R101 eis lewe van vier mense

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Vier mense het Vrydagaand in twee afsonderlike motorongelukke op die R101 in Limpopo omgekom.

Die bestuurder van ʼn motor en twee passasiers is dood toe die motor met ʼn vragmotor gebots het nadat ʼn stopteken geïgnoreer is.

Tidimalo Chuene, woordvoerder van die provinsiale departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid, sê dié ongeluk het naby die weegbrug in die Waterberg-distrik plaasgevind.

ʼn Derde passasier is ná die botsing met ernstige beserings na die Voortrekker-hospitaal in Mokopane (Potgietersrus) vervoer vir mediese behandeling.

Nog ʼn motoris is gisteraand dood toe ʼn motor met ʼn vragmotor naby die Ranch Hotel buite Polokwane gebots het.

“Die moontlike oorsaak van hierdie botsing is spoed,” sê Chuene.

Die LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid in die provinsie, Polly Boshielo, het intussen haar innige meegevoel met die oorledenes se geliefdes betuig.

“Ons pleit steeds by motoriste die padreëls ten alle tye te gehoorsaam sodat hulle lewend by hul onderskeie bestemmings kan aankom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.