R300 m se belastinggeld vir kultuurdorpie

Koning Goodwill Zwelithini. Foto: Wikipedia

Koning Goodwill Zwelithini. Foto: Wikipedia

Belastingbetalers gaan glo nagenoeg R300 miljoen moet opdok vir ʼn kultuurdorpie by koning Goodwill Zwelithini se paleis in Nongoma in die noorde van KwaZulu-Natal, berig Sunday Times.

Die koste van die ontwikkeling sowel as voorbereidings vir die jaarlikse rietdans- en vrugtefees-seremonies kan egter tot sowat R600 miljoen styg. Die ontwikkeling behels die opgradering van die bestaande pawiljoen en geplaveide paadjies, asook slaap- en ablusiegeriewe vir die 30 000 Zoeloe-meisies wat elke jaar die rietdans bywoon.

“Daar moet kennis geneem word dat die ontwikkeling en infrastruktuur nie net vir die koning is nie, maar vir die Zoeloe-nasie as ‘n geheel is,” het Mogomotsi Mogodiri, woordvoerder van die departement van kuns en kultuur, gesê.

Volgens die berig is die rietdans ʼn antieke praktyk wat grotendeels deur vorige Zoeloe-konings geïgnoreer is maar in 1984 deur Zwelithini laat herleef is. Die vrugtefees behels dat 40 Zoeloe-krygers ʼn bul met hul kaal hande doodmaak, het The Witness vroeër berig. Daar word geglo dat die krag van die bul na die koning en sy onderdane oorgedra word wanneer die krygers die koning salueer. – Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Grassie ·

`n ” Kulltuurdorpie” is gewoonlik `n paar hutte waar moesadies in velklere besig is om graankorrels met `n stamper in `n stampblok fyn te stamp. Dit vir 300 miljoen Rand? Aikona! Ek sien die sg ontwikkeling vind by sy paleis plaas. Het natuurlik gesien ou Zoempa het met soveel weggekom by Nkandla, nou wil hy sy deel ook hê, maar dubbeld – die volgende 300miljoen is kastig vir die “meisies’ om met riete rond te hardloop, een maal per jaar. Tussen hom en die Pres met sy nuwe dorp gaan hulle nou die Staatskas, m.a.w. ons belastinggeld, met 1,6 miljard Rand plunder. Hoeveel hospitale, skole ens ens. sou hulle daarmee kon bou?
Dan gaan hulle nog `n arme bul kaalhande verwurg – hoe omskryf `n mens barbarisme?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.