‘R31 miljoen was nodig om staats­kaping­ondersoek te voltooi’

Ishmail Semenya en Anthea Platt, pres. Jacob Zuma se regsverteenwoordigers. Foto: Brenda Masilela/ANA

Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer (OB), kon weens ʼn tekort aan geld nie beslissende bevindings in haar staatskapingverslag maak nie, het die Noord-Gautengse hooggeregshof Dinsdag gehoor.

Zuma het Mandonsela se staatskapingverslag in hersiening geneem omdat hy verskil van haar aanbeveling dat ʼn kommissie van ondersoek, onder leiding van ʼn regter wat deur hoofregter Mogoeng Mogoeng aangewys is, op die been gebring moet word om bewerings van staatskaping te ondersoek.

Vincent Maleka, Madonsela se regsverteenwoordiger, het gesê die voormalige OB het R31 miljoen nodig gehad om ʼn volledige ondersoek na die saak te doen, maar het slegs R1,5 miljoen beskikbaar gehad. “Die openbare beskermer het nie die tyd of genoeg hulpbronne gehad om ʼn volskaalse ondersoek na die staatskapingverslag te doen nie,” het Maleka gesê.

Regter Dunstan Mlambo het Maleka gevra of Madonsela gedoen het wat deur die grondwet van haar vereis word. Maleka het gesê Madonsela het gedoen wat verwag was en het onregmatige optrede ondersoek. “Wat sy nie gedoen het nie, is om beslissende bevindings in haar ondersoek te maak. Sy het nie die nodige hulpbronne of befondsing gehad om die ondersoek te voltooi nie,” het hy gesê.

Maleka het aangedui indien Madonsela toegang tot genoeg geld en ondersoekers gehad het, sou sy die ondersoek voltooi het. Hy het beklemtoon dat Madonsela in die regstellende stappe wat sy aanbeveel het genoem het dat die ondersoek na bewerings van staatskaping voltooi moet word.

Maleka het aangevoer daar is geen rasionele gronde waarop Madonsela se regstellende stappe in die staatskapingsverslag geïgnoreer kan word nie.

Vroeër in die hofverrigtinge het Mlambo vir Ishmail Semenya, Zuma se regsverteenwoordiger, deur ʼn tydsverloop geneem van wat uiteindelik tot die bekendstelling van die staatskapingverslag gelei het. Mlambo het toe aangedui hoe Zuma versuim het om op te tree.

“Die president het in April 2016 ʼn brief van die openbare beskermer ontvang oor ernstige bewerings teen hom en hy het niks gedoen nie. In Augustus het die OB aan die president gesê sy gaan ʼn verslag bekendstel en hy het dit probeer keer,” het Mlambo gesê.

“Is dit wat ʼn mens van ʼn redelike president in die konteks van die grondwet kan verwag? Hy is van mening dat niemand vir hom kan sê wat om te doen nie, so hoekom het hy dan nie iets gedoen nie?” het Mlambo gesê.

Semenya het gesê Zuma was nie wetlik in staat om enigiets te doen nie.

Madonsela het verlede jaar aanbeveel dat ʼn kommissie van ondersoek, onder leiding van ʼn regter wat deur hoofregter Mogoeng Mogoeng aangewys is, op die been gebring moet word om die beweerde kanalisering van staatshulpbronne na sakemanne met politieke bande te ondersoek.

Die kern van Semenya se argument was dat die OB nie by magte was om aan die president voor te skryf wie die hoof van so kommissie van ondersoek moet aanstel nie. Zuma versoek ook die hof om te beveel dat die staatskapingverslag na die OB terugverwys moet word vir verdere ondersoek.

In sy aansoek, wat in Desember verlede jaar ingedien is, het Zuma gesê die aanbevole regstellende stappe was onwettig omdat dit die skeiding van magte oortree het.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Daan ·

As Zuma haar nie wetlik kan keer nie,dan draai hy eenvoudig net haar geldkrane toe.Maar die wiel draai stadig maar seker…

Frikkie Geld en huis ·

Zuma wil die verslag terugverwys na die OB vir verdere ondersoek. Dan moet dit Thuli wees, want haar opvolger het nog nooit staatskaping ondersoek nie.

Boertjie ·

Ek wonder net hoe het mens so ‘n groot klomp geld nodig vir ‘n ondersoek? Ek dink as die SAPD soveel geld per ondersoek kon kry, sou misdade baie beter opgelos word

Boertjie ·

(Ek wou nog byvoeg, daai laaste sin was suiwer tong-innie-kies gewees)

Koos B ·

As dit terug verwys word na die nuwe OB kan ons maar vergeet sy is te diep in JZ se g jammer sak ingekruip

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.