
‘n Lugfoto van die ineenstorting op 5 Februarie 2016 van Vantage Goldfields se Lily-myn. Foto: JacarandaFM via Mpumalanga EMS
Lily-goudmyn het laat hoor die myn het R300 miljoen finansiering bekom om volgende jaar reddingspogings voort te sit om die oorskot van drie werkers wat in Februarie 2016 ondergronds vasgekeer is nadat ʼn skeepshouer in ʼn reusesinkgat by die myn in Barberton, Mpumalanga, geval het na die oppervlak te bring.
Rob Devereaux, sakereddingspraktisyn by die myn, het aan African News Agency gesê dat die maatskappy R190 miljoen by die Industrial Development Corporation (IDC) en R110 miljoen by ander, nuwe beleggers vasgemaak het.
“Ons het nuwe beleggers en die R300 miljoen wat ons gekry het, is genoeg,” het Devereaux gesê.
Hy het gesê ooreenkomste is onderteken, maar sekere voorwaardes moet nagekom word voor die geld beskikbaar gestel word. “Sodra die geld inkom, sal ons ʼn nuwe skag begin ontwikkel en die myn in Julie oopstel. Die soektog na die oorskot van die vasgekeerde mynwerkers sal ʼn jaar later voortgaan weens veiligheidsredes. Dit is omdat ons ʼn nuwe skag moet ontwikkel om te kan sien waar die houer is voor ons die soektog voortsit.”
Devereaux het bygevoeg dat die vorige aandeelhouers van Lily-myn die myn verlaat en dat die nuwe skag deur SSS Group ontwikkel sal word.
Die drie werkers, Yvonne Mnisi, Pretty Nkambule en Solomon Nyerende, is ondergronds vasgekeer nadat die skeepshouer waarin hulle gewerk het in die sinkgat verdwyn het toe ʼn kroonpilaar by die myn ingegee het. ʼn Reddingsprojek is dieselfde maand van stapel gestuur in ʼn poging om die liggame van die drie werkers op te spoor, maar dit is later gestaak nadat die myn onveilig verklaar is.
Lily-myn, wat deur Goldfields besit word, het sedertdien om sakeredding aansoek gedoen. ʼn Hele aantal Lily-mynwerkers het ook intussen vrywillige skeidingspakkette aanvaar en is weg by die maatskappy.
Lees alle vorige berigte oor die Lily-myn op Maroela Media.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
12 Kommentare
Laat die mense met rus. Hulle is mos reeds begrawe.
Mynbou is nou eenmaal nie ‘n piekniek nie.Bly ek is klaar daarmee!
R300 000 000 om 3 mynwerkers te oorskot te verwyder? Is dit werklik nodig om soveel geld te spandeer? Genade tog.
Daars mos geen kans vir redding nie?
Dit is absoluut belaglik om ‘n enorme bedrag te betaal aan ‘n reddings skag. Die gestorwe werkers kan met ‘n naam plaat vereer word. Bou’n hostel met ‘n eetsaal vir die ander werkers of die geld kan aangewend word om weer te begin myn en werk te skep.