R2,3 miljard se onwettige goedere onderskep

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het in die afgelope finansiële jaar op meer as R2,3 miljard se onwettige goedere beslag gelê.

Sandile Memela, woordvoerder van die SAID, het gesê dit sluit alle onwettige of vervalste goedere in waarop daar van 1 April 2017 tot 31 Maart 2018 beslag gelê is.

Volgens Teboho Mokoena, die hoofbeampte van doeane en aksyns, is die grootste deel hiervan vervalste klere, skoene en ander goedere wat R1,8 miljard van die totale beslagleggingswaarde opmaak.

Dit word gevolg deur dwelmmiddels, insluitend tik en kokaïen, ter waarde van R326 miljoen. Daar is in die afgelope finansiële jaar in 728 verskillende voorvalle op dwelms beslag gelê.

Daar is ook op sigarette ter waarde van R29 miljoen beslag gelê en op alkohol ter waarde van R4,6 miljoen. Daar is in 55 verskillende voorvalle op bedreigde dierspesies of dierprodukte, insluitend perlemoen en renosterhorings, beslag gelê. Die waarde van hierdie beslagleggings was altesaam meer as R45 miljoen.

In die finansiële jaar is daar ook in 214 verskillende voorvalle op viagra of generiese viagra-middels beslag gelê. Die gesamentlike waarde van dié beslagleggings was meer as R17 miljoen.

Mokoena het verskeie voorvalle wat uitgestaan het genoem, insluitend ʼn voorval waar renosterhorings ter waarde van R5 752 000 by die OR Tambo Internasionale Lughawe onderskep is toe dit van Suid-Afrika na Hongkong gestuur is.

Nog ʼn belangrike beslaglegging was kokaïen ter waarde van R56 miljoen wat van Brasilië na Australië via Suid-Afrika gestuur is, maar op die OR Tambo-lughawe gevind is, asook kristalmetamfetamien ter waarde van R7 200 000 wat vanaf Nigerië na Suid-Afrika gestuur is, maar ook op die lughawe gevind is.

In nog ʼn voorval is daar beslag gelê op Amerikaanse dollars ter waarde van R6 717 848 wat vanaf Suid-Afrika na Dubai gestuur is, terwyl beamptes ook in ʼn ander voorval beslag gelê het op perlemoen ter waarde van R10 miljoen wat vanaf die Port Elizabeth-lughawe na China op pad was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

as ek mag vra ·

wat het van veral die klere en skoene geword? sal so goed wees as dit aan die armes uitgedeel was.

Cherokee ·

en die USA$ ter waarde van sowat R6¾M. Het uit ‘n vertroulike bron gehoor ons persoonlike belasting gaan verminder word en die prys van petrol gaan daal weens daardie finansiële inspuiting. (amper sê ek viva anc maar toe bedink ek my :-)

John ·

…. waar het jy daai biertjie gekoop wat jy laataand gedrink het… dis dalk ook een van daai… goeie-boodskap-invoere. Miskien moet die goedere wat wettig vanaf die Ooste ingevoer word ook onder die loep geneem word vir die brandstapel want buiten dat alles grys is, en die vroue vanaf ouderdon 20 nou al hul hare grys kleur om by die uitrustings te pas, is die spulletjie klaar en gaar na die eerste was maar Sjina se prez dien vir ewig. Huh?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.