R114 miljoen vir droogte in KZN

Argieffoto: Wikimedia

Argieffoto: Wikimedia

Die departement van landbou en landelike ontwikkeling in KwaZulu-Natal is besig om ʼn R114 miljoen te bewillig vir boere wat deur die droogte geteister word.

LUR Cyril Xaba het gesê die hulplyn is een van verskeie stappe wat die departement sal doen om boere by te staan. Volgens hom het die departement ʼn geruime tyd gelede begin om binne sy eie begroting geld beskikbaar te maak vir die boere. Aanvanklik is ʼn bedrag van R24 miljoen opsy gesit.

Die departement se bydrae het verlede week ʼn hupstoot gekry tot Senzweni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye, ingestem het dat ʼn gedeelte van die voorwaardelike Ilima/Letsema-toelaes eerder vir droogteverligting aangewend kan word. Die provinsiale departement is versoek om ʼn gewysigde sakeplan teen 13 November in te dien en ʼn bedrag van R36 miljoen is by die hulplyn bygevoeg.

Zokwana het gesê die bydrae is vir bystand aan klein boere. Dit moet aangewend word vir voer vir vee, water vir voedselvervaardiging en om water aan vee te verskaf.

Die provinsiale departement se bydrae sal vervaardigingsinsette vir alle boere subsidieer, insluitend boere binne die kommersiële bedryf.

Die subsidie sal op ʼn glyskaal aangebied word en daar sal ʼn beperking op die bedrag geplaas word. Klein boere sal 100% bystand ontvang. Daar is ʼn 80% subsidie vir medium grootte plase en 20% vir groot kommersiële bedrywighede. Die subsidie is vir voer, multivitamiene en dip. Dit sal ook aangewend word vir waterversamelingstoestelle soos jojo-tenks, trôe en pype.

Die oorblywende R44 miljoen van die hulplyn sal gebruik word om 62 boorgate in die provinsie te rehabiliteer waar hulpbronne opgedroog het en om 75 damme te skep.

Ander stappe wat gedoen word om droogtegeteisterde boere te help is dat staatsgrond vir weiding beskikbaar gemaak word.

© RDM News Wire

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Peet Schabort ·

Boerdery is ‘n wettige dobbelspel en daarom is bystand in droogtetye ‘n moet van regeringskant.
Wat egter ‘n feit is en waaraan weinig gedoen word is die instandhouding en opgradering van munisipale rioolwerke waar daar dan rou riool in ons waterbronne gestort word waar watervlakke gevaarlik laag is op hierdie stadium.
Hier sal ook vinnig wakkergeskrik moet word.

Irene Vermeulen ·

Ek verneem boere wat deur die droogte geteister word laat wei hul diere op plase in die Karoo en kus wat volop kos het. Ons het ‘n 15ha plasie volop met water en kos, boere is welkom om my te kontak as hul diere wil laat wei – gratis.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.