R200 000 borgtog vir ‘MTN-bedrieër’

Argieffoto

Die telekommunikasiereus MTN se rekenmeester wat verdink word die bedrog, diefstal en geldwassery van R24 miljoen, is Donderdag vrygelaat op borgtog van R200 000 in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Johannesburg.

Branden Ruth Moshabane staan tereg op 16 aanklagte van bedrog, diefstal en geldwassery.

“Wanneer ek na die bewyse kyk, het die staat ʼn sterk saak,” het landdros Jerry van Vuuren gesê toe hy sy uitspraak gelewer het. Hy het gesê daar word nie vermoed dat Moshabane met enige bewyse of getuies sal inmeng nie.

“Sy het sterk emosionele bande met haar familie, eiendom en ondernemings, en dit gaan ʼn tyd duur voor die ondersoek afgehandel is,” het hy gesê.

Adv. Piet du Plessis, vir Moshabane, het ʼn beëdigde verklaring van sy kliënt aan die hof voorgehou waarin sy aandui dat sy verstaan die staat is besorg dat sy nog ʼn misdaad sal pleeg en nie vir haar hofsaak sal opdaag nie. Sy het egter gesê die ondersoekbeampte se uitlatings was nie feitelik korrek nie en sy ontken bewerings dat ʼn sindikaat betrokke was. Sy het gesê sy is glad nie bewus van ʼn beweerde onttrekking van R90 000 uit haar rekening in ʼn sekere stadium nie. “Die ondersoekbeampte skep die indruk dat ek verantwoordelik is vir die onttreking,” het sy in die verklaring gesê.

Volgens die verklaring is haar enigste ander inkomste uit ʼn steenkoolmaatskappy waar sy ʼn direkteur is en R30 000 verdien, asook aandele ter waarde van R800 000 en ander beleggings.

Moshabane het dit onder die hof se aandag gebring dat sy bloedarmoedig is en medikasie ontvang en ʼn spesiale dieet moet volg, wat die tronk nie bied nie. Dit lei daartoe dat sy swak voel.

Die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) se handelsmisdaadeenheid vir ernstige oortredings in Johannesburg het die 42-jarige Moshabane op 18 April by MTN se hoofkantoor in Fairlands in hegtenis geneem op aanklag van bedrog en diefstal ter waarde van ongeveer R24 miljoen.

Du Plessis het gesê sy kan nie van enige van haar bates ontslae raak nie, hangende die uitslag van die hofsaak.

By Moshabane se vorige hofverskyning het die staat gesê hulle verwag die betrokke bedrag is meer as R50 miljoen, aangesien hul ondersoek voortduur en hulle vermoed die transaksies dateer terug tot in 2011.

“Daar is geen feite van die ondersoekbeampte nie, dis net spekulasie,” het Du Plessis bygevoeg.

Moshabane werk al meer as 13 jaar by MTN maar is geskors ná haar inhegtenisneming.

“Sy het nie bekend gemaak hoeveel eiendom sy besit nie en ons kan nie seker wees dat daar nog eiendom is waarvan sy ontslae kan raak nie,” het staatsaanklaer Bongani Chauke aan die hof gesê. Moshabane se vorige verklaring het aangedui sy het vyf eiendomme, sewe voertuie en ʼn aantal beleggings. Die staat het vroeër aan die hof gesê Moshabane het eiendomme wat sy nie bekend gemaak het nie. Sy het slegs die eiendomme aangedui waarna die staat verwys het in haar verklaring.

Moshabane het na bewering geld van MTN na haar persoonlike rekening oorgeplaas tussen 16 Julie 2015 en 4 April 2017. Die bank het MTN-bestuur gekontak oor verdagte transaksies in haar rekening.

Die saak hervat op 20 Junie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Scalla ·

Swak kontrole van mtn, met die gesteelde bedrag geld is sy maar n onder presteerder wat bates aan betref, mag sy boet en ons sel kostes verminder word

Vaalseun ·

Ek het MTN se ouditeure al in 2014 gewaarsku met voorbeelde van verdagte transaksies. Ek het ook gevra wat is MTN se Bedroglyn of Forensiese kontaknommer. Ek wag nou nog vir ‘n antwoord. G’n wonder MTN kon die bedrog nie self ontdek nie. Die bank moes hulle inlig dat hulle personeellid hulle bedrieg.

eish ·

Refleksie op ouditeure. Swak dat so n reeks blatante onwettige transaksies die vergrootglas vryspring. Uiters swak kontrole maatreels. Uiters swak finansiele bestuur. Geen wonder hul het so n helse stywe boete in Nigerie gekry nie. Mag die aan deelhouers hul n klipharde tyd gee. Sies MTN!

Gerrie ·

Sulke skelms het ons nie nodig in ons land nie,probeer om elke hoek om hulle self te veryk

Scalla ·

Gerrie, hul volg net hul leiers na, hul stel mos die voorbeeld.

snoefie ·

het die doodsjis manne nie ook steek emosionele bande met hulle families gehad nie? hulle het verseker werk gehad. hulle sit steeds in aanhouding ondat die sapd nie hulle “rent a crowd” van voor die hof wou verwyder nie.

snoefie ·

het die doodskis manne nie ook steek emosionele bande met hulle families nie? hulle het verseker werk gehad. hulle sit steeds in aanhouding ondat die sapd nie hulle “rent a crowd” van voor die hof wou verwyder nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.