R50 000 vir vermiste hond aangebied

(Foto: Verskaf)

Die soektog na Marco, ʼn driejarige Australiese beeshond wat sedert 24 Februarie spoorloos van ʼn kleinhoewe in Colleen Glen buite Port Elizabeth verdwyn het, duur onverpoos voort. Die aanvanklike reusebeloning van R25 000 is na ʼn allemintige R50 000 verhoog om dié “hondekind” huis toe te bring.

Anneli van Jaarsveld, Marco se eienares, het Saterdagoggend gesê hulle hoop dié bedrag is genoeg om iemand te oortuig om hom prys te gee. “As hy siek of vermis was, sou ons al iets gehoor het. Hy is definitief gesteel.”

Maroela Media het vroeër berig Van Jaarsveld het ʼn Facebook-blad genaamd “Bring Marco Home” gestig. Haar pleidooi om Marco terug te kry is al meer as ʼn halfmiljoen keer op sosiale media gedeel.

“Hy is my alles, my kind en my lewe. Hy gaan oral saam met my. Ek weet nie hoe ek sal regkom sonder hom nie,” het Van Jaarsveld aan Maroela Media gesê.

Marco het op 24 Februarie oudergewoonte saam met Van Jaarsveld buitentoe gegaan omdat daar mense by die hek was. Van Jaarsveld het ʼn perdeplaas en ʼn gastehuis op die kleinhoewe waar sy saam met haar man woon.

“Daar sou mense die oggend kom perdry op die plaas, so ons het uitgeloop buitentoe. Marco hardloop altyd na die hek toe om die mense te gaan groet. Ons het die hek oopgemaak, maar die motor het nie ingery nie. Hy het ook nie só geparkeer dat ons kon sien wie in die kar is nie. Die hek het toe outomaties toegegaan toe niemand inry nie. Die kar het weggery en Marco was nie meer daar nie.

(Foto: Verskaf)

“Hy is my kind. My goed is sy goed, my mense is sy mense, my kinders is sy kinders. Ons wil net hê die mense wat hom gevat het, moet besef dat dit meer waardevol is om hom vir my terug te gee as om hom dood te maak of in hondegevegte te gebruik,” het sy gesê.

Marco is ʼn bruingrys Australiese beeshond, die punt van sy linkeroor is af en hy reageer op sy naam. Die voertuig waarmee hy vermoedelik gesteel is, is ʼn blougroen BMW 3-reeks met ʼn GP-nommerplaat. Mense met inligting kan Anneli bel by 081 026 0825.

Sy vertel dat hulle al talle oproepe ontvang het van mense wat vermoed hulle het Marco opgespoor. “Daar was al berigte rakende soortgelyke honde in Brakpan en Viljoenskroon. Dit is ook Australiese beeshonde, maar dis nie Marco nie; ons moet kyk vir die af punt van sy linkeroor.”

Sy vertel daar het vanoggend weer soekgeselskappe uitgegaan en wéér gaan soek. “Ons het al drie keer gesoek, maar gaan nou letterlik van deur tot deur. Ons doen regtig ʼn dringende beroep op mense.”

Sy vertel die beloning is net geldig tot 1 April, dan sal die geld vir liefdadigheid geskenk word.

“As iemand hom daarna sien, moet hulle hom maar uit die goedheid van hul hart terugbring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Gina ·

Ek kan my nie hierdie vrou se hartseer indink nie. Om nie te weet waar hy is en of hy oraait is, hoe bang en verskrik hy nie is nie. Wat nie alles deur sy gedagtes gaan en hoe hy wag dat sy nooi hom moet kom haal. Dit sal my hart breek. Ek het my hond so lief. Sterkte Anneli….

Elizna Niksch - nee Botha ·

Ek (niggle van Danie Botha ) en res van Botha familie is geskok na ons via vriende op facebook die skok en hartseer van oom Henke se dood reeds 2j terug moes verneem asook die verdwyning trauma van tannie Frieda. Na jare se vele pogings tot kontak word ons op ver afstand gehou. Danie is bekend en ons ondersteun , dra hom, sy gesin en ouers steeds op in ons gebede. Ons ken jou nie as iemand wat jou familie ignoreer terwyl ons jou juis wil bystaan en tot groter hoogtes dra. Ek wil sonder n seer hart met trots se Danie Botha is my neef en ons kan almal van jou leer

Ek-sê-maar-net ·

Ai tog!, soos daar tereg gesê word: A (huge) part of one’s soul remains unawakened until you have loved, really loved, a dog (or any animal for that matter)

Nanna ·

Ek het self twee jaar terug my hondjie so gesoek toe sy weggehardloop het met n plaasaanval. Dis die hartseerste en aakligste gevoel om nie te weet wat met een van die “lede” van jou gesin geword het nie. Ons het almal baie gehuil en baie gebid en ure in die bosse gesoek n haar. Na 4dae en drie nagte het n man wat verby n kanaal geloop het haar per ongeluk gesien en gered. Daardie dag was n wonderlike dag gewees. Baie sterkte. Ek kan eerlik sê ek weet hoe jy voel. Daar staan in die Psalms dat die Here behou mense en diere. Ek Bid dat die Here jou hond sal behou.

Mimi ·

Ek dink dit sal goed wees om die “plaaswerkers” in die omgewing te vra of iemand nie navraag gedoen het oor die hond nie, of weet die mense waar iemand in die omgewing dalk honde gevegte hou ??? Hoe het daardie diewe bewus geraak dat daardie huis so spesiale hond het? Iemand in die omgewing moet iets weet……die beloning kan tonge losmaak. BAIE sterkte aan die eienaars!

Hantie ·

Sterkte. Ons soek al 2 maande na ons hond. Geen reaksie hoegenaamd. Ek hoop julle kry Marco.

Trudie ·

Asb kom ons hou almal ons oe oop! Hoop iemand sien Marco iewers, dis baie hartseer!

Janri Heymans ·

Marco was gevind, ongelukkig nie ‘n happy ending nie. Hy was dood aangetref in Greenbushes. RIP seuna.

Karin ·

So hartseer, Marco is dood, gevind met ‘n draad om sy nek, hy het waarskynlik probeer losbreek, en die draad het hom verwurg. My hart gaan uit na Anneli en haar gesin, dit was so onnodig en Marco het nie verdien om so te sterf nie. Rus sag liewe Marco, jy is nou uiteindelik vry!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.