R30 miljoen-dwelmvonds op lughawe gemaak

Argieffoto

Beamptes van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het vandeesweek by die Internasionale Lughawe O.R. Tambo op bestanddele vir dwelmmiddels ter waarde van R30 miljoen beslag gelê.

Sandile Memela, woordvoerder van die SAID, het gesê die middels was versteek in bokse wat as “kalsiumkarbonaat” verklaar is. “Die bokse het Dinsdag van Kenia af by die lughawe se vragafdeling aangekom. Beamptes het die bokse ondersoek en binne-in ʼn wit poeierstof en nog ʼn bruin stof wat soos sand lyk, gevind,” het Memela gesê.

“Die stowwe is vir private laboratoriumtoetse gestuur en die wit poeierstof is positief geïdentifiseer as ketamien, terwyl die ander stof geïdentifiseer is as asetielantraniel, ʼn basisbestanddeel vir Mandrax.” Volgens Memela het die inhoud van die bokse altesaam 108 kg geweeg.

“Die saak is aan die Valke oorhandig vir nadere ondersoek.”

Dié voorval is die tweede groot dwelmvonds wat doeanebeamptes vandeesweek gemaak het. In ʼn ander onverwante voorval het doeanebeamptes by die Ficksburg-grenspos in die Vrystaat ʼn vragmotor voorgekeer wat van Lesotho af die land binnegekom het. Volgens Memela het beamptes die vragmotor voorgekeer omdat die bestuurder verdag opgetree het.

“Beamptes het daarna 207 sakke dagga wat meer as 6 000 kg geweeg het in die vragmotor gevind. Die gesamentlike waarde van die dagga was meer as R9 miljoen.” Die bestuurder is in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cor ·

Waar en onder wie se oog word daar die dewelms geberg. Net n kwessie van tyd voor dit van hande verwissel en terug op straat is

John ·

Wow! En mense gebruik die goed en beweeg tussen ons en ry op die paaie en hou dalk ook skool en bestuur dalk ons munisipaliteite en staatsdiens. Dit kos geld en vra ‘n goeie salaris want dit veroorsaak afhanklikheid…. en gee droggedagtes… en vreemde drome…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.