R145 miljoen vir vier ministers wat oor Eskom kibbel

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede aangekondig dat ‘n minister van elektrisiteit aangewys gaan word. (Foto: GCIS)

Suid-Afrikaners steier van een fase beurtkrag na die volgende, terwyl dit die belastingbetaler nou ʼn allemintige R145 miljoen gaan kos om die vier ministers – wat almal iewers by die beheer van Eskom betrokke is – in hul poste te hou.

Die DA se Leon Schreiber sê gegrond op die ministeriële handboek (waarin ministers se voordele uiteengesit word), asook ʼn reeks parlementêre vrae, het die party bepaal dat Suid-Afrikaners dié allemintige bedrag geld gaan moet opdok vir “luukshede vir die twistende ministers” terwyl beurtkrag vererger en hulle hul politieke stryd om beheer oor Eskom voortsit.

Die DA betwis die ministeriële handboek met ʼn klagte wat by die Openbare Beskermer (OB) ingedien is. Volgens die handboek, met riglyne, is ʼn minister geregtig op tientalle personeellede, luukse voertuie, BBP-beskerming én gratis water en krag.

Ná pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging in sy staatsrede dat ʼn nuwe portefeulje geskep is om die kragkrisis te hanteer, is bestuur daarvan nou oor niks minder nie as vier departemente gefragmenteer: minerale bronne en energie (Gwede Mantashe), openbare ondernemings (Pravin Gordhan), samewerkende regering en tradisionele sake (Nkosazana Dlamini-Zuma) en nou ook elektrisiteit (waarvoor ʼn minister nog aangewys moet word).

Die nuwe portefeulje beteken die kragkrisis gaan die belastingbetaler nou selfs meer geld kos.

Só betaal jy

Die eerste uitgawe is BBP-beskerming – teen ʼn koste van R8 miljoen per jaar vir elke minister en adjunk.

ʼn Minister verdien R2,47 miljoen per jaar en ʼn adjunkminister ʼn koel R2 miljoen.

Voeg hierby vier luukse voertuie (twee vir die minister en twee vir die adjunk) teen ʼn koste van sowat R3,2 miljoen.

Kabinetslede is ook geregtig op gratis water en krag by elk van hul twee amptelike wonings in Pretoria en Kaapstad. Dit kom teen ʼn maksimum koste van R60 000 per jaar per huis en beloop ʼn algehele koste van R240 000.

Die ministers en hul adjunkte se kantoor benodig natuurlik ook personeel. Die handboek maak voorsiening vir 11 mense in ʼn minister se private kantoor en sewe vir ʼn adjunk.

“Gegrond op voorlopige inligting wat die DA ingesamel het, word die syfer in etlike gevalle oorskry,” sê Schreiber, die DA se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie.

Die DA het sy berekening nietemin gedoen op grond van die voorskrifte in die ministeriële handboek en sê minstens 83 “hoogs betaalde ANC-kaders” sal die private kantore van die vier ministers beman.

“In die geheel beloop die koste sowat R145 miljoen per jaar vir strydende ministers terwyl hulle versuim om die kragkrisis te pak.”

Die totale bedrag sluit egter nie die koste van die 16 amptelike wonings in Kaapstad en Johannesburg in nie, en ook nie die plaaslike en internasionale reise wat hulle gaan onderneem nie. Die koste van ʼn nuwe kantoor vir die nuwe minister van elektrisiteit is ook nie by die bedrag ingereken nie.

“Die DA verwerp Ramaphosa se misbruik van ʼn kragkrisis wat die ANC veroorsaak het as ʼn geleentheid om net meer patronaatskap na sy medekaders te versprei.

“Ons het reeds die ministeriële handboek by die OB aangemeld oor die oënskynlike feit dat daar geen wetgewing is wat vir die bestaan daarvoor voorsiening maak nie,” sê Schreiber.

