R2K-veldtog maak stem dik oor internet-beleid

Argieffoto

Argieffoto

Die Right 2 Know-veldtog het Donderdag onderneem om sy veldtog te verskerp teen die Film-en-Publikasieraad (FPR) se konsepbeleid oor regulering van aanlynaktiwiteit.

Die Demokratiese Alliansie het intussen ook geëis dat Faith Muthambi, minister van kommunikasie, en die raad voor die parlement moet verskyn om te reageer op die ontsteltenis oor die dokument.

“Niemand moet onderwerp word aan die drakoniese sensuur wat die FPR beoog nie,” het Busi Mtabane, woordvoerder vir R2K, gesê. “Die R2K-veldtog word aangemoedig deur die hewige reaksie van die publiek die afgelope paar maande teen die regulasies.”

Verskeie dokumente is tydens die 90 dae periode vir openbare kommentaar op die konsepbeleid ingedien wat waarsku dat dit indruis teen vryheid van spraak. Die periode het amptelik Woensdag verstryk, maar die raad het gesê hy sal steeds kommentaar oor die konsepbeleid aanhoor.

“Ons verwelkom die besluit en sal steeds voortgaan met ons sterk teenkanting teen die konsepregulasies,” het Mtabane bygevoeg. “Ons eis steeds dat internetsensuur tot ʼn einde kom en dat die konsepbeleid in sy geheel geskrap word.”

Volgens die beleid sal alle individue en organisasies, wat digitaal inhoud wil oplaai, eers by die FPR moet registreer en ʼn fooi moet betaal wat deur die minister van kommunikasie voorgeskryf word. Die inhoud sal eers aan die raad voorgelê moet word vir klassifikasie of die inhoud sal self geklassifiseer moet word kragtens die raad se riglyne. Oortreding van die regulasies sal beskou word as ʼn kriminele oortreding en kan tot ʼn boete of ses maande tronkstraf lei.

In ʼn oënskynlike reaksie oor die reaksie teen die konsepbeleid, het die raad in beginsel ingestem om die regulering van joernalistieke inhoud na die Persraad van Suid-Afrika te verwys.

R2K het egter gesê dit is nie genoeg om hul besware aan te spreek nie. “Dit is nie net aanlynmedia waaroor ons besorg is nie. Die konsepregulasies is wyd genoeg om enigiemand in te sluit wat die internet gebruik.”

Die burgerregteorganisasie het bygevoeg dat die regering se onlangse ooreenkoms met China – ʼn land wat wyd veroordeel word oor sy beperkings op internetgebruikers – rakende inligting en kommunikasie, is nie ʼn goeie teken nie.

Gavin Davis, DA-LP, het gesê die breë terme wat in die beleid gebruik word, kan as ʼn propagandainstrument deur die regering misbruik word. “Dit bied ʼn beduidende ruimte aan die regering om inhoud te verbied wat nie aan die regering se politieke agenda of wêreldbeskouing voldoen nie,” het Davis gesê. “Dit wil voorkom of die beleid toegepas kan word op enigiemand wat aanlyn inhoud wil oplaai, of dit nou via Facebook, Instagram, ʼn blog of enige ander aanlyn platform geskied. Dit maak die deur oop vir die staat om inbreuk te maak op sy burgers se reg tot vryheid van uitdrukking en die verspreiding van inligting.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pieter ·

Pleks hulle eerder konsentreer om die land op standaard te bring as om iets te soek waar hulle inbraak kan maak op privaatheid en geld te steel wat hulle alreeds doen

HEVW ·

Hier kom n ding wat jarelange stryd gaan meebring. Dit is duidelik waar vandaan dit kom. So vrot soos die regering regeer, sal hy verkies dat daar n snoerwet sal wees. Tipies kommunisme wat kwansuis dood is.

Winston ·

Kommunisme floreer in Afrika. As daar nie n yster gordyn is nie, maak hulle een. Of ontken dit net.

JoeV ·

Amerika is besig om kommunisties te raak. Dit gebeur wanneer die vermoë die begeerte om status te bereik oorskry. Afrika is inherent nie in ‘n posisie om te vervaardig nie, en laat ‘n leemte in die skepping van welstand vir die land, slegs mags posisies betree die vooreg om ryk te wees deur staats geld so aan te wend dat hulle kaders daardeur bevoordeel word. Lang termyn gevolge is gewoonlik nie sigbaar vir die huidige geslag nie. Die gevolg van byvoorbeeld die invoer van gautrein, etoll en die beplande kernkrag aanlegte sal die geslag wat nou daardie ontwikkeling ontneem word se kinders benadeel omdat die tegniese vaardighede in hulle geslag nog meer onberykbaar sal wees, en hulle nog meer afhanklik van die staat sal wees. Net die regte plek om ‘n kieser te hê as jy wil in beheer bly.

Mathilda ·

JoeV: ek sukkel om te verstaan hoe jy hierdie voorgestelde konsepregulasies met Amerika verbind. Ek lees nerens in die berig dat die idee van Amerika afkomstig is nie. Ek woon al 17 jaar in Amerika, en hoef nog nooit toestemming te gevra het om enigiets digitaal op te laai, te publiseer of te versprei nie. Ek skryf ‘n weeklikse blog sonder enige regulasies of inmenging van die staat. Haal af jou oogklappe en hou op om alles in hierdie ou wereld op Amerika te blameer.

JoeV ·

Laat staan die kommies, laat hulle hulle mense se internet beperk soos hulle goed dink. Nou moet belasting WEER spandeer word om mens wat REEDS belasting as vergoeding ontvang jou regte wil wegneem.

pieta ·

Plaas dat die regering eerder werk daaraan dat almal hoë-spoed internet kry, sodat mense kan leer en wys word. Nee, nou moet die wat wil belas word. Ek dink die regering is bang die voetsoldate se oë gaan oop en sien wat gaan rêrig aan en hoe hulle kamstige regering hulle rêrig elke dag indoen en besteel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.