R47 miljoen vir Esidimeni-arbitrasiekoste, sê DA

Voormalige adjunkhoofregte Dikgang Moseneke (Foto: Skermgreep uit eNCA-video)

Die Gautengse regering het tot dusver R15,7 miljoen spandeer aan die Life Esidimeni-arbitrasieverhoor oor die afsterwe van meer as 140 psigiatriese pasiënte in Gauteng en sal na verwagting uiteindelik altesaam R47 miljoen spandeer vir al die koste aan dié alternatiewe dispuutproses, het die Demokratiese Alliansie Sondag gesê.

Dié inligting is deur David Makhura, premier van Gauteng, bekend gemaak in sy skriftelike reaksie op vrae in die Gautengse wetgewer, het Jack Bloom, DA-LP, gesê.

Volgens getalle in sy reaksie, het die provinsiale tesourie R13,6 miljoen opsygesit vir Esidimeni-verwante uitgawes in die finansiële jaar wat op 31 Maart tot ʼn einde kom, maar R15,7 miljoen is reeds teen 12 Februarie 2018 spandeer.

Meer as die helfte van die uitgawes is spandeer aan die Emoyeni-konferensiesentrum as die venue vir die verhore, wat R8,4 miljoen beloop.

“Dit is baie buitensporig, indien in gedagte gehou word dat Emoyeni aan die provinsiale regering behoort met ʼn reëling dat ʼn privaat maatskappy dit sal uitverhuur. Ek sal vrae vra oor hoe dit geregverdig kan word en wie hieruit voordeel trek,” het Bloom gesê.

Ander groot uitgawes sluit aankondigings op gemeenskapsradiostasies en in koerante in waar die families vir die arbitrasie kon registreer (R2 048 913); Mirror Effect Trading vir beeldmateriaal en regstreekse uitsaaidienste (R1 498 781); Werkmans Prokureurs (R1 188 913); Vila Mora Express vir vervoerdienste (R1 121 760); Wits Language School vir gebaretaal- en tolkdienste (R639 679); en Uwhakaziso Trading & Projects vir klankopnames (R423 250).

Volgens Makhura is die “verwagte bedrag R17,6 miljoen in die huidige finansiële jaar, R14,3 miljoen in 2018/19 en R15,1 miljoen in 2019/20”.

Dit is nog nie duidelik of daar genoeg begroot is vir die finansiële vergoeding wat voormalige adjunkregter Dikgang Moseneke sal aankondig vir die familielede van diegene wat gesterf het nie. “Finansiële vergoeding is nodig, maar nie voldoende vir die Esidimeni-tragedie nie. Diegene wat verantwoordelik is vir die sterftes, moet ook strafregtelik vervolg word,” het Bloom bygevoeg.

Barbara Creecy, Gautengse LUR vir finansies, het vroeër gesê die provinsiale regering het R28 miljoen toegeken vir die kantoor van die premier om sy belofte na te kom om die families van die slagoffers van die Life Esidimeni-tragedie te vergoed. Die provinsiale regering het tydens verlede maand se arbitrasieverhoor ingestem dat die families van die 143 psigiatriese pasiënte, wat as gevolg van die oorplasing van die pasiënte vanaf Life Esidimeni na ongelisensieerde NRO’s gesterf het, individueel vergoed sal word.

Lees alle vorige berigte oor Life Healthcare Esidimeni op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

SO ·

Die mense verantwoordelik vir die tragedie moet pa staan vir die koste, nie die belastingbetalers nie. Net my mening.

marous ·

Korrek . Begin sommer by die hoof koppe se pensioen gelde.

Han ·

Vermorsing van geld het die afgelope 24 jaar pandemiese afmetings aangeneem en die belastingbetaler moet maar net hoes! Hierdie tendens sal voortduur totdat die land bankrot is.

Jannie ·

Nou wonder ek hoeveel dit sou kos om die pasiente in Life Esidimeni te gehou het? Ek is seker die mense sou jare daar kon bly vir R47 miljoen…

snoefie ·

ek het die al tot vervelens gesê en sê dit weer al weer ek mm sal nie my kommentaar wat geen vloekwoorde of rassisme bevat, publiseer nie. die families wat so lekker vir die kameras gehuil het, het hulle versteurde familielede verwaarloos deur hulle nooit te besoek nie. hulle dra net so veel blaam as enige van die ander wat ons sien skuld ontken het. nou word hulle beloon vir hulle trane pleks van gestraf vir hulle verwaarlosing. dis mos weer jan publiek wat moer opdok.

Alida ·

Ek stem saam. Toe hul mense dood is het hulle dit aanvaar maar nou is daar geld oppad. Skandelik. Kla die moordenaars aan en vergeet van geld want geld is rond.

Gestremde ·

Wat n grap. Die pasiente kom die geld toe en nie die familie wat nie in staat was om na die pasiente te kyk nie. Hoeveel van die geld kon hulle nie gebruik het om werk te skep vir gestremdes nie. Statistieke reken daar is omtrent 5% gestremdes in Suid Afrika waarvan nie eers 0.25% werk het nie.

Alida ·

Se ek ook. Hulle het vir jare van hul mense vergeet nou trek hul voordeel. God slaap nie.

Sarel Strydom ·

Niemand kan vir my verduidelik hoekom niemand Strafregtelik vervolg word nie maar die Minister voer vendetta teen Tiger Foods.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.