R34 miljoen-sluipmoordplan: Verdagtes kry borgtog

Argieffoto

Argieffoto

Die sakeman van Durban en twee medepligtiges wat in hegtenis geneem is in verband met ʼn beweerde komplot om sy sakevennoot te vermoor om by ʼn polis van R34 miljoen te baat, is Donderdag in die stad se landdroshof op borgtog vrygelaat.

Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse Nasionale Vervolgingsgesag, het Vrydag gesê die aangeklaagdes, Dain Robert Neveling, Kristian Jorgensen en Hendrik Nunez, is almal op borgtog van R5 000 elk vrygelaat.

Hulle word daarvan verdink dat hulle saamgesweer het om die sakevennoot, Grant David Webb, in Julie en weer in Oktober te probeer vermoor.

Hulle is aan die einde van Oktober in hegtenis geneem nadat die Valke hulle in ʼn lokval gelei het.

Maroela Media het vroeër berig die sakeman het na bewering ʼn middelman gehuur om hom te help om ʼn sluipmoordenaar op te spoor om glo sy vennoot te vermoor.

“Die Valke het die inligting ontvang en die misdaadintelligensie-eenheid betrek. ʼn Polisiebeampte het hom as die huurmoordenaar voorgedoen en ʼn transaksie met die middelman beklink,” het brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, destyds gesê.

“Die Valke het die ‘moord’ op die vennoot ‘opgestel’ en binne 30 minute ná die ‘moord’ is R10 000 aan die beampte vir sy dienste betaal.”

Die middelman is in hegtenis geneem en het die Valke na die sakeman se huis gelei. Die Valke het hom daar in hegtenis geneem en op ʼn 9 mm-pistool beslag gelê. Die derde verdagte is kort daarna in hegtenis geneem.

Die trio staan tereg op onder meer aanklagte van sameswering om ʼn moord te pleeg, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en die besit van polisietoerusting.

Ramkisson-Kara het gesê die hof het gelas dat die man met geen getuie in die saak kontak maak of met die ondersoek inmeng nie. Die saak is tot 26 Januarie uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dee ·

Uit vrees oordryf julle die ‘glo’ ‘na bewering’ ‘verdagte’ ensovoorts teen sò ‘n tempo dat julle nie lekker lees nie. As voorbeeld die sin:

Maroela Media het vroeër berig die sakeman het na *bewering ‘n middelman gehuur om hom te help om ‘n sluipmoordenaar op te spoor om *glo sy vennoot te vermoor.

* addisioneel geplaas as aanwysings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.