Dat Ramaphosa kan opstaan en ʼn toespraak lewer wat belastingbetalers dadelik miljoene rande kos – sonder enige parlementêre oorsig of kosteberekening – bevestig dat die handboek net ʼn onwettige manier is om ANC-korrupsie te bevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

53 Kommentare

Truman Burbank ·

Dit begin al hoe meer lyk na siek humor. Ons is iemand se comedy show.

Truman Burbank ·

Laksman. Elke land het sy eie “script”. Kyk watse joke was NZ

Koos 100 ·

Waarvoor die komidiante baie duur betaal word deur mense wat nie die show wil kyk nie!

Pietertjie ·

The Truman Show. Gekke-paradys. Minister van kragskepe en diesel-aankope sonder Wetgewing.

Snowball ·

Ongelukkig word die mini(disa)sters se salarisse nie gekoppel aan prestasie of vermoë nie. Hoe dowwer hoe groter die pay check. Dis ‘n wonder hulle vee self hulle agterente af en betaal nie iemand om dit ook te doen nie.

Nie Verbaas ·

Ja, al wat jy sal hoor in hulle vergaderings oor probleme is eish eish haibo.

Truman Burbank ·

Nicholaas. Die regering se aanstelling is baie hoër as verkiesings

otter ·

Hoekom word dit nie gestop nie … Hoekom word die net aanvaar!! Als gaan al hoe meer agter uit en dit word net aanvaar!!!!

Koos 100 ·

1. Want die meerste , nie belastingbetalende, mense in SA het hulle volmag gegee tydens die laaste verkiesing, om hierdie dinge te doen.
2. Die regering het GEEN verantwoordelikheid sin nie.
3. Daar is GEEN gevolge vir die ouens wat dit veroorsaak nie.
Ek kan nog aangaan, maar my grootste fout was om te dink dat CR die ANC en die land sou kon lei en reg maak. Ek is bevrees dat die ANC nie die wil of kennis of lus of moed het om die verval te keer nie, en net staat maak op hulle verlede, vir stemme en die raskaart vir toekomstige stemme.

Watsenaam ·

Ek was onlangs met vakansie in KZN. .n Paar vd mense wat ek me gesels het het die volgende gesê: Die ANC dwing die Zulu bevolking om vir hulle te stem. Hulle word by die stembusse met hul lewens gedreig. Daarom stem hulle vir niemand nie. Hulle verstaan nie dat die mense by die stemlokale nie hulle stemme kan sien nie. So maklik soos dit. Ta Ta RSA.

Charmain ·

Dit vat 4 onbevoegde mense om die werk van 1 bevoegde persoon te doen. Pleks dat hulle minder ingemeng het en De Reyter gelos het om sy werk te doen

domheks ·

Kaders soek ‘n ou geldjie voor die cANCer in die pomp ……..

Laksman ·

Kon nie help om n knoop te los net van die opskrif nie!!!

Maritza ·

So wat gaan hulle presies doen om daai tipe salaris te regverdig?

Marius ·

So word die alledaagse burger net meer deer die ore gerwerk , en ons moet net betaal.
Wanneer word die gebou in die Kaap herstel na die terroris dit beskadig het , of is dit nou maar reg dat die gebou so staan en vergaan ??? Gebruik die nuwe minister se geld en herstel dit eers voor julle die persoon wil aanstel , hy gaan in elk geval niks doen nie.

CHRISTINE ·

Dis eenvoudig balaglik. Ek kan nie glo wat ek sien gebeur nie en voel absoluut geterroriseer en geskend.

John ·

Hoe vinniger ons besef ons moeilikheid is direk gekoppel aan politiek, hoe beter.
Politikuste is nie daar vir ons nie – hulle is bloot daar vir hulle eie gewin en sal skep soveel hulle kan in die tyd wat hulle gegun word.

Samuel ·

Dit geld vir ALLE politici. Hulle sien om na hulself, dit is die VF+, die DA, die ACDP, Good et al.

Brombeer80 ·

Dit is net bewys dat die regering een ramp vervang met n ander. Twee (of eerder 4) minusse maak nie n plus nie.

