R107 miljoen vir huis in Constantia

House Zai, ontwerp deur argitek Stefan Antoni van Satoa (Foto verskaf deur Seeff)

House Zai, die duurste huis in Kaapstad se suidelike voorstede, is tans vir die eerste keer op die mark beskikbaar teen R107 miljoen. Dit is geleë in die Bel Ombre-landgoed, een van die mees gesogte adresse in Suid-Afrika. Eiendomswaardes het die afgelope 10 jaar hier verdubbel, aldus Lightstone-data.

Francois Venter, luuksemark-spesialis vir Seeff Constantia, sê eiendomme duurder as R100 miljoen is uitsonderlik en min kan kers vashou by House Zai.

Dié ultramoderne huis is die eerste in die suidelike voorstede wat deur die wêreldbekende Kaapstadse argitek, Stefan Antoni van Saota, ontwerp is. Hy het bekendheid verwerf vir sy ontwerpe van die mees eksklusiewe huise aan Kaapstad se Atlantiese kusgebied en reg oor die wêreld.

Die huis bied skouspelagtige kontemporêre argitektuur – gebou met ingevoerde materiaal deur ʼn meester Belgiese bouer op Europese standaarde wat betref afronding, insulasie, energiedoeltreffendheid en ekovriendelikheid.

Die huis beslaan 1 407 m² en is geleë op twee acres (8 094 m²) grond met ʼn manjifieke noordelike uitsig oor Constantiaberg. Dit het skoon lyne en ʼn soomlose vloei na die ontspanningsgebiede buite, ʼn swembad en groot tuin wat spesiaal uitgelê is.

Daar is ses slaapkamers, insluitend ʼn luukse hoofslaapkamersuite van 140 m² en twee gasteslaapkamersuites met ʼn bykomende gastewoonstel met ʼn sitkamer, kombuis, privaat ingang en tuin.

Binnenshuis is daar ʼn volledig ingevoerde Bulthaup-kombuis, Schüco-vensters en skuifdeure met dubbelglasvensters van België. Die meubels en dekor is van Roche Bobois Ltd Edition Hero Collection en word ook te koop aangebied – gewoonlik die geval met kopers van luukse wonings, sê Venter.

Hy sê House Zai is ʼn huis van die toekoms, ten volle selfonderhoudend en bied die perfekte klimaatbeheerde Kaapstadse leefstyl. Die huis is ook onafhanklik van die water- en elektrisiteitsnetwerk (ʼn volledige sonkraginstallasie is ingesluit). Sekuriteit is van die hoogste gehalte en tegnologie en intuïtiewe infrastruktuur verseker ononderbroke gerief en konnektiwiteit.

Volgens Venter lok dié eksklusiewe Kaapstadse liggings ʼn mengsel van plaaslike en internasionale kopers wat bereid is om in ʼn gehalte leefstyl te belê. Die gebied lok entrepreneurs en uitvoerende hoofde en lê ook in die ambassadeursgordel.

House Zai, ontwerp deur argitek Stefan Antoni van Satoa (Foto verskaf deur Seeff)

Internasionale kopers van Duitsland, die Verenigde Koninkryk en onlangs ook van die VSA stel baie belang in Kaapstad. Die gehalte huise, weer en leefstyl, waarde vir geld en toegang tot topskole is van die redes waarom dié kopers gelok word.

Die mark in Constantia was die afgelope drie jaar baie aktief en daar is gevolglik ʼn tekort aan luukse eiendomme om te voldoen aan die vraag vir die plaaslike en internasionale mark.

Sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie is byna R2 miljard se verkope van huise duurder as R20 miljoen slegs in Constantia aangeteken. Dit is hoër as Clifton wat betref algehele waarde en word slegs deur Kampsbaai oortref.

Venter meen baie van die kopers verkies die lowerryke buurte van Constantia met sy groter erwe en ruim huise, ligging aan wynplase, van die beste restaurante in Kaapstad, topskole en toegangspaaie.

Inwoners geniet ook die groen omgewing, aangesien daar talle groen gordel en woude in die gebied is wat geleentheid bied vir staptogte, fietsry en selfs perdry. Constantia is ʼn oase, en tog is dit geleë in een van die topstede in die land.

Nóg ʼn voordeel is die nabye ligging aan die lughawe met direkte vlugte na groot sentra in die land, streekvlugte en direkte vlugte in minder as 12 uur na Europa.

Klik hier vir meer inligting oor House Zai.

Klik hier vir die Seeff-plasing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Piet 6 ·

Surette, die Afrikaans vir “acres” is akkers. 1 hetaar =2.471 akkers

Kerrie ·

….nee Surette.

1 Ha = 10 000m²
1 Acre = 0.405 Ha
1 Acre = 4047 m²

1 Standaard plot is gewoonlik tussen 2 en 2,6 Ha groot.

Maw tussen 20 000 en 26 000 m²

Die erf is net kleiner as die helfte van n gewone plot….8094m².

ES ·

@Surette of akker – soos my oupa dit genoem het. Hektaar is hectares in Engels.

ES ·

R 107 miljoen is ‘n belaglikike bedrag om vir ‘n huis te betaal… behalwe miskien as jy in Euros of Dollars betaal

Delia ·

Ek kan net my kop skud en wonder waar is ons mensdom se prioriteite

Republikein in die Wes Kaap ·

Zuma se Nkandla het twee keer soveel gekos.

Republikein in die Wes Kaap ·

Surette, dan is daar ook nog ‘n morg. In baie ou plase se oorspronklike kaart en transport aktes word dit so aangedui.

Madeleine ·

StemDelia
Ek voel mense kan in sulke huise bly, mits hul nog steeds meer sorg vd armes

koos10 ·

Besorg, die persoon wat die huis koop het al baie meer gedoen as die gemiddelde persoon. Dink maar net aan al die belasting wat betaal word. Verder word werk geskep, die solar mense het daar kon werk, so ook die sekuriteit mense. Nee wat, as jy die huis kan bekostig, het jy reeds jou deel gedoen.

Republikein in die Wes Kaap ·

koos10, ongelukkig trek daai huise ook geldwassers wat nie ‘n sent belasting betaal nie. Interpol en SARS slaan gereeld toe op sulke eiendom. Dan is die bewoners lankal weg.

Martie ·

Madelein, moet ‘n mens dan nou alles in die lewe versaak om armes te help? Sommige mense het gewerk vir hul geld en daarom kan hulle dit geniet. Buitendien in die Bybel staan die armes sal ons altyd met ons he.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.