R1,9 miljoen vir NVI van Mandela-arrestasiebevel

(Argieffoto)

Oudpres. Nelson Mandela se destydse bevel vir inhegtenisneming is die naweek vir R1,9 miljoen in Kaapstad as nieverwisselbare item (NVI, ook bekend as NFT) opgeveil.

“Dié lasbrief vir hoogverraad is ’n buitengewoon waardevolle NVI,” sê die Suid-Afrikaanse digitale afslaer Momint oor die digitale weergawe van die bevel vir inhegtenisneming wat spesiaal gemunt is – 61 jaar nadat dit vir die eerste keer uitgereik is.

Die verkoop van kuns as NVI’s behels dieselfde tegnologie as wat vir kriptogeldeenhede soos Bitcoin gebruik word. Die koper ontvang ’n geverifieerde digitale bewys van die egtheid van die kunswerk.

Die oorspronklike weergawe van Mandela se bevel vir inhegtenisneming word by die plaas Liliesleaf in die noorde van Johannesburg bewaar. Die erfenisterrein is in ʼn finansiële verknorsing en sal in die opbrengs van die opgeveilde NVI deel.

“Sover ons weet, was [die bevel vir inhegtenisneming] wat hulle gebruik het om Nelson Mandela destyds in hegtenis te neem,” sê Nicholas Wolpe, Liliesleaf se stigtingsdirekteur.

Die handgeskrewe bevel vir inhegtenisneming by Liliesleaf is sover bekend die enigste kopie daarvan.

Nelson Mandela se destydse bevel vir inhegtenisneming as NVI opgefeil. (Foto: Momint/Facebook)

Mandela is op 5 Augustus 1962 in hegtenis geneem nadat hy van ʼn oorsese reis teruggekeer het om steun vir die ANC se gewapende stryd te werf. Die sogenaamde Rivonia-verhoor het in 1963 gevolg en Mandela is op 12 Junie 1964 tot lewenslange tronkstraf op Robbeneiland gevonnis.

Hy het eindelik 27 jaar tronkstraf uitgedien voordat hy enkele jare later in 1994 tot Suid-Afrika se eerste demokratiese president verkies is.

Liliesleaf in Rivonia het tussen 1961 en 1963 as die ANC en Umkhonto weSizwe (MK) se “geheime wegkruipplek” gedien. Die polisie het egter in 1963 op die plaas toegeslaan en inkriminerende dokumente gevind wat tot die inhegtenisneming van verskeie ANC- en MK-leiers gelei het.

Die plaas is later tot erfenisgebied verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

SjN ·

En danksy die Anc is die eens mooie land tot rommel status verklaar.

Wondermaarnet ·

Waarheen gaan die geld? Seker vir zumpie se regskostes.

Deon ·

“anything for a buck”…. Aan “wie” behoort hierdie vorm? Is dit nie staats eiendom nie?…. Wie gee enige instansie of groep of persoon die reg om van ons erfenis simbole te verkoop… Is Nelson Mandela nie n simbool van ons geliefde nuwe demokrasie nie, en dan natuurlik alles wat gehelp het om daaraan te bou nie?…… Hierdie arrestasie bevel, hoe het dit uit Mandela se legger in die museum beland? Wie gee enige een die reg om arrestasie bevele op te veil?

JL ·

Glo seker onwrikbaar in die gesegde. Geld wat stom is maak reg wat krom is.

Blikkies ·

Jislaaik, kan die ou nie sy geld op iets anders mors nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.