R700 miljoen aan infrastruktuur in nasionale parke bestee

was die kompak landskap-kategoriewenner in SANParke se jaarlikse fotokompetisie vir 2016

(Foto: Glynis Higgins)

SANParke gaan oor die volgende drie jaar ʼn bykomende R700 miljoen bestee aan opgraderings in sy nasionale parke.

Hapiloe Sello, uitvoerende hoof van SANParke, het gesê die geld is deur die departement van bosbou, visserye en die omgewing bewillig en het ten doel om besoekers se ervaring by verskeie nasionale parke te verbeter.

SANParke bestuur tans ʼn infrastruktuurportefeulje van ongeveer R16 miljard en volgens Sello is die meeste van die huidige infrastruktuur in die 1970’s ontwikkel, met ʼn dringende behoefte vir herkapitalisering.

“Met verskeie infrastruktuur-opgraderings aan die gang word ʼn beroep gedoen op besoekers om geduldig te wees met moontlike vertragings of ʼn gebrek aan toegang, aangesien sommige fasiliteite ʼn opknapping ondergaan. Fasiliteite wat geraak sal word, sluit in toeriste-eenhede, hoofgeboue in ruskampe en paaie in verskeie nasionale parke in sewe provinsies.”

Die volgende projekte word onderneem:

  • Infrastruktuur-opgraderings in die Tafelberg Nasionale Park;
  • Teerpad-instandhouding by die Kaappunt-afdeling;
  • Die Shangoni-ingangshekontwikkeling in die noorde van die Krugerwildtuin sal voortgaan met die bou van rivierkruisings en die opgradering van die grondpad;
  • Die Phalaborwa-aktiwiteitsentrum in die Krugerwildtuin sal verder ontwikkel word om toeriste te akkommodeer;
  • In die Skukuza-ruskamp in die Krugerwildtuin sal 70% (147) van die eenhede opgradeer word;
  • Die hoofgeboue in die Shingwedzi- en Satara-ruskamp in die Krugerwildtuin sal ook opgradeer word;
  • Sowat 40% (66) van die rondawels in die Satara-ruskamp in die Krugerwildtuin sal opgradeer word;
  • Eenhede in die Olifants-ruskamp in die Krugerwildtuin sal ook opgradeer word;
  • By die Punda Maria-ruskamp sal die luukse tente opgradeer word sowel as die staproetes by Sweni;
  • Daar sal 120 nuwe personeelverblyfeenhede in die Krugerwildtuin gebou word terwyl verdere 158 eenhede opgradeer sal word;
  • In die Mapungubwe- nasionale park in Limpopo sal toerismefasiliteite, paaie en heinings opgradeer word en ses nuwe personeelhuise gebou word;
  • Die Nyathi-ruskamp en paaie in Addo Olifant- nasionale park sal opgeknap word;
  • In die Kgalagadi Oorgrenspark sal die Namibiese grensheining en pad opgradeer word en die Twee Rivieren-kampterrein se ablusiegeriewe vervang word;
  • In die Weskus Nasionale Park sal daar ʼn parkbestuurskantoor en nuwe R27-toegangshek gebou word terwyl die Duinepos-chalets opgradeer sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann ·

…..en by elkeen van die projekte sal daar ‘n heffing wees om die ANC se verkiesings veldtog trog vol te maak…

Bevorder geregtigheid - Vrydenker Vlakvark ·

Goeie nuus mits van die fondse nie verdwyn nie. Ook moet die Minister van Polisie onmiddelik daadwerklik doeltreffend en effektief optree want toerisme en kriminaliteit is nie te versoen nie.

Anel ·

Wat van veiligheid? Dit help nie al die plekke word mooi gemaak en geld daarop gemors nie, en niemand besoek doe plekke nie want hul veiligheid kan nie gewaarborg word nie. Verder, hoeveel gaan bestee word aan die diere? Geen diere, geen toeriste!!!!

Charles ·

20 liter verf sal R 100000 kos teen die tyd dat dit op die muur sit..

koos10 ·

Lyk my ek is nie alleen as dit by my gedagtes kom nie. Verkiesing voor die deur. Daai geld kan BAIE stemme koop.

Niklaas ·

Wel , dit klink als heel goed. Mag dit darem binne 10 maande aangepak word .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.