R5 miljard reeds op NGV ‘verkwis, maar geen lesse geleer’

Steve Biko- akademiese hospitaal (Foto: ANA)

Die ANC wil deurdruk met die inwerkingstelling van die “rampspoedige” Nasionale Gesondheidsversekering. Dít al hét die loodsprojekte daarvoor reeds misluk en belastinggeld van miljarde rande in ʼn “swart gat” verdwyn.

“Daar is geen lesse uit die mislukkings geleer nie en belastingbetalers se geld word stééds gemors op die program sonder dat die distrikte en provinsies wat die NGV moet bedryf, opleiding daarvoor ontvang,” sê Siviwe Gwarube, die DA se woordvoerder oor gesondheid.

Die DA sê nagenoeg R5,1 miljard is sedert 2012-’13 aan die projek bestee.

“Die verdeling van staatsgeld ter waarde van R5 miljard is belangrik omdat daar lesse te leer is wat die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, bloot verontagsaam,” het Gwarube gesê.

Die sogenaamde Genesis-verslag oor die NGV-loodsprojekte het bevind daar was ʼn gebrek aan “behoorlike beplanning, ʼn gebrek aan hulpbronne, teenstrydige kommunikasie, ʼn gebrek aan koördinasie en waar nodig, ʼn gebrek aan meganismes om vordering dop te hou en regstellings te maak”.

Die Finansiële en Fiskale Kommissie het verlede week verdere skoksyfers oor die NGV se voorlopige toelae aan provinsies bekend gemaak. Die kommissie het bevind daar was beduidende onderbesteding van die toelae, aangesien geen kapasiteit opgebou is vir distrikskantore om die verskillende programme te bedryf nie.

Die kommissie het voorts bevind vir voorlopige toelae om suksesvol te wees, het distrikte en provinsies minstens drie jaar leweringstyd nodig. “Dit is nooit vir NGV-toelae gegee nie. Provinsies en distrikte het bloot geld en teikens gekry, maar is glad nie daarvoor bemagtig nie.

“Dít is hoekom meer as R5 miljard reeds gemors is en meer geld aanhou verkwis word op die NGV,” het Gwarube gesê.

Die DA sê dit is soos om geld in ʼn swart gat te gooi en dat die situasie vererger gaan word deur die voortydige en onbedagte inwerkingstelling van die NGV-fonds.

“Dit kos nagenoeg R1,5 miljoen oor ses jaar om ʼn dokter op te lei, en die DA sê die geld wat op NGV-projekte uitgegee is, kon 3 400 dokters opgelei en honderde vakante verpleërsposte gevul het. Met net 4 003 dokters in die staatsdiens, sou dit broodnodige verligting gebring het,” het Gwarube gesê.

Die DA sê die ANC se verbintenis tot ʼn ideologiese oorwinning is roekeloos en ʼn minagting van belastinggeld in ʼn bedryf wat reeds tot die uiterste beproef word.

“Die DA gaan die stryd teen die NGV voortsit. Die wetsontwerp gaan nie universele gesondheidsorg tot gevolg hê, óf die lewe van Suid-Afrikaners verbeter nie. Die gesondheidsektor benodig ʼn algehele opknapping, pleks van dié spoeg-en-plak-benadering,” het Gwarube gesê.

Sy het gesê die DA steun pogings om gesondheidsorg vir almal te bewerkstellig, maar in die vorm van die opposisie se Sizanani-plan, wat die DA as ʼn veel beter alternatief vir die NGV voorhou.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Neels ·

Daai bedrag is maar n druppel in wat hulle verwag om van die mediesefondse te korrup

Johanna Botha ·

Onbekwaam onbevoeg met n dom idologie wat nie gaan werk nie en beleggers verjaag = anc !

Rina ·

Weer n flop …… geld vermorsing …. leer hul nooit ….. wasr kom die geld vandaan .. kan iemand verduidelik

Salva ·

Dis n anc baba die ngv. Of hy nou gaan kom met drie koppe en geen arms en bene maak nie saak nie. Die anc gaan hom baar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.