R100 miljoen-skade aan Distell-aanleg in KZN

Distell vervaardig produkte soos Hunter’s en Klipdrift. (Foto: Maroela Media)

Die drankreus Distell sê skade van minstens R100 miljoen is tydens verlede week se onrus aan een van sy verspreidingsentrums in KwaZulu-Natal aangerig. Dit het die maatskappy se bedrywighede daar boonop kwaai ontwrig.

“Ons is diep bekommerd oor die onlangse burgerlike onrus en voorvalle van geweld en plundering wat KwaZulu-Natal en dele van Gauteng geraak het,” het Distell Vrydag in ʼn verklaring gesê.

As voorsorgmaatreël is verskeie van die maatskappy se persele in geraakte gebiede gesluit en word dit nou gaandeweg weer heropen.

“Ons is verlig dat geen werkers beseer is nie, maar ons is uiters bekommerd oor die verlies aan lewe en die verwoestende uitwerking op mense se inkomste weens die oproer.”

Distell sê benewens die skade in KwaZulu-Natal is al sy ander persele in Suid-Afrika veilig en ongeskonde, hoewel ekstra veiligheidsmaatreëls getref is.

“Ons is diep dankbaar teenoor ons verskaffingsketting- en verspreidingspanne, asook ons veiligheidswagte en vennote by die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxi-vereniging (Santaco) wat onophoudelik gewerk het om ons onderneming te beskerm.”

Distell, wat produkte soos Klipdrift, Savanna en Hunter’s vervaardig, sê hy sal net soos tydens die vorige verbodsbepalings wat die verkoop van drank verbied het, voortgaan om ondernemings te help om hul ondernemings te herbou. Die groep sê hy het voldoende voorraad om klante te bedien wanneer verkope weer hervat word.

“Die bedryf het herhaaldelik gewaarsku en deur navorsing gewys dat verbodsbepalings onwettige bedrywighede aandryf, veral onder misdaadsindikate wat sterker tydens so ʼn verbod word. Dit word al hoe moeiliker om die situasie om te keer terwyl sindikate hulself al hoe dieper ingrawe.

“Die onlangse oproer wys die ongelukkige uitwerking wat sindikate het in ʼn omgewing waar armoede en werkloosheid deur die pandemie vererger is.”

Distell sê volgens navorsing word tot 22% van Suid-Afrika se algehele drankvolume onwettig verkoop. Dit is verkope ten bedrae van R20,5 miljard wat die fiskus R11,3 miljard in belastinginkomste gekos het – inkomste wat die regering kwalik kan bekostig om te verloor.

Volgens die maatskappy is 332 van sy direkte en indirekte klante deur die plundering en oproer geraak. Dit het die drank wat onwettig in die handel beland het, selfs verder vermeerder en klein- en mediumgrootte ondernemings van ʼn toekomstige inkomste beroof.

Distell het ook gekap na die regering en sê die vierde verbod op drankverkope is op 27 Junie sonder enige waarskuwing of beraadslaging met die bedryf in werking gestel en op swak empiriese regverdiging gegrond.

Die maatskappy sê hy steun verskeie ekonomiese sektore, waaronder landbou, toerisme, gasvryheid en vervaardiging, en betaal self 60c van elke R1 wat hy genereer oor in belasting.

“Die belasting – en verwante indiensneming – is belangrik vir die land se herstel, nie net van die pandemie nie, maar ook van die onlangse onrus. Herstel, en die rol wat ons bedryf moet speel, is nou uiters noodsaaklik.”

Die drankreus se plaaslike inkomste het nietemin met 29,4% gestyg in vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar, terwyl volume met 28,7% in vergelyking met ʼn jaar gelede toegeneem het.

Distell sê sy internasionale bedrywighede is aan die begin van die pandemie negatief geraak en hy het onder meer gesukkel om Amarula en wyn na markte buite Suid-Afrika uit te voer. Dié sake het nou goed herstel en ʼn inkomsteverhoging van 10% word in vergelyking met die vorige jaar verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Androclus ·

Alles net deur Zuma onluste ag hoe dom tog,nou ly hulle ook daar onder

Martie Smartie ·

Dis nou baie mooi om een kant van die prentjie so te skilder van hoe baie belasting hulle betaal en werk skep ens ens ens. Maar hoeveel skade, dood en onkostes veroorsaak hulle verslawende produkte nie jaar in en jaar uit nie. Waarskynlik net so baie as wat hulle bydra tot die ekonomie. So hierdie sake het twee kante. Drankvervaardigers erken op elke bottel drank wat verkoop word, dat dit verslawend en sleg vir jou gesondheid is.

Janine ·

Mense raak verslaaf aan kos en medisyne ook… Sal ons alles begin verbied?

Mauritz ·

Sommge mense hou net daarvan om ander mense se keuses vir hulle te maak.

Elinette ·

Niemand staan met ‘n geweer agter enige iemand se rug en dwing daardie iemand om te alkohol te drink nie. Ek het vir jare lank self gedrink en gerook en toe eensklaps net so opgehou – want ek WOU! Daar is baie ander goed wat ‘n groter gevaar is as drank en sigarette/tabak en dit word nie so erg veroordeel nie. Each to his own, sê ek.

Tiptol ·

Suiker en diabetes is die grootste gif in die wêreld, dit veroorsaak baie meer skade as drank, kokaïne, heroïen of sigarette. Sê my Smartie, geniet jy suiker?

Cherokee ·

Dit Tiptol, was ‘n smart vraag aan Smartie! Jy verdien ‘n blêddie smart duimop vir daai smart vraag!

Karlahari ·

Dalk moet ons aandring dat motor vervaardigers ook plakkers op hulle voertuie aanbring wat lees “roekelose bestuur maak dood”.
Of “vermy die agter sitplek by inry teaters”.

Pieter ·

So gaan dit as jy met n brein dood regering sit. Als val uit mekaar en bitter min maak saak.

Tanniepetoors ·

Stuur dit rekening vir alles wat versekeraars nie betaal nie vir daai onbeholpe Hoed.

Cherokee ·

‘100 Miljoen Rand skade aan Distell-aanleg in KZN’ …… Mensig.. dis omtrent die waarde van my totale woning…!!!

Wiehan ·

As ek Distell en SAB is vat ek my goed en gaan na lande soos Botswana of Namibie waar mense die werk wat hul kan kry baie sal waardeer. Bye Bye SA

Wiehan ·

Martie Smartie, drank vervaardigers erken nie dat dit verslawend of sleg vir jou gesondheid is nie. DIT WORD DEUR DIE REGERING SE WETTE AFGEDWING. Anders kan hulle nie hul produkte op die mark sit nie. As dit dan so is, moet die meeste kosse op die rakke ook verbied word want dit “kan” gesondheids risiko’s inhou vir mense met diabetes, hoe bloeddruk, ens. Dis mense se eie VRYE keuse om ‘n drankie te drink. Ek self gebruik geen alkohol nie maar as iemand anders dit gebuik is dit sy/haar keuse. Ek kan nie vir ander mense besluit wat reg of verkeerd is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.