R20 000 vir inligting oor De la Rey-beeld

Genl. De la Rey se bronsbeeld (Foto: FAK)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het ’n beloning van R20 000 uitgeloof aan enigiemand wat kan help om die gesteelde bronsbeeld van genl. Koos de la Rey op te spoor.

Maroela Media het berig dat dié 104 jaar oue beeld die afgelope naweek van sy graf in die Lichtenburg-begraafplaas in Noordwes gesteel is. Die graf het ook onder vandale deurgeloop.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het gesê die organisasie glo dat daar steeds ’n kans is om die oorspronklike beeld terug te vind.

Die FAK het vroeër aangedui dat hy die gesteelde beeld gaan vervang en het reeds vir Jacques Müller, ’n beeldhouer van Pretoria, aangestel om ’n “onvernietigbare replika” te maak. Die koste hiervan is nog nie bepaal nie.

“Ons gaan steeds voort met die vervanging van die beeld met die replika. Indien ons die oorspronklike beeld terugkry, sal ons dit op ’n veilige plek bewaar,” het Langner gesê.

“Die oorspronklike beeld is onvervangbaar, aangesien die meeste van Fanie Eloff se gipsafdrukke ná die Tweede Wêreldoorlog vernietig is, waaronder die grafbeeld. Daarom doen ons soveel moeite om dit terug te vind.”

Die bronsbeeld van die geskiedkundige boeregeneraal is in 1917 deur Eloff gemaak.

Die FAK het ook ’n klag by die polisie ingedien en met verskeie skrootwerfeienaars in verbinding getree, sou die beeld daar opduik.

Die VF Plus het intussen ’n beroep op inwoners gedoen om met inligting vorendag te kom.

“Die skending van hierdie kulturele baken van ’n volksheld beklemtoon opnuut die omvang van die uitwerking wat misdaad op alle terreine van die samelewing het,” het Fanie du Toit, VF Plus-lid van die provinsiale wetgewer in Noordwes, gesê.

“Die feit dat selfs gemeenskappe se kultuurskatte nou deur misdadigers geteiken word, is ’n aanduiding van die vlak van morele en algemene verval wat toenemend onder die ANC-regering beleef word.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ronelmp ·

Dankie vir die kraakvars nuus wat aan die lesers bekendgestel word. Enige nuus wat die verbeelding in sy spore stut, is van onskatbare waarde. Dit is inderdaad die positiwiteit wat deur middel van woorde en leesstof oorgedra moet woorde aan die uitgehongerde en uitgemergde wese in ons siele. Hoop, liefde, vrede, samehorigheid, empatie, geduld, omgee, luisteraar, liefdevol, self respek. Ek is trots om deel van die Maroela enote te wees. baie dankie.

Tanniepetoors ·

Hierdie is regtig onrusbarende en hartseer nuus. Mens wonder of die “diefstal” gepleeg is uit finansiële of politieke misplaaste persepsies.

Charles ·

Stem saam met wat die FAK sê!! Oorhandig die saak aan Gerrie Nel en Afriforum!!

Abie ·

Waarom word n waardevolle (enige kultuurhistoriese monument, standbeeld, gebou, plek) nie opgepas nie. Daar is tog instansies verantwoordelik vir die versorging en instandhouding van sulke goed. Kan jy jou voorstel dat bv. die standbeeld van Nelson, Trafalgarplein of die graf van die onbekende soldaat in Amerika sommer net in die nag weggedra word?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.