R25 000 beloning vir vermiste hond

(Foto: Verskaf)

Die eienaar van ʼn driejarige Australiese beeshond wat op 24 Februarie van ʼn kleinhoewe in Colleen Glen buite Port Elizabeth verdwyn het, het ʼn reusebeloning aangebied om haar “hondekind” huis toe te bring.

Anneli van Jaarsveld, Marco se eienaar, het haar tot sosiale media gewend om hulp te vra om dié hond op te spoor.

Van Jaarsveld het ʼn Facebook-blad genaamd “Bring Marco Home” gestig en haar pleidooi om Marco terug te kry is al meer as ʼn halfmiljoen keer op sosiale media gedeel. ʼn Beloning van R25 000 is uitgereik vir die persoon wat Marco terugbring.

“Hy is my alles, my kind en my lewe. Hy gaan oral saam met my. Ek weet nie hoe ek sal regkom sonder hom nie,” het Van Jaarsveld aan Maroela Media gesê.

Marco het op 24 Februarie oudergewoonte saam met Van Jaarsveld buitentoe gegaan omdat daar mense by die hek was. Van Jaarsveld het ʼn perdeplaas en ʼn gastehuis op die kleinhoewe waar sy saam met haar man woon.

“Daar sou mense die oggend kom perdry op die plaas, so ons het uitgeloop buitentoe. Marco hardloop altyd na die hek toe om die mense te gaan groet. Ons het die hek oopgemaak, maar die motor het nie ingery nie. Hy was ook nie só geparkeer dat ons kon sien wie in die kar is nie. Die hek het toe outomaties toegegaan toe niemand inry nie. Die kar het weggery en Marco was nie meer daar nie.”

(Foto: Verskaf)

Van Jaarsveld het gesê sy het vroeër die oggend dieselfde kar verby hul kleinhoewe sien ry, maar het geen onraad vermoed nie.

“Ek het so 07:00 daardie oggend ʼn ou blougroen BMW by ons plot sien verbyry. Dit was vreemd want daardie straat is baie stil, en die BMW het baie stadig gery, maar ek het gedink die mense soek dalk net ʼn adres of is ʼn bietjie verdwaal,” het Van Jaarsveld gesê.

“Marco is altyd by my, 24 uur van die dag. Hy lê in die arena as ek perdry, as ek gaan inkopies doen is hy saam, as ek in die oggende te laat slaap, trek hy al my komberse af. Die kans dat hy op sy eie sou wegloop is nul. Hy slaap tussen my en my man op die bed en almal is só lief vir hom.”

Van Jaarsveld het gesê sy wil nie eens dink aan die moontlikhede waarvoor die mense vir Marco gesteel het nie.

“Ek het geen persoonlike wrokke nie, so dit sal nie wees om vir my by te kom nie. Ek het gedink dit is dalk omdat Marco so ʼn skaars hond is, dat mense hom sal steel. Maar mense wat só tipe kar ry, sal heel moontlik nie eens weet van dié honderas nie. Indien dit so is, moes iemand hulle betaal het om my hond te steel,” sê sy.

“Die ander opsie is natuurlik dat hulle hom gesteel het vir hondegevegte, en Marco het nogal ʼn kwaai blaf! Marco is nie regtig die honderas wat hulle gewoonlik gebruik vir hondegevegte nie, maar soms word ander rasse gebruik om die honde wat veg uit te lok. Maar ek wil nie eens daaraan dink nie,” het Van Jaarsveld gesê.

(Foto: Verskaf)

Op die skarefinansieringswebtuiste, Go Fund Me, het almal saamgespan om die groot R25 000 beloning vir Marco bymekaar te maak.

Van Jaarsveld sê sy hoop en bid dat Marco gevind gaan word. Sy sê sy is reeds oorval met boodskappe van mense wat wil help om vir Marco huis toe te bring.

“Hy is my kind. My goed is sy goed, my mense is sy mense, my kinders is sy kinders. Die mense het die verkeerde hond met die verkeerde eienaars gesteel, want ons gaan nie ophou na hom soek nie. Ons wil net hê die mense wat hom gevat het moet sien dat dit meer waardevol is om hom vir my terug te gee as om hom dood te maak of in hondegevegte te gebruik,” het sy gesê.

Marco is ʼn bruingrys Australiese beeshond, die punt van sy linkeroor is af en hy reageer op sy naam. Die voertuig waarmee hy vermoedelik gesteel is, is ʼn blou-groen BMW 3 reeks met ʼn GP nommerplaat. Enigeen met inligting kan vir Anneli bel by 081 026 0825.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Linda Gouws ·

Annelie, my gebed vir jou is, dat Marco veilig huistoe gebring word!

BOLANDER ·

Ai, ek wens regtig hy word op gespoor.
Ek voel maar net so oor my honde kind. Kan my lewe nie sonder haar voorstel nie.

Lee ·

Hoop julle kry Marco baie gou terug. Hoop iemand lees die berig wat iets weet. Baie baie sterkte.

Trudie ·

Ai dis hartseer! Neem aan hy het nie n Micro chip aan sy oor nie. Weet nie hoe kan iemand so gemeen wees nie. Asb asb asb vat Marco terug!?

PJC ·

Die ouens wat die hond weg het weet duidelik hoe werk dinge op die hoewe daarom het hulle so maklik die dier by die hek uit gekry. Dalk nie die eerste keer wat hulle die plek besoek nie.

Erica Roos ·

Versprei die nuus dalk in ander tale ook of stuur die boodskap uit na naby gelee plakkerskamp of plaaswerkers, dalk verstaan iemand nie die afrikaans of engels maar in hulle eie taal en kan hulle help of inligting gee of so iets, nee man vir so baie geld sal iemand iets weet

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.