R71 miljoen-tender moet ook ondersoek word, eis DA

Siphiwe Nyanda, voormalige minister van kommunikasie by die Zondo-kommissie (Februarie 2019) (Foto: Karen Sandison/African News Agency/ANA)

Die DA eis dat ʼn R71 miljoen-sekuriteitskontrak, wat sowat dertien jaar gelede sonder ‘n tender toegeken is aan ‘n maatskappy wat met ‘n voormalige ANC-kabinetminister verbind word, ondersoek moet word.

Nuwe getuienis voor die Zondo-kommissie dat Transnet ʼn kontrak van R18 miljoen aan ʼn sekuriteitsmaatskappy toegeken het, wat met voormalige ANC-kabinetminister genl. Siphiwe Nyanda verbind word, werp nuwe lig op ʼn kontrak van R71 miljoen wat die departement van vervoer in Oktober 2007 onreëlmatig aan dié maatskappy toegeken het.

Volgens Bowman Gilfillan-direkteur Christopher Todd het die uitvoerende hoof van Transnet in daardie stadium, Siyabonga Gama, ʼn oop tender vir sekuriteitsdienste gekanselleer om die weg te baan vir General Nyanda Security (GNS) om ʼn bod in te dien en die kontrak is in Desember 2007 toegeken, sê Jack Bloom, die DA se skadu-LUR vir gesondheid in Gauteng, in ʼn verklaring.

“Todd het ook gesê GNS het nie enige vorige bewese prestasierekord gehad nie en was nie by die reguleringsowerheid Psira geregistreer nie. Dit is eers die volgende jaar geregistreer en, meer belangrik, die maatskappy het nie enige werknemers gehad nie.”

Ná Bloom ʼn klag by die openbare beskermer ingedien het, het sy ondersoek ingestel en aanbeveel dat die premier van Gauteng die onbehoorlike gedrag in die toeken van ʼn R71 miljoen-sekuriteitskontrak, sonder ʼn tender, moet ondersoek. GNS Risk Advisory Services se naam is later na Abalozi Security verander en Siphiwe Nyanda was ʼn gedeeltelike eienaar.

“Hierdie kontrak is eers op 16 Maart 2020 gekanselleer deur die voormalige LUR Bheki Nkosi ná ʼn regshersiening bevind het dat die voorgeskrewe aanskaffingsprosesse nie gevolg is nie en dat ander maatskappye die diens teen ʼn baie laer koste kon lewer, maar R71 miljoen is toe reeds aan die maatskappy oorbetaal.

Volgens die openbare beskermer se verslag was daar “geen bewyse” dat Nyanda direk betrokke was om die kontrak te verseker nie, alhoewel die departement sy agtergrond in die sekuriteitsektor in ag geneem het toe sommige kontrakte toegeken is.

Meer as drie jaar ná die openbare beskermer se aanbeveling het die voormalige premier van Gauteng, Nomvula Mokonyane, in Maart 2014 gesê pres. Jacob Zuma het die OB se verslag “ʼn rukkie terug” na haar verwys en sy is “baie tevrede” met die vordering van die ondersoek.

“Dit was tipies van Mokonyane om net lippediens te bied aan korrupte ondersoeke en sy het slegs op die saak reageer omdat ek die OB se verslag aan haar gestuur het en ʼn vraag in die wetgewer aan haar gerig het,” het Bloom bygevoeg.

“Ek sal premier David Makhura vra om op te volg oor die tender wat aan GNS toegeken is en om weer die ondersoek oop te maak indien nodig. Dit is belangrik dat niks onder die mat ingevee word nie en daar moet gevolge wees vir onreëlmatighede wat die belastingbetaler se geld mors.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Juffrou ·

Asseblief ondersoek dit! Hulle dink/hoop om skotvry te kom want dis mos al 13 jaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.