R8 miljoen droogtehulp vir dorre Karoo

Beverley Schäfer tydens ‘n plaasbesoek aan die plaas Elim. (Foto: Verskaf)

Die Wes-Kaapse departement van landbou gaan droogte-ondersteuning ter waarde van sowat R8,3 miljoen aan 586 boere in die sentrale Karoo-streek beskikbaar stel.

Dié aankondiging Maandag volg kort nadat Beverly Schäfer, die provinsie se minister vir ekonomiese geleenthede, toerisme en landbou, verlede Vrydag by drie boere in die Laingsburg-distrik in die Karoo besoek afgelê het. Dié drie boere is tans in hul vierde jaar van die verwoestende droogte.

Die departement bied al ’n geruime tyd ondersteuning aan kleinskaalse asook kommersiële boere in die vorm van voer. Ná ʼn veldassessering in Oktober verlede jaar het die departement egter besluit om dié soort ondersteuning van een keer elke tweede maand tot maandeliks te verhoog. Dié voer sal aan boerderye geskenk word wat gebuk gaan onder kritiese toestande, waaronder die sentrale Karoo.

Bloot in November en Desember het die departement gevolglik byna R8 miljoen per maand aan onderskeidelik 563 en 569 boere in die Karoo geskenk.

“Die boere wat ek ontmoet het, het verskeie idees vir maniere waarop boere in die streek ondersteun en bygestaan ​​kan word. Ons sal dus ondersoek instel oor hoe om dit so goed moontlik te doen,” sê Schäfer.

“Ek het self gesien hoe gras en plante wat gewoonlik weiding vir skape verskaf, verdroog. Hierdie boere is afhanklik van enige voer of skenkings wat hulle van die departement ontvang. Hoewel hulle reeds hul kuddegroottes drasties moes verminder het, is die skenkings steeds nie genoeg nie.”

Lukas Botes van die plaas Elim in die Karoo-distrik vertel dat hy in 2017 reeds honderdduisende rande aan voer bestee het. Terwyl voerskenkings van ander boere oor die hele land instroom, sukkel die ontvangers daarvan steeds om die vervoerkoste te betaal om dit tot by hulle te kry. “Was dit nie vir die hulp van die regering en ander boere wat gratis voer skenk nie, weet ek nie. Ons sou nie hier gewees het nie,” sê ’n dankbare Botes.

Maryke Gouws van die plaas Antjieskraal vertel dat riviere in haar omgewing sowat vyf jaar gelede water gehad het. Hoewel daar ondergrondse water is, moet boere steeds hul boorgate dieper laat grawe. Gouws vertel dat dit nou sowat ’n jaar is sedert haar skape in die veld kon wei.

Chrisjan van der Vyver, by wie Schäfer derdens besoek afgelê het, vertel dat honger bobbejane sy skape begin doodmaak het net om iets te ete te kry.

“Boere word hard getref deur dié ramp en ons doelwit as departement is om stabiliteit en sekerheid te verskaf in ʼn tyd waar daar baie min hiervan is,” sê Schäfer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Will ·

Kan daar nie ‘n sms boodskap geskep word wat jy woord sms na ‘n nommer toe, wat “iets soos” R10 skenk nie. Glo so iets sal baie help.

Moeksie ·

Ja ek dink so sms sal verseker help. Kan iemand dit bymekaar sit asb?

Alta ·

Dankbaar vir Karoo boere en diere. Wat van Noordwes graanboere wat nou 7 jaar droogte het? Botswana kan ingryp by graanboere van hul land. Waar is ons regering? O ja net soos Zimbawe het ons nie ons graanboere of voedselsekerheid nodig nie. Ons land voer in vanaf China. Lekker vuil monstergraad graan wat ons vir si2 massa mense gee as kos. Ons vir jou Suid-Afrika

Khaime ·

Hi Alta dis nie net dier ons as inwoners in Laingsburg distrik het niks water of altans het net modder om te drink

Skokkend ·

Burre Burger verskaf al maande lank voer en water aan boere .. julle kan steeds by hom ‘n bydrae maak. Soek hom op Facebook. Hy doen wonderlike werk. Dankie aan die departement maar dit kom bietjie laat …

sweiz ·

Dit is n goeie gebaar maar ek dink dit het tyd geword om damme te bou en en te belê in ontsoutings aanlegte en pypleidings na die droogte geteisterde gebiede voor dit te laat is.

jaco ·

al die plase gaan dan oor n jaar of 2 onteien word? waarom dan droogtehulp nou gee en dit nogal vir wit boere?

PieterJohannes ·

R14 163.00 per boer. Nou wonder mens wat gaan die arme boere daarmee kan koop? Dit is so goed hy verkoop 10 skape, of hy koop 90 sakke vee lek. Elke boer sal dankbaar wees vir elke bietjie. Nou hoor mens van miljarde wat kort as gevolg van staatskaping en miljarde wat bewillig word vir allerhande snert. Na 4 jaar van droogte belowe ek julle dit kan ongelukkig nie help nie. Ons bid vir uitkoms met goeie reën. Dit is al hoop wat ons boere het. Sterkte aan al ons droogte geteisterde boere. Die stads mens het ongelukkig geen idee waardeur julle gaan nie.

Skroef ·

En R20miljoen vir NOG n standbeeld van mandela en tambo. As daar jie kos is nie, wie gaan die eerste hap van al daardie standbeelde vat?

Jan ·

Nou hoekom prober wit boere altyd om oo plekke soos die karoo te boer waar hulle tog kan suen dis nie moontlik om daar te kan boer nie…dis bloot te droog…

Karel ·

Kyk mooi. Gaan nie ‘n honderdjaar wees nie dan pomp Cyril Rampokker biljoene se hulp in Zimbobwe in terwyl sy eie landsburgers van ellende vergaan.

Karolis ·

MM, iemand het gemeld dat ‘n boorgat nie dieper gegrawe word nie en die kommentaar is later verwyder.
Dit is tog so, jy boor ‘n boorgat dieper.

alida ·

En ek het jou geantwoord en gese Prys eerder die Here vir die hulp en los die foute wat gemaak word uit.

Die Karoo ·

Droogtes is natuurlik aan ‘n dorre landstreek soos die Karoo. Die Karoo sal nooit lowergroen met hope soet drinkwater wees nie. Die Karoo het ‘n natuurlike lae reënvalsyfer. Om hierdie kennis te hê oor die Karoo is belangrik om daar te kan oorleef. Wanneer die reên wel kom is vloede moontlik soos die destydse Laingsburg vloed. Maar die reên is altyd van korte duur en dan is die Karoo weer dor en droog. Gelukkig besef sommige mense dat die weer en klimaat ‘n natuurlike verskynsel is en bestuur hul daaglikse bestaan dienooreenkomstig en neem in ag dat klimaatsverandering verdere implikasies inhou om in die Karoo te kan bly en te oorleef.

Sterkte vir die mense en diere van die magiese Karoo. En baie dankie aan diegene wat hulp skenk aan die Karoo se mense en diere om daar te kan oorleef. Ek help ook.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.