R1,56 m. se mandrax in Baai gekry

Die polisie het op 26 000 mandrax-tablette beslag gelê by ’n huis in Linton Grange, Port Elizabeth. Foto: SAPD

Polisiebeamptes het op ʼn huis in Port Elizabeth toegeslaan en op derduisende mandrax-tablette beslag gelê.

Kol. Priscilla Naidu, Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die beamptes van die ondersoekeenheid na georganiseerde misdaad, misdaadintelligensie en Kabega Park se polisiekantoor het Sondag omstreeks 05:00 ʼn huis deursoek in Begonialaan in die middelklaswoonbuurt Linton Grange, noordwes van Port Elizabeth se middestad.

Die optrede was die gevolg van ʼn wenk wat hulle van die publiek ontvang en waarna hulle ʼn lasbrief gekry het om die woning te deursoek. “Hulle het op ʼn tas en twee sportsakke met 26 000 mandrax-tablette daarin in ʼn tuinwoonstel op die eiendom afgekom,” sê Naidu. Die waarde van die vonds is nagenoeg R1,56 miljoen.

ʼn Man (49) is in hegtenis geneem vir dwelmhandel en sal na verwagting Maandag in Port Elizabeth se landdroshof verskyn.

“Dis belangrik om dwelmhandelaars in hegtenis te neem,” het lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, oor die suksesvolle optrede gesê, “maar ons moet onthou daar is ʼn selfs groter noodsaak om die vervaardigers en verskaffers in hegtenis te neem en [die vervaardiging] stop te sit.”

Sy sê die SAPD sal volhard in hul pogings om die dwelmhandel lam te lê wat die lewens van “onskuldige jong mense” verwoes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alida 2 ·

Nog ‘n verhaal waar die polisie ‘n publieke wenk suksesvol opgevolg het.
Samewerking kry baie vermag.
Die dwelms moet nou net heeltemal vernietig word en nie deur korrupsie tog op straat beland nie en dit is nou vir die SAPD om daarvoor te sorg.
Welgedaan lid van die publiek en SAPD

Johan H. ·

Sorrie mater as dit nou dagga was ,was jy n hero,Plaas jy nog so paar maande aangehang het, miskien sou dit ook wettig verklaar word deur die dof koppe wat dink hulle weet als,,,

HENRIETTA myburgh ·

ja stem vernietig die goed maar nou ja dis nou ongelukkig ook bewysstukke ne

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.