R18,5 miljard aan belastingbetalers uitbetaal

geld ekonomie suid-afrika

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse inkomstediens (SAID) het Sondag gesê hy het vanjaar R18,5 miljard aan 2,22 miljoen belastingbetalers uitbetaal teen die afsluiting van die belastingseisoen vir nie-voorlopige belastingbetalers. Dit is 26% meer uitbetalings as verlede jaar.

Die sperdatum vir individuele belastingbetalers om hul belastingopgawes in te dien was die afgelope Vrydag. Voorlopige belastingbetalers het nog kans tot 31 Januarie 2018 om hul belastingopgawes deur die eFiling-stelsel in te dien.

Volgens SAID is daar altesaam 5,6 miljoen belastingopgawes ingedien voor die 2016/2017-belastingjaar se sperdatum. Net meer as 4,3 miljoen van hierdie opgawes was vir die 2016/17-belastingjaar, terwyl 1,28 miljoen van die opgawes wat ingedien is vir vorige jare was. Altesaam 97 836 van die indienings was deur trusts.

Meer as 93% van die totale belastingopgawes wat ingedien is, is binne 24 uur geprosesseer.

Volgens SAID het altesaam 91,98% van belastingbetalers wat ʼn terugbetaling moes ontvang, en nie vir ʼn oudit of risiko-verifikasie gemerk is nie, hul terugbetaling in minder as 72 uur ontvang.

Die SAID het verder gesê daar is gedurende die 2017-belastingseisoen R2,7 miljard se bedrieglike eise voorkom, wat die fiskus van potensiële inkomsteverlies gered het. Dit is ʼn 50% verbetering van verlede jaar toe R1,8 miljard se bedrieglike eise voorkom is.

SAID-werknemers by die verskillende takke en die inbelsentrum moes vanjaar omtrent bontstaan om die hoë volume navrae en versoeke te hanteer. Meer as 50 000 belastingbetalers is buite die normale kantoorure gehelp. Volgens die inkomstediens was daar ook aansienlik meer belastingbetalers wat van SAID se digitale kanale gebruik gemaak het om hul opgawes in te dien.

Tom Moyane, SAID-kommissaris, het belastingbetalers bedank wat hul opgawes voor die sperdatum ingedien het. “Om belasting te betaal is die hoogste vorm van patriotisme,” het hy gesê. Hy het gesê die SAID is toegewyd daaraan om te verseker dat hy sy inkomste-invorderingsteiken behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Kobus Botha ·

Baie dankie Maroela Media vir die wonderlike nuus terugvoering wat julle vir ons gee. News24 pla my nie eers meer as ek dit nie kan lees nie. Hou so aan julle is tops. Baie dankue

Dink net ·

Dink net (indien ek reg gewerk het) is myne 0,003% daarvan.

Piet Pompies ·

Die ontvanger het nie my vrou se uitbetaling gedoen, sy moet eers belasting vorms vir 2004, 2005 en 2006 invul. Dit is langer terug as wat dit van ons as burgers vereis word on dokumentasie te behou (5jaar). Weet nie waar gaan ons daardie inligting kry.

Mariné Lourens ·

Dagsê DS

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Stefan ·

My R4 785.87 terugbetaling is na amper 3 maande nog nie gedoen nie! Ek het nou versoek dat die maandelikse belastingaftrekking van my pensioeninkomste verminder word sodat ek SARS eerder geld skuld wanneer ek ‘n opgawe moet indien (en dan te betaal), eerder as om te wag vir ‘n terugbetaling.

Peet ·

Ek is bly vir diegene wie se geld al terugbetaal is. Ek kan ongelukkig nie dieselfde sentiment teenoor SARS hê nie. My terugbetaling sloer nou al 5 maande!!! (Het opgawe op 1 Julie ingedien). Ek moes my ritboek nou al drie keer oordoen, want hulle “verstaan” nie my privaat kms nie, sê hulle. My boekhouer het my gewaarsku SARS gaan hierdie jaar sloer om geld terug te betaal, en dat SARS alles in hulle vermoë gaan doen om nie uitbetalings te maak nie. Blyk in my geval waar te wees. Ek is moedeloos, want ek werk ook maar net vir ‘n salaris.

DS ·

Een dag by werk afgevat om my opgawe persoonlik by die SARS kantoor in Alberton in te dien. 2 ure gevat. Maar my uitbetaling was volgende dag in my rekening. Nog NOOIT probleme met my uitbetaling gehad nie. Miskien omdat dit minder as ‘n sekere bedrag is?

Leahim ·

Hoe eis ek terug vir die gedeelte wat gaan vir polisie salarisse hulle doen nie hulle werk so daar kan nie verwag word dat ek moet betaal nie.?

JoeV ·

4.3 miljoen opgawes vir huidige jaar (res was vir vorige jare), dit is onder 10% van die populasie, 18 miljoen is op toelaes, en die ekonomie groei teen onder 1 %…

Hansie slim ·

Gaan Zupta en kie. ook hulle “terugbetaling” kry?

Jacques venter ·

n Mens is verjeug dat SARS so vinnig uitbetaal. Dit seker maar toeval dat ek, my familie en vriende nog niks terug gekry het nie

PJC ·

As ń mens in aanmerking neem wie nou die baas van SARS is en na sy rekord kyk dink ek nie ń mens moet alles wat gesě word vir soetkoek opeet en te gou opgewonde raak nie. As jy help om skelms te beskerm kan jy lieg ook.

SjN ·

Na ek weereens geoudit is en n klomp sinnelose inligting moes voorsien is my geld na 2 weke inbetaal. Wonder of Z en Kie se versuim vir inhandiging deel vorm van hul statistieke

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.