R20 vir kind ná verkragting

Argieffoto

’n Man van Ga-Makanye in Limpopo is lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy die bure se tienjarige dogtertjie herhaaldelik verkrag het. Hy het ná een van die verkragtingsvoorvalle die kind R20 gegee.

Die man, wie se identiteit weerhou word om die kind te beskerm, was die dag van dié betrokke verkragting op 21 Maart verlede jaar by die bure se huis toe dié bure hul dogtertjie winkel toe gestuur het. Die man het dadelik nadat die kind by die huis weg is, óók verdwyn.

Dit het laat geword en die kind het nie teruggekeer nie waarna daar na haar gesoek is. Sy is later opgespoor en het ʼn R20-noot by haar gehad. Die kind het verduidelik dat die buurman dit aan haar gegee het nadat hy haar verkrag het.

Die kind was in pyn en is hospitaal toe geneem waarna die voorval by die polisie aangemeld is.

Die kind het onthul dat die man haar na ’n halfgeboude huis geneem het, waar sy verkrag is. Sy sou daarna onthul dat sy twee keer vantevore by die huis deur die buurman verkrag is.

Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Limpopo, sê die man is in hegtenis geneem vir verkragting. Hy het onskuldig op die aanklag teen hom gepleit.

Hy is egter deur middel van DNS aan die verkragtings verbind.

Die kind se ma het in haar slagofferimpakverklaring gesê die kind, nou 11 jaar oud, sukkel sedertdien met haar humeur. Sy is aggressief teenoor haar klasmaats en oneerbiedig teenoor volwassenes. Haar skoolpunte ly ook daaronder.

Die ma het in die verklaring aangedui dat haar gesin se lewe weens die verkragting verwoes is. Sy vertrou ook nie meer iemand rondom haar kinders nie.

Die man is Woensdag tot lewenslange tronkstraf in die Mankweng-streekhof gevonnis.

Die NVG het die vonnis verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Persheks Adri

Wat op dees aarde gaan aan met die mense? Jy’s siel siek in jou kop ou. Daai kind is vir die res van haar lewe in haar glory in!

Hoop hy kry GEEN parool nie pffft!

Misky

Hulle lewenslank en my lewenslank verskil hemelsbreed. Wat n feit is, is dat daai arme meisie lewenslank geskend is en daarmee moet saamleef. Dis lewenslank!!!!

Dries

Ons almal weet van Ninow. Maar niemand ken hierdie man se naam nie. Ja ja, ek weet dit is om die kind se identiteit te beskerm, maar steeds. Interessant hoe die media en sosiale media werk.

Jakes

Hierdie afgryslke daad word gereeld aangemeld en in baie gevalle word die slagoffer vermoor. Nsiek gemeenskap in n siek land is n goeie beskrywing van wat in SA aangaan.

Niklaas

Daar word beweer dat geharde misdadigers soos bylmoordenaars in tronke geen respek het vir hierdie klas krimineel nie en derhalwe ontgeld kinder verkragters dit agter tralies. Geen simaptie vir hom.