R50 miljoen van Lesotho-regering na SA ‘gesmokkel’

Foto ter illustrasie. (Foto: Rupixen.com/Unsplash.)

Die hof het die beslagleggingseenheid (AFU) in Bloemfontein toestemming gegee om beslag te lê op sowat R18 miljoen wat op bedrieglike wyse in die rekeninge van vier Suid-Afrikaanse banke betaal is.

Die geld is glo deur regeringsbeamptes in Lesotho na banke in Suid-Afrika oorgeplaas, met die doel om ongeveer R50 miljoen uit die Lesotho-regering se staatskoffers te swendel. Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die eenheid by die hooggeregshof in Bloemfontein aansoek gedoen om ʼn beslagleggingsbevel om geld van Absa, Capitec, FNB en Standard Bank te verhaal.

“Die polisie en beslagleggingseenheid in Lesotho het die hulp van die AFU, die Valke en die sentrum van finansiële intelligensie in Suid-Afrika ingeroep,” het Phaladi Shuping, woordvoerder van die NVG, gesê. “Dít nadat owerhede in Lesotho snuf in die neus gekry het dat beamptes van die ministerie van finansies in dié land ongeveer R50 miljoen van belastingbetalers se geld gesteel en R31 miljoen hiervan na Suid-Afrikaanse banke oorgeplaas het.”

Die ondersoek het bevind dat die verdagtes glo geld wat bedoel was om diensverskaffers te betaal, na die bankrekeninge van hul eie maatskappye oorgeplaas het.

Oddie Mradla, ʼn ondersoeker van die AFU, kon bevestig dat R18,6 miljoen van dié geld steeds beskikbaar is en het met behulp van adv. Bishum Somaru ʼn dringende aansoek by die hof ingedien om die betrokke rekeninge te vries. “Daar sal nou op die geld beslag gelê en aan die regering van Lesotho terugbetaal word.”

ʼn Verdere ondersoek het vasgestel dat R7,3 miljoen reeds in van die beweerde bedrieërs se rekeninge inbetaal is, en die AFU het ook reeds aansoek gedoen om ʼn bewaringsbevel in dié verband. Die eenheid sal in April aansoek doen om nog ʼn beslagleggingsbevel.

Volgens Shuping word sewe regeringsbeamptes van Lesotho tans aangekla van bedrog en geldwassery. Hulle sal binnekort in die hof in Maseru verskyn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Is daar so iets soos ‘n regeringsbeampte? Is dit nie eerder ‘n aptenaar nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.