R250 000 glo betaal om Supra ‘vir ewig stil te maak’

Premier Supra Mahumapelo. Foto: ANA

Sluipmoordenaars wat glo gehuur is om Supra Mahumapelo, premier van Noordwes, te vermoor is na bewering reeds R250 000 betaal om dié moord uit te voer.

Dié inligting het aan die lig gekom nadat Mahumapelo se kantoor Sondag gesê het hulle het inligting ontvang oor die beweerde komplot om hom te vermoor.

Sussana Dantjie, waarnemende provinsiale sekretaris van die ANC, het gesê die party is geskok en ontsteld oor die beweerde komplot om Mahumapelo te “vir ewig stil te maak”.

“Dit het onder ons aandag gekom dat die komplot die huur van sluipmoordenaars wat reeds ʼn groot hoeveelheid geld betaal is insluit. [Die huurmoordenaars] sal glo die res van die betaling ontvang wanneer hul hom klaar vermoor het. Ons loof die provinsiale voorsitter omdat hy ʼn saak van sameswering om moord te pleeg by die Mahikeng-polisiestasie aanhangig gemaak het. Hierdie is maar een van vele pogings om ons provinsiale voorsitter te vermoor.”

Brian Setswambung, die woordvoerder vir die Noordwes-regering, het in ʼn verklaring gesê die beweerde moordenaars is glo reeds R250 000 betaal. “Hierdie is een van vele pogings om Mahumapelo te vermoor – ʼn raadslid in Mahikeng was by die vorige [komplot] betrokke.”

Mahumapelo het verlede jaar vir die ANC se algemene raad gesê hy weet van nege mense wat hom wil dood hê. In Desember verlede jaar het sy kantoor gesê daar was ʼn dreigement om hom en sy gesin te vermoor en dat die baasbrein agter die komplot glo ʼn voormalige werknemer was wat saam met ʼn sindikaat gewerk het.

Dantjie het wetstoepassers gemaan om hul ondersoeke te bespoedig en alle deelnemers aan die beweerde komplot vas te trek.

Die Valke in Noordwes het laat hoor dat hulle die beweerde komplot ondersoek.

ʼn Vlaag gewelddadige betogings het die afgelope ruk deur Noordwes geruk met betogers wat Mahumapelo se bedanking eis. Die ANC sal na verwagting binnekort ʼn besluit oor die premier se toekoms aankondig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

leon ·

Alles wat die man kwytraak moet met ‘n groot knip sout geneem word. My raaiskoot ….’n wolhaarstorie met die doel om as afleier te dien.

Ella ·

Hoekom is hy nog daar? Hy sou “binnekort” verwyder wees of is “gevra” om te bedank. Is almal nou weer tevrede dat hy bly? Wat was dan die werklike rede vir al die oproer en skade?

neels ·

Dit is so ironies as jou soustrein rit op n einde kom , is daar altyd een of ander verskoning wat uit gedink word. Vat jou paai en waai jy het jou beurt gehad gee n ander een nou weer n plek. As hulle hom regtig wou uithaal het dit al lankal gebeur nie kamma nou eers nie. Daar gaan natuurlik een of twee van sy teenstanders nader gehark word maar sonder sukses van vervolging.

Vermeendes ·

Kul jou hier, kul jou daar!
As die SAPD of ANC reeds so baie weet soos, hoeveel geld al reeds betaal is dan moet hulle mos ook weet aan wie en hoeveel hulle is aat die geld gaan deel, nou hoekom is hulle nog nie gevang nie en waarom maak hulle sulke sensitiewe inligting bekend.

Ek sou se hierdie is valse aantuigings wat die SAPD ernstig moet ondersoek.

Cherokee ·

Uitdrukking vanuit my kinderjare… ‘n goeie begryper het ‘n halwe woord nodig.

Elizabeth ·

Ek verstaan nie hoekom die party “geskok en ontsteld” is nie … dit staan mos lankal in sterre en helderte geskryf. Hoe blind is die part nou eintlik???

Oom Kalahari ·

Die Premier is besig om na strooihalmpies te gryp en verwag nou weer spesiale lyfwag beskerming vir hom en gesin op belasting betalers se sakke. As daar ooit so komplot was dan sou hul alreeds dit deurgevoer het en “Vermeendes” is korrek dat as die SAPD dan kwansius so baie inligting het, waarom was daar dan nie alreeds arrestasies nie en kan die saak sodanig verder vorder. Nou weet almal wat aangaan as die saak dan so sensitief is. Nee wat die Premier probeer die soustrein goed ry en sy kaartjie het al verval en moet nou maar afklim.

Alida ·

Raak ontslae van hom deur hom af te dank sonder vergoeding. Nou gaan hy seker weer 20 lyfwagte kry waarvoor ons moet betaal.

Max ·

Gegee die werkloosheid probleem sal dit baie meer as 20 lyfwagte moet wees.

Cherokee ·

So Alida, jy stel voor hulle onteien hom sonder vergoeding.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.