R55-sinkgat sal miljoene kos om te herstel

Krake op die R55. Foto: Verskaf

Dit gaan miljoene rande kos om ʼn reusesinkgat wat op die besige R55 (Quaggaweg) in die weste van Pretoria ingeval het, te herstel.

David Makhura, Gauteng se premier, Ismail Vadi, die provinsie se LUR vir paaie en vervoer, en Tshwane se burgemeester, Solly Msimanga, het Maandag ʼn gedeelte van die R55 in Laudium besoek waar ʼn sinkgat onlangs onder die pad gevorm het.

Groot krake het voorverlede week ná swaar reënval in die dolomiet-ryke gebied gevorm en dit het tot volg gehad dat ʼn gedeelte van die noordelike baan tussen 2de- en 3de Laan onbepaald vir verkeer gesluit moes word. Die suidelike baan is tydelik in ʼn tweerigtingpad omskep om verkeer op dié hoofroete te herlei.

Die sinkgat het Saterdag verder vergroot waarna die premier en afgevaardigdes besluit het om by die gebied besoek af te lê. Hulle het ook gesinne besoek wie se grensmure weens die sinkgat omgeval het.

Makhura het Maandag tydens sy ondersoek ter plaatse gesê die R55 behoort aan die provinsiale regering en die plaaslike departement van paaie en vervoer is verantwoordelik om vir die herstelwerk op te dok.

Melitah Madiba, woordvoerder van dié departement, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die voorlopige koste om die sinkgat te herstel kan na raming tussen R40 en R50 miljoen beloop en die herstelwerk kan ʼn geruime tyd duur. Sy het gesê volgens geoloë is die sinkgat ondergronds sowat 30 m diep, 35 m lank en 25 m wyd.

Maroela Media het vroeër berig nóg ʼn sinkgat het voorverlede Donderdag deur die loop van die aand op die M24 (Stefanus Schoeman) tussen die R55 en Valhalla naby Erasmia ingeval ná swaar reënval oor Pretoria.

Mpho Borodi (30), ʼn weermaglid, was die oggend omstreeks 04:25 op pad werk toe op dié pad. Hy het gesê dit was donker en hy het nie die gat gesien nie en met sy motor in die gat beland. Hy was ongedeerd en kon self daarin slaag om uit sy motor en die sinkgat te kom.

Ina Strijdom, die DA-raadslid van die wyk, het toe aan Maroela Media gesê die pad gaan vir ʼn onbepaalde tydperk vir verkeer gesluit wees totdat die sinkgat heeltemal herstel is. Kenners, senior amptenare en ʼn geoloog was op die toneel om die omvang van die probleem en die onmiddellike stappe vas te stel.

Die Gautengse departement vir openbare werke is vir die koste vir die herstel van dié sinkgat verantwoordelik aangesien die pad aangelê is toe die weermagbasis daar gebou is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hein ·

Kry iemand anders as vriende om te kwoteer dan is dit goedkoper.

Snuffels ·

Dit is darem baie geld…hoe kom hulle op daai bedrag? Dalk moet hulle kyk wat beteken waarde vir geld…en dit toepas

Oom Kalahari ·

Stem met jou saam Hein, kyk maar wie gaan weer die kontrak bekom en gehalte van diens. Daar is al lank gewaarsku oor dolomiet bedreiging in die area (Laudium) asook verskeie ander areas in en om Johannesburg, maar val op dowe ore. Wag tot iets eers gebeur en werkskepping en kontrakte tot sekeres. Laat daar professionele mense ‘n oorsig doen en verskillende kontrakteurs wat hoogs betroubaar in die bedryf is te laat kwoteer en ordentlike Inspeksies en opnames in onmiddelike gebied te toets vir verdere sinkings te voorkom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.