R15 miljoen se onwettige alkohol gevind

Argieffoto (Foto: Holger Detje/Pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het beslag gelê op 152 000 bottels alkohol ter waarde van R15 miljoen wat vir die uitvoermark bestem was.

Die Suid-Afrikaanse vereniging van drankhandelsnaameienaars (Salba) het die vordering verwelkom wat die SAID en die polisie in samewerking met Salba maak om belastingontduiking te kortwiek wat deur die onwettige alkoholbedryf veroorsaak word.

Die SAID het verlede week in ʼn pakhuis in Amersfoort in Mpumalanga op die 12 700 kaste alkohol afgekom. “Die deurbraak volg ná ʼn jaar lange ondersoek wat deur die alkoholbedryf ondersteun is,” het Sibani Mngadi, voorsitter van Salba, in ʼn verklaring gesê.

Volgens Mngadi skaf sindikate dié produkte, wat vir die uitvoermark bestem is, belastingvry aan, omdat die produk by die bestemming onderworpe sal wees aan aksynsbelasting.

“Die bottels se handelsmerke word dan gewysig om te verbloem dat dit vir die uitvoermark bestem is. Dit word dan teen ʼn mededingende koers aan die Suid-Afrikaanse mark verkoop. Aksynsvrye alkohol kan dan teen minstens 41% goedkoper verkoop word as alkohol waarop aksynsbelasting gehef is.”

Volgens Euromonitor International het die onwettige alkoholmark tot 22% gegroei van die totale volume van alkohol wat verkoop word ná die verbod op alkoholverkope in Suid-Afrika. “Sterk drank verteenwoordig 48% van die onwettige mark (hoofsaaklik deur smokkelary), gevolg deur tuisbrouery op 24% en suiker-gefermenteerde biere op 22%.”

Kurt Moore, uitvoerende hoof van Salba, sê dit is hoog tyd dat die regering besef watter impak beleidsbesluite soos die verbod op alkoholverkope of beperkings op handelstye op die mark het. Volgens hom sal die voortgesette beperkings die onwettige alkoholbedryf verder aanmoedig en verdere skade berokken aan wettige ondernemings wat gebuk gaan onder irrasionele maatreëls.

“As mens dinge in perspektief stel: In 2020 was die onwettige mark sowat R20,5 miljard – dit is R6,5 miljard meer as die R14 miljard-begroting wat die SAPD vir sy strafregtelike ondersoeke aanwend. In 2020 het die SAID sowat R11,3 miljard afgestaan aan die onwettige alkoholbedryf – dit is R1 miljard meer as die R10,3 miljard wat vir Covid-19-entstowwe vrygestel is,” het Moore bygevoeg.

Hy sê Salba sal steeds met wetstoepassers saamwerk om onwettige handel hok te slaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Persheks Adri ·

Sê dankie vir die tannie met die kopdoek sy’t mos die reëls gemaak vir drank en sigarette. Is sy en haar kinders nog steeds nie vervolg nie? Daar sal altyd ‘n mark wees in die land waar hulle dinge af dwing!

Sarel ·

Net soos mrt die Wsoen Verbod is Wetsgetroue Burgers nie die skuldiges nue maar moet wel die prys betaal.

Di ·

Hierdie kriminele dade is als ten danke aan die Regering met hulle bemoeisieke verbanning van alkohol en sigarette. Nie net het hierdie onwettige verkope die hoogte in geskiet nie, die Regering het hulle self in die voet geskiet en biljarde verloor aan belasting.

Hennie J ·

Het al heelparty mense gehoor wat se dit is so lekker om n naweek in Amersfoort deur te bring. Nou weet ek waarom!

Francois Le Cochon ·

Ek lees elders dat bekende SA handelsmerk wyne nou spotgoedkoop in VSA verkoop word om ontslae te raak van oorskotte.

SjN ·

Net n vraag, is dit dan wettig om die onwettige drank te drink, proe seker lekkerder?

Darkwing Duck ·

Pakhuis behoort seker aan ‘n parlementslid of familie van Cele.

Linda ·

Is die misbruik van ons belasting geld nie maar ook n oortreding nie !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.