R48 miljoen vir onvoltooide Bloem-polisiestasie

Parkweg-polisiestasie. (Foto: Skermskoot/Google Earth)

Jare en miljoene rand later is die Parkweg-polisiestasie in Bloemfontein se infrastruktuuropgraderings oënskynlik steeds nie afgehandel nie.

Dít ten spyte daarvan dat meer as R48 miljoen reeds aan die sogenaamde opgraderings bestee is.

George Michalakis, DA-LP en lid van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), sê daadwerklike stappe sal nou gedoen moet word om eindelik antwoorde oor die multimiljoenrandse opgraderings te kry.

Die DA het ʼn mosie in die parlement ter tafel gelê waarin gevra word dat die miljoene rande wat reeds aan die opgraderings bestee is, deur die departement van openbare werke ondersoek word.

Die ondersoek sal nou deur NRP se verkose komitee oor vervoer, staatsdiens en administrasie, openbare werke en infrastruktuur gedoen word.

Daar is sedert 2017 minstens drie kontrakteurs aangestel om die opgraderings aan die polisiestasie te doen, maar volgens Michalakis is almal eindelik weens swak prestasie afgedank.

“Hoewel ʼn bedrag van meer as R48 miljoen reeds aan hierdie kontrakteurs betaal is, is die polisiestasie steeds net ’n hoop bourommel,” sê hy.

Die Parkweg-polisiestasie is een van die grootste polisiestasies in die Vrystaat, asook een van die vyf besigste stasies met betrekking tot die aantal ernstige misdade wat hiér aangemeld word.

Die DA het intussen ʼn aantal geskrewe vrae aan Patricia de Lille, minister van openbare werke, gestuur. Met die vrae word daar gehoop om lig op die sperdatum vir die voltooiing van die projek te werp, asook wat die vereistes was toe die kontrakteurs aangestel is en hoe die departement vorder in sy pogings om die verlore miljoene wat aan die kontrakteurs betaal is, te verhaal.

“Ons kan nie toelaat dat die lewens van die inwoners van Bloemfontein verder deur die regering se onbevoegdheid bedreig word nie,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Maritza ·

Verstaan nie hoe word hulle betaal voor dienste gelewer nie? O nee wag, met die staat kan jy dit nie waag om eers te doen en dan betaling te verwag nie want dit kan ook jare neem. Beide is korrup of miskien was dit ‘n “boetie boetie” situasie. Sal my nie verbaas nie

Witbaard ·

DA vat maar lank om agter te kom gelde word betaal vir dienste wat nie gelewer word nie. Wat maak die DA se mense in die parlement. O ja…….verdien mandelikse salaris.

Nie Verbaas ·

Nog n ANC sukses storie. Net hulle kan soveel geld bestee sonder enige resultate.

George ·

Ek weet hoe dit gebeur. Het n staat tender “wenner” laas week hier gehad, ons verkoop aan hom teen 31% wins, bv R670, sy quote aan sy volgende cadre is R2670, en aan syne n R3580, teen die laaste stap kry die staat (na 8verskillende maatskappye) dit teen R9173 per unit, soek 411. Ek gaan my wins ook nou maar opstoot haha.

SjN ·

Betaling moet mos geskied soos wat die werk vorder, eers diens lewer, dan vergoeding en n bedrag word mos as retensie terug gehou vir moontlike defekte.

Frikkels ·

Toe die polisie nog die polisie was, was daar ñ onderafdeling by name, die bou eenheid.
Ek was lid van die bou eenheid en weet dat dit 100% reg funksioneer het en werk van hoë gehalte gelewer het sovêr dit opgraderings van polisie geboue asook bou van nuwe polisie geboue , selblokke en so meer aanbetref.
Ek het in 1997 die bou eenheid verlaat en daarna is die eenheid ontbind. Ek kan nie sien hoekom dinge wat voorheen gewerk het, moet doodloop sodat hierdie hedendaagse chaos kan plaasvind nie. Kyk maar na misdaadvlakke en veiligheid op treinstasies en so meer nadat die spoorweg polisie ontbind het! Die regering vra mos vir hierdie chaos met hulle onoordeelkundige besluite en met hulle onkundige kader ontplooiïng.

twaalfboor ·

Die eenheid het nooit ontbind nie. Hy bestaan nogsteeds. Hulle was destyds net so treurig. Vandag is dit net baie erger.

Stoffeltjie ·

Dit is met alles so. DOW was daar om staatsdepartemente te onderhou en na om te sien, maar ek glo nie hulle bestaan meer nie. Toe daar nog ‘n Werkplaas was, was die Weermag se voertuie nog rybaar, maar niks word meer onderhou nie. Daar moet mos getender word en dan kry my boetie dit, wat weer vir sy boetie ‘n deel gee, wat weer sy tjommie moet help en iewers “along the line” spoor hul dalk iemand op om die werk te doen.

Danny ·

Ek is al so naar vir BEDROG en KORRUPSIE. Swak dienslewering, diegene in ampte wat niks weet wat hul doen nie en dan nou nog geld verdoeseling ook. SWAK. EN diegene kom NIKS oor nie!!1

Bart-Man ·

Dit is hoe dit werk. Ek kry 40mil om na werk te doen. Ek pocket 30mil en gee vir comrade 10 mil om die werk te doen. Comrade vat 9 mil en gee vir whatever construction 1 mil vir die werk. Whatever construction kry sy Comrades om die dienste te lewer. Whatever construction kry vir Koos die plumber om die toilette reg te maak, en dis hoekom net die toilette werk.

Karlahari ·

So paar kilometer verder is die Batho polisie stasie, geen veiligheids inspekteur sal die geboue geskik verklaar vir gebruik deur mense nie. En daar werk n paar toegewyde polisie lede.
Dalk moet DA daar ook n draai maak.
Parkweg stasie kan ook nie 17h00 telefonies bereik word nie.

Stoffeltjie ·

Oh my word! Kan hulle dan nie die geld terugverhaal nie.? Daai polisiekantoor is ‘n hool en R48miljoen is mos nie kleingeld nie. Daar is dan niks gedoen behalwe om die parkeerterrein om te dolwe nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.