Blomkind ·

En so sal dit aan ploeter tot daar nou regtig bokkerol meer is om te gee nie…Wonder wie gaan dan vir wie in die ogies kyk…

Prikkie ·

Kom ons bly by die punt – die ANC en sy nikswerd ministers word meer en doen al hoe minder vir die land en sy bevolking. Dit is waaroor dit gaan.

Katinka ·

Raak gewoond aan dit, die ANC gaan nog lank regeer as sê mense wat.

Mariana ·

Die belastingbetalers is voos betaal aan stoelsitters wat niks beteken nie. Hoekom word hulle toegelaat om dit te doen. Al die politieke partye praat en praat maar hulle doen niks om dinge beter te maak nie. Als neuk net voort op dieselfde trant. Ramapoza maak leë beloftes en almal kla en kerm maar als bly dieselfde. Iets sal moet gebeur om die spul uit hul slaap wakker te maak. Ons land is ten gronde.

Andre ·

Is die almagtiges nie ook deel van ongelykheid in die land nie. Skeer almal vir eens onder dieselfde kam en stop huigel

Blikkies ·

Ons almal, wel ek is een, betaal alreeds so baie belasting, ek het net nie meer geld om nog te gee nie. Ek voel al hoe ek agter-uit boer. Waar gaan dit eindig. Die Volk beter hulle oë oopmaak.

JohanR ·

Squirrel as president kan nie self ‘n besluit maak nie, dan moet hy ander aanstel en nog kommitees op die been bring. Waaneer het Squiirel soe nutteloos geword?

Althes ·

Solank as die belastingbetaler gemelk word, sal die ANC kaders nooit ophou om uiters dom besluite te neem nie. Sosialiste wat op kapataliste se rug ry.

Casper ·

Nou moet hulle de Ruiter uitlos dat hy sy werk kan doen,maar hoeveel mense het op MM aangedring dat hy afgedank word want hy het kwansuis nie sy werk gedoen nie.algehele eskom ineenstorting is onafwendbaar1,dit is net ‘n kwessie van tyd.

Kokerboom ·

Die ANC boewery moet NOU gestop word!Hierdie is die ideale voorbeeld en definisie van onbevoegdheid. CR is ‘n absolute skande!

Martie Smartie ·

Louis Liebenberg het mos gese hy gaan die ANC oorvat. Nou toe, Louis, dis nou n goeie tyd

Manie ·

BBP koste is by verre die grootste. Is hulle dan bang vir iets?

Koen ·

Vertel ons as jy weet hoe. Niks koop, nie ry nie, nie werk nie, jou huis verkoop?

George ·

en dan as al die geld en beskiktes weg is, gaan staan hulle maar net weer bakhand, gooi apartheid-rasisme, en “arme ons afrika” dan kry hul weer geld.

Meerkat ·

BELAGLIK. EN DIE LAND MOET KRIPEER VAN DIE HONGER EN ELENDE TERWYL HUL MILJOENE VERDIEN. DEUR NET TE SIT EN KYK EN NIE ‘N VINGER TE LIG OM TE WERK VIR DIT NIE. SKANDE.

Nie Verbaas ·

Die buiteland lê seker soos hulle lag vir die nuttelose regering. Die probleem is dat ons ook seker onder dieselfde kam geskeer word en as onnosel gesien word. Ramaphosa glo ek nie sal sy gesig in die openbaar wys nie want die beledigings wat na sy kant toe sal kom sal hy nie kan hanteer nie.

Rocco ·

Die regering moet nog ministers aanstel, om aangestelde ministers se gemors te help bestuur. Waar gaan dit eindig? Nee, mnr Ramaphosa, wanneer roep jy kundiges in? Nie ‘struggle’ veterane nie – hulle het nou genoeg ‘gestruggle’, en kom nie die mas op nie. Jy en jou klomp sukkelaars het alles vernietig in die land, wat soveel potensiaal gehad het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.