R112 miljard se tekort as NVG ingestel word

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. (Foto: Solidariteit/Facebook)

Volgens Solidariteit se somme sal daar na raming ’n tekort van minstens R112 miljard in die nasionale begroting ontstaan indien die regering met die implementering van die omstrede Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) voortgaan.

Dít is meer as die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se jaarlikse begroting en meer as die helfte van die belasting wat al die sakeondernemings in Suid-Afrika saam in ’n jaar betaal, sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).

Die SNI het ’n omvattende kosteverslag oor die implementering van die NGV opgestel wat Donderdag deur Solidariteit bekend gestel is. Daarin bevind die instituut dat Suid-Afrika nie dié versekering in enige vorm kan bekostig nie.

“Ons land kan dit doodeenvoudig nie bekostig nie. Dit is alombekend dat Suid-Afrika se staatskas leeg geplunder is en die meeste staatsinstansies tot in bankrotskap bestuur is. Om bykomende geld te gaan leen sal fataal vir die land se ekonomie wees,” meen dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Solidariteit is gekant teen die sentralisering van die land se gesondheidstelsel en staan reg met hofstukke sou die regering poog om die NGV af te dwing.

Luidens die SNI-verslag is die regering se huidige voorspelling van ’n begrotingstekort van R32 miljard “onrealisties” en toon ’n meer realistiese berekening eerder ’n tekort van R112 miljard as absolute minimum, sou die NVG in 2026 deurgevoer word.

Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut. (Foto: Solidariteit/Facebook)

Suid-Afrika het tans ’n begrotingstekort van 14%.

Volgens die Groenskrif van 2017 het die aanvanklike verwagte koste van die NGV in 2010-’11 R109 769 miljard beloop. Die regering het verwag dat hierdie bedrag tot in 2015 jaarliks met 4,1% sou styg, gevolg deur ’n jaarlikse toename van 6,7% vir die oorblywende jare tot 2026.

“Nóg die departement van gesondheid nóg die tesourie het ’n uiteensetting gegee van hoe hulle by hierdie syfers en koerse uitgekom het, maar daar kan met veiligheid aangeneem word dat dit ’n onderskatting is,” wys die SNI in sy verslag daarop.

Die instituut bestempel sy geskatte belastingtekort van R112 miljard boonop as ’n konserwatiewe raming wat net huidige openbare gesondheidsorg en privaat hospitale in aanmerking neem. Kleiner privaat gesondheidsdiensverskaffers is nie eers vir hierdie berekening in ag geneem nie.

Die SNI sê hoewel dit in reële terme hoegenaamd nie moontlik is nie aangesien die Suid-Afrikaanse belastingbetaler reeds oorbelas is, die R112 miljard in 2026 teoreties gegenereer kan word deur:

  • ’n Bobelasting van 20% op inkomstebelasting.
  • ’n BTW-verhoging van 15% tot 20%.
  • ’n Betaalstaatbelasting van 5,5%.
  • Verhoogde maatskappy-inkomstebelasting van 28% tot 42%.
  • ’n Kombinasie hiervan.

“Suid-Afrika kan nie die NGV in enige vorm bekostig nie en moet veel eerder in huidige stelsels belê,” word daar eindelik in die verslag bevind.

Solidariteit sê voorts daar kan geensins oorweeg word om geld vir die NGV te leen nie omdat die land reeds miljarde rande skuld en nie verdere skuld kan bekostig nie.

Lees die verslag hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Anoniem ·

Word daar vir een oomblik gedink dat die Regering gaan luister? Nog Nooit! Sien die belasting betaler /werkersklas gaan die meeste geraak word. Ons as werkersklas sukkel alreeds om kop bo water te hou, ons wil werk, die ander wil nie, want die Regering deel mos alles verniet uit . Die “werkloses” wat alles verniet ontvang gaan die bese baat daarby. Kyk hoe lyk die Ongevalle by Hospitale. Die toestand van hospitale, agge nee man, sies, Badkamers en toilette is haglik. Hoe gaan die Privaat Hospitale binne 3 maande lyk.
Die hele mediese stelsel is in elk geval in sy Kanon.

Althes ·

Die ANC is totaal onbevoeg om die land te bestuur. Wil hul nou regtig als wat in 300 jr opgebou word, na 27 jr afbreek?
En vir wat? Sodat ons terug beweeg na die Steentydperk?
Hoeveel werkverliese en kundigheid gaan nie dan verlore gaan nie.
Die ANC kan nie hulself beroep op die Britse NVG nie, want ons sal nooit so ñ eersteklas land wees soos hul nie, danksy ANC beleide.

Friedrich ·

Ek het nie geweet daar is comedy ook in die app nie. Hulle sal seker weer btw op stoot, of ander belasting. ????

Jacobus ·

Geen syfer is vir dié klomp te veel. Sien net daai massale trog vol geld. Die pandemie was net ‘n oefenlopie. Twee dinge bewys. Van Siril af ondertoe het hulle geen agting vir gewone mense. Lieg en mislei “no problem!”

gatgogga ·

RET in werking!
Ons gaan betaal vir die wat nie wil betaal nie.
Dit is maar net die paadjie waarop FW ons gesit het, wat ons loop.
Nou te laat om te kla.

Eclectus ·

Ek weet nie of dit by alle universiteite is nie maar by Wits word die NGV in mediese studente se kele afgedruk word tot die punt waar die hel jou haal as jy weerstand bied.

Pieter ·

Hoekom kla ons blankes so dit is ons eie skuld ons wil maar net nie standpunt in neem nie. Die ANC maak net wat hulle wil want hulle weet ons belasting betalers praat en betaal maar net. Die kommuniste is baie slimmer as wat ons dink.

Blikkies ·

Die regering gaan hulle nie steur aan die verslag nie. Hulle verstaan nie die basiese beginsel en werking van geld nie, soos die een leser tereg skryf ,geen syfer is vir hulle te veel of te min nie, want hulle verstaan niks.

Dup ·

Ons regering is bevoeg genoeg om die land op sy eie op te foeter en het niemand se raad of hulp nodig nie.Die NVG sal soos die Titanic teen die spreekwoordelike ysberg bots en gou sink….indien dit egter ooit die hawe gaan verlaat.

Samuel ·

Hier gaan dit beslis nie oor enigeen se gesondheid nie. Alles is oëverblindery.

SomeOne ·

dis aardig om al die bepastings aan te voer, een slim kop gaan dit halfpad sien en dan sit ons met belastings wat nie een kan bekostig nie

Harley Davidson ·

Wat het die huidige ANC regering ooit gedoen wat positief was ,ek wens hulle wil die huidige benaadeeldes straf en vir hulle ‘n onafhanklike tuisstaat gee om in te woon.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.