R699-skema: Eienaar wil WesBank vir R20 miljard dagvaar

Argieffoto

Argieffoto

Albert Venter, eienaar van Satinsky 128, die maatskappy wat in die hof gedaag word oor die R699-motorverkoopskema, wil WesBank vir R20 miljard dagvaar, het Beeld Saterdag berig.

Venter voer aan WesBank het vertroulike inligting van sy finansieringskema openbaar gemaak en gevolglik die vertroulikheidsooreenkoms verbreek.

WesBank was die enigste bank van die vier groot Suid-Afrikaanse banke wat nie by die R699-skema betrokke geraak het nie. Standard Bank, Nedbank en Absa het Satinsky-voertuie gefinansier.

Beeld berig Chris de Kock, uitvoerende hoof van WesBank, het in Julie gesê daar was kommer oor die maatskappy se sakeplan en dit is waarom die bank nie betrokke wou raak nie. Hy het gesê die skema toon kenmerke van ʼn Ponzi-skema.

Satinsky 128 het Donderdag ʼn brief aan WesBank oorhandig en voer aan die bank het op 18 September 2013 vertroulike inligting aan derde partye bekend gemaak. Die name van die derde partye is nie genoem nie.

Venter se prokureurs beweer in die brief hy het weens die openbaarmaking R25 miljard verloor. Beeld berig dit is inligting wat Satinsky aan WesBank verskaf het toe die bank genader is om betrokke te raak.

Maroela Media het vroeër berig Venter dagvaar ook ʼn klant vir R1 miljoen oor naamskending. Hy het die dagvaarding bedien op Cornelia Maria Nel, administrateur van die Facebook-blad, “I have been done in by Drive a New Car from R699 per month”. Klik hier om meer te lees.

Volgens die skema sal motoriste tot so min as R699 per maand aan ʼn motor hoef terug te betaal indien die persoon maandeliks ʼn minimum afstand met advertensieplakkers op die motor aflê. Die skema het in Julie in duie gestort en banke eis nou volle terugbetalings van die klante.

Lees ook:
R699-skema se klasaksie-aansoek afgekeur
Baas van R699-skema dagvaar klant oor laster
Hof hoor dringend oor R699-skema

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Riaan ·

Jou slenter, mnr. Venter, het nou jou tender vir rykdom flenters.

Die kraantjie is nou toe, nou gryp jy na grashalmpies, maar jou kierangtjies gaan braai.

Sterkte aan die slagoffers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.