ek het Ava vier jaar gelede op my verjaarsdag gekry. En toe raak Ava op my verjaarsdag weg,” vertel Muller Donderdag aan Maroela Media.

Muller is sedertdien rasend van bekommernis.

“Party mense sal sê dis net ’n hond, maar sy is my kind. Sy is my person.”

Die Engelse bulhond Ava (Foto: Facebook0

Muller was nie Sondag tuis nie en het met haar tuiskoms slegs haar ander twee Engelse bulhonde in die erf aangetref. Ava, haar oudste, was skoonveld.

Sy sê die aande sedert Ava se verdwyning is die ergste. “Ek weet nie of sy honger, koud of bang is en of iemand haar seermaak nie.”

Muller vertel dat Ava bekend is in Douglas aangesien sy die enigste eienaar van Engelse bulhonde in die dorp is. Ava gaan ook saam winkel toe. “Almal ken haar en is lief vir haar.”

Muller doen ’n beroep op enigiemand wat moontlik weet waar Ava is of haar het, om na vore te kom.

“Ek sal nie vrae vra nie. Bring haar net terug.”

Ada Cloete by Panga en Unja. (Foto: Verskaf)

In die omgewing van Sutherland is ’n ligte vliegtuig Donderdag danksy diereliefhebbers se hulp ingespan om ’n egpaar van die omgewing se vermiste rottweiler (2) op te spoor.

Panga en sy sussie Unja, ook ’n rottweiler, is meer as ’n week gelede in die vroeë oggendure uit die huis gelaat om ’n draai te gaan loop. Unja het egter later sonder Panga verskrik by die huis aangekom.

Daar word gevrees dat ’n luiperd hom moontlik gevang het, maar sy eienaars is hoopvol dat hy tog lewend opgespoor sal word.

Ada Cloete vertel dat Panga en Unja in die huis slaap. Die twee honde was verlede Dinsdag omstreeks 03:30 onrustig en haar man het hulle uitgelaat indien hulle moontlik ’n draai wou loop.

Die twee honde is toe soos ’n pyl uit ’n boog, vermoedelik op die spoor van ’n haas, maar net ’n verskrikte Unja het ’n uur later teruggekeer. “Mens kon sien iets het gebeur.”

Panga en Unja (Foto: Verskaf)

Daar word sedertdien onverpoos na Panga gesoek.

Cloete het ’n plasing oor Panga se verdwyning op die Facebookblad Rottweilers South Africa gemaak, waarna die groep se lede ingespring en begin geld insamel het om na hom te soek. ’n Hommeltuig is reeds ingespan en toe dié niks oplewer nie, het die lede ’n plan gemaak en ’n ligte vliegtuig vir die Cloetes gereël om na hul geliefde Panga te soek.

“Ek is stomgeslaan. En die mense betaal net geld in soos jy nie kan glo nie. Ek het al so gehuil. Hy is ’n kind in die huis.”

Cloete vertel dat Unja én hul dowe Franse bulhond Sterretjie oor hul boetie treur.

“Panga is Sterretjie se ore.”

Teen die tyd van plasing was daar nog geen teken van die twee vermiste honde gewees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Melanie ·

Ek weet hoe verskriklik dit moet wees, Ek hoop en bid hul word veilig gevind!!

Fae Fubar ·

Ons gebede is met julle. Mag albei die pragtige kinders veilig huis toe kom.

Sandra ·

Ek hoop ook en bid dat die twee kinders veilig terugkom na hulle families.

Janee ·

Ag…ons hoop en vertrou dat die man en sy maatjie sal terugkeer….as jou naampie Panga is MOET jy terugkeer!!…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.