R50 000 vir inligting ná kliniek brand

Die Ikhwezi-kliniek wat in ‘n brand beskadig is. Foto: Verskaf

Die Stad Kaapstad het ʼn beloning van R50 000 uitgeloof vir inligting na ʼn voorval van brandstigting by die Ikhwezi-kliniek in Strand in die Wes-Kaap.

Brandbestryders is Vrydag omstreeks 02:30 na die kliniek ontbied en die brand is teen 04:00 geblus, het Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, gesê.

Daar is aansienlike skade aan die dak en die binnekant van die kliniek, insluitend die apteek en rekordkamer waar pasiënte se lêers gehou word, aangerig. Die skade aan die kliniek word op sowat R10 miljoen geraam.

Raadslid Badroodien tydens sy besoek aan die beskadigde kliniek. Foto: Verskaf

Volgens Badroodien wys die polisie se voorlopige ondersoek na die voorval daarop dat die brand opsetlik gestig is.

“Personeel wat vroegoggend by die kliniek aangekom het, was duidelik ontsteld en getraumatiseerd. Hierdie sinnelose voorval van vernietiging gaan ʼn rimpeleffek hê en ons veroordeel dit ten sterkste,” het Badroodien gesê.

Die Ikhwezi-kliniek is die stad se grootste gesondheidsfasiliteit met ʼn gemiddeld van 500 pasiënte wat daagliks hier behandel word.

Die dak van die kliniek is ook in die brand beskadig. Foto: Verskaf

Die kliniek sal egter nou onbepaald gesluit wees totdat die skade herstel is. Mense wat van die kliniek gebruik wou maak, sal intussen van die Nomzamo-gemeenskapsgesondheidsentrum gebruik moet maak.

“Ek het vroeër die toneel besoek en ek is baie hartseer oor die kwaadwillige beskadiging van eiendom. Leërs, stoele en noodsaaklike mediese toerusting is in die brand vernietig,” het hy bygevoeg.

Badroodien het inwoners en gemeenskapsleiers versoek om na vore te kom met enige inligting oor die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sarie

Daar sal Maandag seker ‘n lang ry mense buite die kliniek staan en aandring op ‘service delivery’. Hulle sal seker die DA beskuldig dat beloftes nie nagekom word nie. Sê wat jy wil, hierdie land gaan nie gou weer op die been kom nie.

Muffin

Alles sinneloos en onnodig. Groot skade en wat het hulle daaruit. Hoop hulle word aangekeer.

tollies

so hartseer

Adri

Moet seker lêers wees. Leërs is verdigingsmagte.

Lizelda

Alles in die Kaap brand ook altyd. As dit nie treine is nie is dit klinieke…