R5 miljoen vir boorgat sonder water

Daar is nog geen sprake van water nie (Foto; Verskaf)

Die DA in Ratlou in Noordwes eis ʼn dringende ondersoek nadat die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit nagenoeg R5 miljoen aan twee boorgate bestee het wat tot dusver nog nie ʼn druppel water opgelewer het nie.

Die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit het ʼn verslag by die Noordwes-wetgewer ingedien waarin hy beweer dat bouwerk aan die twee boorgate afgehandel is. Die munisipaliteit het aangevoer die boorgate is in April gesink om die gemeenskap veral tydens die Covid-19-afsonderingstydperk van water te voorsien.

Tebogo Mabaso, DA-raadslid van Ratlou-munisipaliteit, sê egter die DA het die perseel waar die boorgate glo gesink is op 12 Augustus besoek en geen boorgat gevind nie.

“Ná ons besoek aan die terrein het die munisipaliteit twee boorgate geboor wat steeds sonder water staan,” sê Mabaso.

Volgens Mabaso het die munisipaliteit beweer dat hy die perseel ondersoek het voor die boorgate gesink is.

“Die feit dat daar nie water van ʼn dag oud is nie, is ʼn bewys dat die munisipaliteit versuim het om deeglik seker te maak dat die gebied wel water het. Daar moet duidelikheid wees oor hoeveel meter diep elke gat geboor is en hoeveel daar betaal is vir elke meter wat geïnstalleer moet word.”

Toe die DA die terrein besoek, was daar nog geen boorgat (Foto: Verskaf)

Die DA gaan die kwessie nou na die provinsiale komitee oor openbare rekeninge verwys en daar antwoorde eis oor hoe die R5 miljoen bestee is.

Die party gaan ook aan die waarnemende LUR vir samewerkende regering, Boitumelo Moiloa, skryf om duidelikheid te kry oor die spesifikasies van die tender en alle uitgawes wat vir die projek aangegaan is.

“Dit is onaanvaarbaar dat R5 miljoen vermors is op ʼn projek wat nie die gemeenskappe van Gareleng en Ramabesa bevoordeel het nie. Daar moet ondersoek ingestel word na die proses wat gelei het tot die konstruksie van die boorgate en almal wat by die projek betrokke is, moet verantwoording doen vir hierdie afskeepwerk.”

Mabaso sê met die geld wat die munisipaliteite opgedok het, kon die bestaande boorgate wat water na Gareleng en Ramabesa pomp, eerder versien en in stand gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

koos10 ·

Vir daai geld het ek vir hulle gaan putte grawe met die hand.

Anoniem ·

Ma se bril, soveel geld vir 2 droë gate? Dan het die boorman seker gerapporteer dat die droë gate nog boonop “sleeves” ook in het!

Johann ·

Nou is julle rerig lelik. Weet julle wat kos ‘n graaf? En gespesialiseerde arbeid om die gat te grou? En dan moet jy wag dat jou pelle wat die pype van die ander boorgate ge”leen” het, dit vir jou bring. Moet ook nie vergeet van die konsultant wat moes help met die projek nie? Dan is 5 meljohn tjeeep!!!!

henndrik ·

As ek reg kyk lyk die een gat na 110 meter, as die ander een ook so was is 5milj darem bietjie baie, sekerlik omtrent 10 keer meer as wat dit behoort te kos

Juls ·

Omdat daar 10 keer meer boeties is wat elkeen ‘n kas MOëT moet kry

Kokerboom ·

As iemand vir ons ‘n earlike ANC kader kan vind dan kan ons bewys die maan is van kaas gemaak!!

Driekus ·

Met 5 Miljoen Rand kon hulle dwarsdeur die aarde geboor het.

Juls ·

Volgende jaar stem die mense van daardie plek weer vir die ANC.

Dirk Mostert ·

Die amptenaar wat die koste goedgekeur het sal seker vervolg word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.