R12.5 miljard aan Sanral

Toekomspad

Argieffoto (Foto: Gopixpic.com)

Die minister van vervoer het Dinsdag gesê die regering sal vanjaar ʼn kontantoorbetaling van R12.5 miljard aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) maak.

Minister Dipuo Peters het tydens haar begrotingsdebat in die parlement gesê dit vorm deel van die regering se toewyding om nie-tolpaaie in die land op te gradeer. “Die regering belê R1.1. miljard om die R573 Moloto-pad in Pretoria op te gradeer,” het sy gesê. “Ons het ook R12.5 miljard opsy gesit om 85% van die nasionale padnetwerk se paaie, wat nie getol word nie, op te gradeer.”

Nazir Alli, uitvoerende hoof van Sanral, het vroeër vandag tydens ʼn perskonferensie gesê enige kontantinspuiting moet nie verkeerd geïnterpreteer word dat daar likiditeitsprobleme in Sanral is nie. “Daar is twee dele aan Sanral se besigheid,” het Alli verduidelik. “Die een is ʼn nie-tolpad wat 25% van ons padportefeulje beslaan uit ʼn totaal van 21 403 km en dan is daar 3 120 km pad wat slegs 15% van ons portefeulje beslaan. Dit is verkeerd om die twee te kombineer en dan te sê dat ons finansieel in die knyp is.”

Hy het toegegee dat Sanral sukkel om geld in te samel as gevolg van onsekerheid oor die Gautengse hoofwegverbeteringsprojek (GFIP). ʼn Paneel, wat deur Gauteng-premier David Makhura saamgestel is, het in Januarie verskeie aanbevelings gemaak om ʼn buffer te skep vir die impak van tolgeld in Gauteng op die lae- en middelklasinkomstegroep. Dit sluit in dat die e-tolstelsel hersien moet word om bekostigbaarheid, gelykheid, regverdigheid, administratiewe eenvoud en volhoubaarheid te verseker.

Sanral wag vir ʼn aankondiging deur adjunkpresident Cyril Ramaphosa oor die finale finansieringsmodel van GFIP.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Peet Schabort ·

Verlede Vrydag oppad om my voertuiglisensie te betaal gaan ons eers by die poskantoor aan en ja, bo alle verwagting, daar is die kennisgewing van hernuwing. Aangekom by die lisensiekantore is die bedrag aangetoon op die hernuwing R20 té min.
Op ‘n vraag wat word van hierdie lisensiegeld is die antwoord: “No, I don’t know”.

Gielie ·

Nazir Alli onderskat die padgebruiker se intelligensie met sy flou verduideliking. SANRAL is in ‘n finansiële verknorsing vanaf dag een en is reeds die regerng, jammer, belastingbetaler se nuutste bloedsuier. Die oprigtingskoste van diè projek het ongeveer R22miljard beloop…ongelooflik….wonder onwillekeurig hoeveel het wie onderdeur die tafel ontvang.

Gerhard Bezuidenhout ·

Sanral is netsoos SAA en Eskom n geldvreter mot wat ons land se ekonomie knou . Waarom begewe ons regering hom in sulke onsin.

Gert van der Merwe ·

Dankie aan die minister van vervoer vir die kontant inspuiting in SANRAL. Nou is al die e-tolgeld betaal en hoef ons nie meer verder daarvoor te betaal nie. Dit was mos ons belasting geld wat die minister oorbetaal het. So ons het betaal ook sommer vir die toekoms. As dit geld uit sy eie sak was reg dan moes ons betaal. Hoekom moet ons dan twee keer betaal. Ek is ook n belasting betaler.

CHRISTA ·

Mense dink as hulle onder ‘n sekere inkomstegroep val, hulle nie belasting betaal nie, maar almal betaal TEN MINSTE 14% belasting (BTW!!). Wat maak ons regering met daardie massa geld wat maandeliks inkom?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.