R112 miljard in Desember by winkels bestee

(Foto: Maroela Media)

Desember is in die algemeen bekend as ’n seisoen van gee, en klaarblyklik ook spandeer.

Volgens BankservAfrica het verbruikers gedurende die feestyd verlede jaar ’n allemintige R112,5 miljard by winkels bestee, waarvan die meeste by kruidenierswinkels en supermarkte.

Dit is 13% meer as die R100 miljard wat die vorige jaar by winkels uitgegee is.

“Algehele inkopievolumes het op ’n jaargrondslag met 2% tot 145 miljoen toegeneem,” sê Solly Bellingan, bemarkingshoof by BankservAfrica.

Die hoogste besteding en inkopievolumes was by kruidenierswinkels en supermarkte, wat van R26 miljard in Desember 2022 tot R50 miljard in Desember 2023 toegeneem het. Daar was altesaam R47 miljoen in kaarttransaksies.

Bellingan sê voorts dat inkopievolumes met 6% gegroei het, wat aandui dat die gemiddelde besteding per aankoop van R580 in 2022 tot R1 048 in 2023 toegeneem het.

Brandstofaankope het met 18% gedaal (R7,6 miljard in 2023 teenoor R9 miljard in Desember 2022), terwyl klereaankope met 11% afgeneem het (R2,8 miljard in Desember 2023 teenoor R3,1 miljard in Desember 2022).

Besteding by restaurante en kitskosplekke was die afgelope Desember ook effens meer as die jaar tevore.

(Foto: Maroela Media)

Die totale waarde van kontantbestellings wat deur BankservAfrica se geïntegreerde kontantbestuursdiens (ICMS) verwerk is, het in Desember 2023 altesaam R81 miljard beloop. Dié data verteenwoordig fisieke kontantbestellings by kommersiële banke en hul onderskeie kitsbanke en netwerke.

“Die totale waarde was ’n jaar-tot-jaar-daling van 3% op die R84 miljard wat in Desember 2023 aangeteken is,” sê Bellingan.

“Ondanks die effense daling bly hierdie syfer hoog en is dit tekenend van die volgehoue ​​vraag na kontant onder Suid-Afrikaners.”

Kontantbestellings het ’n hoogtepunt op 1, 14 en 23 Desember bereik, met kontantwaardes van onderskeidelik R7,2 miljard, R7,1 miljard en R7,6 miljard.

Baie mense het op 14 Desember (voor die vakansiedag op 15 Desember) kontantbestellings by banktakke en kitsbanke gemaak. Dit was ook wanneer die meeste Suid-Afrikaners se verlof of vakansietydperk afgeskop het, en volgens Bellingan het banke hulle juis op ’n toestroming van mense op dié datum voorberei en seker gemaak dat hulle voldoende kontant beskikbaar het.

Nog ’n groot dag was 23 Desember, met R7,6 miljard in kontantbestellings in die stormloop om Kersinkopies af te handel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Josua ·

As jy die prys verhogings op voedsel, petrol, diesel ens in 2023 in ag neem en dit aftrek van die wat wel spandeer is het minder mense geld spandeer op voedsel en minder rond gery alhoewel die syfer dit nie wys nie. Ek was in Desember 2023 by die kus en kan ek met n geruste hart bevestig dat SA se toerisme bedryf is die moeilikheid want daar was die helfte indien nie nog meer toeriste minder by die kus as die vorige jare, dit help nie alles word duurder en word vergelyk met die vorige jaar nie want mense moes tot 70% meer betaal vir produkte as die voor 2022.

B-Man ·

En 15% gaan na die staatskas toe… ons almal weet wat dan daarmee gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.