R325 miljoen-ooreenkoms vir SA suurlemoene na China

Foto ter illustrasie.(Foto: Squirrel_photos, Pixabay)

ʼn Groot deurbraak vir suurlemoenuitvoere is onlangs gemaak met die ondertekening van ʼn hersiene sitrusverdrag tussen Suid-Afrika en China.

Volgens die Sitruskwekersvereniging van Suid-Afrika (CGA) sal hierdie protokol R325 miljoen se nuwe uitvoerinkomste genereer en tot 800 nuwe werkgeleenthede skep.

“Ons verwelkom die onlangse ondertekening van hierdie protokol tussen Suid-Afrika en China deur die minister van landbou, grondsake en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza,” sê Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die CGA.

“Ons is werklik verheug dat die hersiene verdrag uiteindelik goedgekeur is. Dit sal ons reikwydte in hierdie kritieke mark verder vergroot en ons wil die departement en Citrus Research International bedank vir hul werk om die hersiene protokol af te handel.”

Plaaslike suurlemoenproduksie sal na verwagting teen 2024 met 175 000 ton toeneem en dié protokol beteken dat China nou ʼn belangrike nuwe mark vir Suid-Afrika se suurlemoene sal word.

Daar is ses jaar gelede met die hersiening begin ná ʼn versoek deur die sitrusbedryf om suurlemoene vry te stel van die huidige regulatoriese vereistes vir vals kodlingmot (VKM). Die aansoek is gegrond op die feit dat suurlemoene nie ʼn gasheer van VKM is nie.

“Suurlemoene kan nie VKM se kouebehandeling weerstaan nie, terwyl die ander sitrussoorte dit wel kan doen. Met die nuwe protokol is suurlemoene dus gevrywaar daarvan. Suurlemoene vir uitvoere na China sal wel kouebehandeling teen vrugtevlieg ontvang, wat nie so fel soos dié van VKM is nie.”

Argentinië en Chili het tot dusver suurlemoenuitvoere vanuit die Suidelike Halfrond oorheers, maar sodra die hersiene verdrag se toegewings in werking tree, sal Suid-Afrika na verwagting albei lande oortref en teen 2024 altesame 25 000 ton suurlemoene na China uitvoer.

Suid-Afrikaanse sitrusuitvoere na China het oor die afgelope paar jaar reeds sterk gegroei, met die uitvoer van pomelo’s, lemoene en sagte sitrus wat in 2020 tot 130 000 ton toegeneem het.

“Hierdie mylpaal volg ook op die onlangse eerste versending van Suid-Afrikaanse sitrus na die Filippyne, wat ook sal lei tot bykans R205 miljoen per jaar se nuwe buitelandse inkomste.

“Die CGA sien daarna uit om met die departement, Suid-Afrikaanse ambassades, verskillende regeringsowerhede en ons eweknieë in die bedryf voort te gaan om die belangrikste markte, waaronder China, die VSA, Indië, Filippyne, Japan, Viëtnam en die Europese Unie te optimaliseer, uit te brei en te behou,” sê Chadwick.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Stofdonkie ·

So ‘n ou brokkie goeie nuus so in hierdie donker dae! Gaan maak sommer nou nat julle suurlemoen-bome.

Annamarie ·

SA voer top klas sitrus na China? Wat stuur China inruil vir SA??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.